Wanneer plastiese sjirurge met hul borsrekonstruksie-pasiënte praat, maak hulle baie seker die pasiënt verwag nie ’n wonderwerk nie. Onthou nou, word jy baie ernstig aangepraat, die doel is om jou aanvaarbaar te laat lyk wanneer jy ten volle geklee is. Ai. Jy wens half jou wederhelfte was een van die fifty shades of strange-manne wat hou van lakengimnastiek met ’n blinddoek aan.
Jy het pas vrede gemaak daarmee dat duisternis dalk voortaan deel gaan uitmaak van jou sekslewe wanneer die dokter vir jou ’n sprankie hoop gee. Hy gaan baie hard probeer om jou aanvaarbaar te laat lyk in onderklere en swemklere, vertel hy jou. Ha! Dalk kan mens jou manlief daarvan oortuig dat onderklere die nuwe kaal is. Jong, mens weet nooit. Dalk val hy daarvoor as die onderklere mooi genoeg is.
En dan, nadat die sjirurg korte mette gemaak het van enige lawwe illusies, doen hy die ondenkbare: hy gee nog ’n stukkie hoop vir jou terug. Eerste prys, sê hy, is as ons jou aanvaarbaar kan laat lyk sonder klere. Nou ja toe, dan is dit wel moontlik. Goed dan. Een van die drie is vir mens bestem. Wat jy gaan maak met die look wat aan jou uitgedeel word, hang geheel en al van jou af.
Omdat Tweedledee heeltemal te vroeg op pensioen gegaan het, moet ek na James toe teruggaan sodat die bloed en serum uit my rug gesuig kan word. ’n Vet naald is hierby betrokke. Ja. Soos die suster gewaarsku het is James minder beïndruk met die feit dat Tweedledee nie meer met ons is nie. Hy raas nie, maar sy gesig sê alles. Toe hy die naald by my rug indruk, slaan yskoue sweet oor my lyf uit. Mens probeer om nie te dink aan die diepte van die naald in jou rug nie, maar dis half moeilik.
Ek babbel oor dié en daai terwyl die suigery aan die gang is. Dit laat my terugdink aan die dae van chemoterapie toe ek teen tweehonderd kilometer per uur met die susters gesels het terwyl hulle probeer om ’n werkbare aar raak te boor. Toé het ek dit soveel om die susters se onthalwe as my eie gedoen. Ek dink hulle was meer beangs as ek. Hierdie keer is dit net om my eie onthalwe. James is baie nonchalant met daardie dik naald. Geen angs te bespeur nie. Suig die man waaragtig die laaste lekseltjie vog uit my nersderm? Daar was ’n tyd, nie so lank gelede nie, toe ek gedink het ek is ’n stoere boeredogter. Daardie skip het geseil.
Die nierbakkie is driekwart vol skuimerige bloed toe hy uiteindelik die naald uittrek. Ek voel minder ongemaklik, my rug nie meer so styf gespan soos ’n polonie nie. Hierdie proses moet kort-kort herhaal word; die naald sal eers deel van die verlede wees wanneer daar nie meer vog is om uit te suig nie.
James beskou my nuwe bors met ’n kritiese oog. Dié is ’n bleddie mooi boobie, is sy mening. Dit gaan fantasties lyk, veral as die nuwe boobie se jaloerse suster hier aan die linkerkant so bietjie gelig word. Teen dié tyd weet hy ek is in die gewoonte om vir alles name te gee. Wat gaan ons haar noem, wonder hy hardop. H’m. Dit moet ’n koninklike naam wees, is my gevoelentheid. Verkieslik nie Elizabeth nie. Wat van Cleopatra, vra hy. Sy was koninklik én super sexy. Dis die waarheid daardie. Ons besluit dan maar op Cleopatra.
Daardie aand bestudeer ek vir Cleopatra in die aantrekkamer se sagte beligting. Genadige beligting. Die oorgeplante vel se kleur verskil nie meer so opsigtelik van die res van my bors nie. Die wonde is ook nie meer so donker nie en die bors het so bietjie gesak – dit sit nie meer reg onder my sleutelbeen nie. Die vel lyk hier en daar effens gefrommel, soos ’n naat wat te styf getrek is, maar volgens die suster gaan dit beter word sodra die inwendige steke heeltemal opgelos het.
Ek is nog nie op die punt waar ek selfs ten volle geklee aanvaarbaar sal lyk nie, behalwe as ek ’n wonderwerkbra aantrek wat ’n mate van simmetrie bewerkstellig. Doenbaar.
Toe Jaun later die wonde versorg, dink ek aan ’n beter naam. Die nuwe bors sal Aspoestertjie heet, besluit ek. Vir nou. Sy is nou nog lelik, maar gee kans – ek het mos ’n baie macho goeie fee in die vorm van James van der Merwe.
En hierdie, mense, is ’n klok wat nooit twaalfuur gaan slaan nie.