Stoeigeveg
Liesl voel gedreineer na die twee uur saam met Konrad. Hoewel sy baie van sy onthullings lank reeds vermoed het, was dit vir haar moeilik om dit te hoor uit die mond van ’n man wat sy altyd gedink het ten minste integriteit in sy werksituasie het. Sy sal Konrad altyd liefhê, maar die gebeure van die afgelope ruk het die laaste laag van sy verraad afgeskaaf. Hy het ’n kind by ’n ander vrou en sy en haar kinders moes daarvoor boet. Sy moes haar drome vir ’n kunsloopbaan opgee daarvoor. Haar mond voel galbitter. Sy kry Konrad baie jammer en gun hom nie die situasie waarin hy hom bevind nie, maar die ding het haar en die kinders weereens in ’n moeilike posisie geplaas. Die keer in lewensgevaar. Haar kinders moes met Konrad se affairs soms spot van ander verduur. Onseker voel oor hulle ouers se huwelik. Veral toe hy Erna se hokkiejuffrou beetgehad het. As daar een ding is wat die jongste gebeure vir haar duidelik gemaak het, is dat Konrad nie heeltemal die man is wat sy al die jare liefgehad het nie. Die man op wie sy verlief geraak het, was eerlik en opreg. Hy het haar ’n pragtige toekoms belowe. Die man met wie sy getroud was, het haar gedomineer, verkul en seergemaak. Vir baie jare het sy hom elke keer vergewe en teruggeneem. Maar nou voel sy anders. Sy weet sy sal hom bystaan tot hy uit die gemors is, maar sy twyfel of sy hom weer sal terugneem.
Henk respekteer haar stilte terwyl hulle by die tronk se kafeteria koffie drink. Sy weet hy brand om haar uit te vra, maar hy sal later sy inligtingsessie kry as hy saam met Konrad en Interpol vergader. Liesl sal alleen met die taxi terugry stad toe.
Tot haar verbasing gee Henk haar ’n drukkie toe sy in die taxi klim.
“Ek weet dis vir jou moeilik, Liesl. Wees net sterk tot ons hom hier uit kry.”
Die lang pad deur die woestyn terug stad toe vlieg verby. Liesl se gedagtes speel soos ’n rillerfliek voor haar af. Sy is onseker oor hoe Konrad se situasie verder gaan verloop. Al help hy Interpol om die sindikaat vas te trek, sal sy lewe nooit weer normaal kan wees nie. Sulke sindikate het altyd konneksies wat nie saam met hulle aan die pen ry nie. Gaan hulle ooit uit die gemors kom? Vra sy haarself herhaaldelik af. Sy is vies dat sy en die kinders ook aan dié gevaar blootgestel sal wees.
Liesl dink nie eens daaraan om die taxibestuurder te vra om ’n ompad na die hotel te ry nie. In die hotel se voorportaal stap sy ook direk hyser toe. Sy is moeg om ’n rol in ’n spioenasieverhaal te speel.
Vandat sy kan onthou, is ’n bad vir haar helend. Tydens haar kinderjare was hulle soms arm, maar sy het haarself altyd die luukse van ’n lekker bad gegun as haar hart seer was. Dan het sy bietjie kosbare sjampoe in die bad gegooi en lekker skuim gemaak. Dit het nog altyd haar emosies gestreel.
Sy tap die ovaalbad in die hotelkamer vol skuimende water en sink haar tam lyf en siel daarin weg. Vir ’n ruk dink haar brein aan niks. Sy konsentreer nie eens op die sagte klassieke musiek nie. Sy wil net lafenis in ’n lugleegte soek. ’n Plek waar daar niks is en niks saak maak nie.
Haar beswyming in die vakuum word wreed onderbreek toe ’n hand haar kop onder die water druk. Sy stoei en spartel, maar die hand is sterk. Haar mond proe na skuim en sy sien die borrels voor haar oë minder word terwyl haar asemnood groter word. Dan ruk die hand haar aan haar hare uit die water.
Isa …
“Het jy en Konnie gedink julle gaan hiermee wegkom? Hy dink mos hy kan nou weer terugkeer na sy gemaklike lewe? Hy is dom as hy dink in dié ding is daar uitkomkans.”
