Weet jy dat wanneer iemand met jou praat 55% van ons daaglikse kommunikasie deur ons lyftaal oorgedra word, 38% deur ons stemtoon en net 7% deur dít wat ons sê? Of só sê dié wat weet. Ek hoor dié syfers al jare en staan elke keer stom.
Dit het ‘n stokperdjie geword, dié fyn kyk na ander se fronse, gevoude arms, ‘n verbaasde trek . . . en my gunsteling, ‘n voet wat ongeduldig klop. Om nie te praat van fladderende hande en rollende oë nie. “Hou jou in,” dink ek dan en hou my wysvinger in toom wat dadelik wil reguit trek met ‘n hard en duidelike: “Stop dit nou!” Ek glimlag breed, maar is maar alte bewus dat my oë nie altyd dieselfde vreugde deel nie.
So gebeur dit, dié vergadering. Ek ken die manne aan die ander kant van die tafel al ‘n paar jaar en hou hulle fyn dop. ‘n Paar met spesifieke idees oor die rol van die man en die vrou by die huis én by die werk, het ek ook al agtergekom. Vir die vroue is hulle “Meneer”, die manne noem hul op die naam. Die eerste in die vertrek gaan sit aan die bopunt van die tafel, duidelik die hoof van die huis, die ander flank hom regs.
Ek voel hoe my nekhare een-een orent spring. My soldate, gewapen en reg vir die geveg wat wag.
“Koffie?” vra die een en kyk eers na sy kollega. Kollega kyk nie op van sy iPad nie, brom ‘n ja. Dan knik hy in my rigting, sy woorde ontbreek maar ek weet gelukkig dis ‘n “jy ook”. Dankie, dink ek, uiter geen woord nie. Knik net gemaak-glimlaggend in sy rigting.
Hul praat (met mekaar) oor koeitjies en kalfies, die naweek se rugby en vergeet dat ek die gas in die vertrek is. Tot die koffie kom. Die hoof van die huis sê-vra: “Skink vir ons?” Die soldate in my nek dadelik op aandag. Ek antwoord: “Ek dink ons doen dit sommer elkeen self.”
Vandaar is die gesprek strammerig. Dan trek die hoof van die huis sy skouers terug, skuif sy stoel drie sentimeter agteruit en sê in ‘n kansel-stem: “Ons is nie baie gelukkig nie. Jy sal jou werkwyse moet aanpas om by ons te pas.”
In kort, word soos ons. Die soldate in my nek haal hul gewere oor. Ek stoot my stoel ferm agteruit, bewus dat my lyf meer sê as wat ek moet. “Jammer. Dan onttrek ek liewer.”
Dis inkomste wat jy sal verloor, sê die een. Jy sal terug wees, sê die ander. Die soldate in my nek rus op die plek.
“Geld is nie alles nie. Dankie, maar nee dankie.” Die soldate juig.
Met uitstap wonder ek wat dié twee op Vrouedag gaan doen. Ken hulle die storie van dít wat op 9 Augustus 1956 in Suid-Afrika gebeur het? Dis die storie van ‘n groep brawe vroue wat in opstand gekom het om ‘n einde te bring aan die paswette wat deur die destydse regering afgedwing is. Sophia Williams-De Bruyn, Lilian Ngoyi, Rahima Moosa en Helen Joseph het die opmars gelei en saam met honderde ander die krag van lyftaal en stilte gebruik om hul stem te laat hoor.
En dan sing hulle. Dis op die maat van daardie lied wat die soldate in my nek nou dans: Wathint’ Abafazi Wathint’ imbokodo! Now you have touched the women, you have struck a rock. Noudat jy die vroue aangeraak het, het jy ‘n rots getref.
O ja. En skink volgende keer keer asseblief jou eie koffie.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za