Isa pluk Liesl uit die bad. Sy druk ’n pistool teen haar kop. “Trek aan! Vinnig, Skat! Jy gaan saam met my op reis. Jou geliefde eks en Henk sal oor ’n paar minute die boodskap kry dat as hy soos ’n voëltjie begin sing, word jou koppie iewers in die woestyn afgeblaas.”
Liesl se brein werk oortyd. Sy pomp Isa hard met die elmboog en gryp na die kandelaar op die tafel. Al haar krag is nodig om dit deur die lug te swaai. Sy hoor hoe dit teen Isa se kop klap. Maar Isa skop die kandelaar uit haar hand en keer Liesl in ’n hoek vas. Sonder om te dink, duik Liesl Isa plat en die twee rol al stoeiend op die mat. Liesl kry ’n styk van Isa se hare beet en die haarverlengings word met bosse uitgetrek. Gelukkig is Liesl se hare nog kort en kry Isa nie vasvatplek nie. Sy voel hoe Isa die oorhand kry. Isa is jonger en beslis superfiks. Maar Liesl veg ter wille van haar kinders. Hierdie gemors moet nou end kry, weet sy. Sy sien nie kans om deur Isa gyselaar geneem te word nie. Met bomenslike krag trek sy ’n koffietafel op Isa om. Dit gee haar tyd om tot by die deur te hardloop. Isa haal haar in en duik haar met ’n hengse slag teen die muur vas. Liesl voel haar wind is uit en snak na haar asem.
“Jy is nogal braaf vir ’n huisvroutjie! Lyk my jy het meer murg in jou pype as Konnie!”
Liesl stik en kry wonderbaarlik ’n asemteug.
“Jy en jou gespuis het my en my kinders se lewens genoeg deurmekaar gekrap. Genoeg!”
Liesl gryp ’n laaste bos hare en klou vir al wat sy werd is. Sy lig haar knie en tref Isa in die maag. Maar Isa se hande sluit om haar keel en na ’n gespartel word dit swart voor Liesl se oë.
“Liesl! Liesl!”
Sy voel water op haar gesig. ’n Vreemde vrou buk oor haar.
“Is jy weer met ons?”
Liesl se oë begin fokus. Agter die vrou kan sy Isa sien. Twee mans hou haar vas.
“Ons is van Interpol. Ons het jou van die tronk af begelei. Sjoe, maar jy het guts! Jy het pas ’n geveg met ’n internasinale spioen oorleef!”
Liesl hoes en voel hoe haar keel brand. Sy sukkel om te praat.
“Wag eers ’n rukkie.”
Isa stoei, swets en sis terwyl die mans haar by die kamer uitneem.
“Moenie dink julle gaan hiermee wegkom nie. Liesltjie, daar wag ’n nare verrassing op jou!”
Liesl besef sy moet haarself regruk en soek dadelik haar selfoon. Sy moet Henk laat weet om Konrad te waarsku. Dit voel soos ’n ewigheid voor Henk antwoord.
“Liesl, ek wou jou nou net bel …”
Sy onderbreek hom en vertel van haar stoeigeveg met Isa.
“Is jy nou veilig?”
“Ja, hier is mense van Interpol by my.”
“Ek het so aangeneem. Kan ek asseblief met een van hulle praat?”
Sy oorhandig die foon aan die vrou wat haar opgehelp het.
Die vrou luister ’n ruk na Henk en stap dan uit op die balkon om die gesprek voort te sit.
“Wat gaan aan? Hoekom kan ek nie hoor waaroor hulle praat nie?”
’n Lang man kom na haar aangestap en neem haar aan die arm.
“Kom sit hier op die bed.”
“Ek wil nie, ek wil my kinders bel en hoor of hulle veilig is!”
“Hulle is, ek belowe jou. Hulle word opgepas.”
Liesl voel daar is iets meer aan die gang as net die nadraai van haar geveg met Isa. Die vrou kom in van die balkon af. Sy knik haar kop bevestigend vir die lang man en kom sit langs Liesl.
“Jy het ’n moeilike dag gehad. Ons was byna nie betyds om jou te help nie. Isa sou jou doodgewurg het. Daar is tee op pad. Dit sal jou keel laaf.”
“Wat gaan aan! Ek kan sien iets gaan aan!”
Die vrou neem haar om die skouer.
“Word nou eers kalm, daar is iets wat jy moet weet …”