Menige ouer gooi hande in die lug oor ’n kind wat nie wil leer nie, nie presteer nie en heeltemal ongemotiveerd is.
Ouers verstaan dit nie, want “ons doen alles om dit vir hom makliker te maak. Hy kry al die geleenthede wat ons nooit gehad het nie. Ons het al alles probeer: ekstra klasse, studiekursusse, raas en baklei, die werk vir hom opgesom, hom gehok, televisie verbied. Maar tevergeefs”. Maar onthou, kinders doen goed as hulle kan, en wil meestal graag hul ouers en onderwysers tevrede stel. Kinders, veral kleintjies, wat ongemotiveerd is, het dikwels ’n probleem.
Party kinders het nie die vaardighede om te presteer nie, en dikwels kry hulle ongelukkig die etiket dat hulle ongemotiveer, moedswillig of stout is. Hulle kry soveel negatiewe terugvoer dat hulle later sulke etikette begin uitleef. Sielkundiges het bevind dat kinders wat geprys word vir hul pogings en insette, eerder as oor hoe slim en oulik hulle is, meer gemotiveerd is en beter presteer. Dis baie belangrik hóé kinders geprys en beloon word. Wanneer hulle net geprys word vir die eindresultaat en nie vir hul insette nie, word hulle gou moedeloos as die resultaat nie na wense is nie.
Belonings of straf?
Dit help baie meer om positiewe gedrag te beloon as om negatiewe gedrag te straf. Belonings kan ekstrinsiek of intrinsiek wees. Ekstrinsiek doen hy dit ter wille van iets buite homself, soos sterretjies, om geprys te word of om iets te kry.
Intrinsiek doen hy dit vir sy eie gevoel van tevredenheid en prestasie. Dis die beste soort motivering en ’n kenmerk van gemotiveerde mense. Prof. Coley Lamprecht sê kinders raak dikwels afhanklik van belonings om hul gemotiveerd te hou en leer nie om verantwoordelikheid vir hul werk te aanvaar nie. Hy sê belonings kan gebruik word om kinders aan te moedig om wel die ervaring van sukses te smaak, maar moenie ’n gewoonte word nie.
Belonings moenie vooraf met die kind onderhandel word nie en moet in verhouding tot die uitdaging of prestasie wees. Dit mag nooit ’n troosprys of plaasvervanger vir ouerlike aandag wees nie.
Waarom is kinders ongemotiveerd en sukkel hulle?
Kinders wat sukkel om te leer, leer dikwels om te sukkel. Jy moet weet waarom is jou kind ongemotiveer? Wat is die probleem?
- Kinders sukkel met vaardighede: Die kind moet talle vaardighede ontwikkel om die eise wat die samelewing, skool of universiteit stel, te kan hanteer.
- Kinders sukkel met die sinvolheid van wat hulle moet doen. Wat is die sin van die werk of take? Hoe hou dit verband met die toekoms? Watter waarde het opvoeding en geleerdheid?
- Kinders sukkel met hulself, met geloof in hulself, selfvertroue, emosionele intelligensie en hul eie negatiewe emosies.
Vaardighede wat kinders nodig het
- Perseptuele vaardighede: Groot en klein motoriese vaardighede, visuele (oë) en ouditiewe (ore) vaardighede en hand-oog koördinasie. Slim kinders se visuele persepsieprobleme (dis nie sigprobleme nie) word selde opgespoor. Hulle het dan ’n swak visuele geheue en leer minimaal deur hul oë.
- Skolastiese vaardighede: Dis skryf, reken, spel, luister en lees. Kinders luister en lees nie meer goed en genoeg nie. Dikwels gaan byna al hul intellektuele kapasiteit in die leesproses in om net agterte kom wat daar staan, en bly daar min oor vir hoër orde denke soos verstaan, die maak van afleidings en onthou.
- Studiemetodes: studiehouding en -gewoontes speel ook ’n rol.
- Taalvaardighede: Woordeskat en uitdrukkingsvermoë in taal is soms gebrekkig. Die kind verstaan nie altyd die vrae nie, of het nie die woordeskat om dit wat hy weet, behoorlik te kan verwoord nie.
- Aandag en konsentrasie: Kan hy konsentreer en aandag gee, of word sy aandag deur dinge en geluide afgetrek? Of deur sy eie gedagtes en emosionele reaksie? Of is hy impulsief en maak talle onnodige foute?
- Emosionele vaardighede: Die belangrikste emosionele vaardighede is seker selfbeeld en selfvertroue. Ander vaardighede soos onafhanklikheid, verantwoordelikheid, probleemoplossing, streshantering, optimisme, aanpasbaarheid, prioritisering, tydsbeplanning en om belonings te kan
- Intellektuele vaardighede: Wat is sy aanleg? Het hy die vermoë om die vakke baas te raak? Kan hy logies, analities en abstrak dink, driedimensioneel sien en taal en figure gebruik om afleidings te maak? Hoe is sy kort- en langtermyngeheue en woordeskat ontwikkel?
Dis so maklik om kinders se fronte van aggressie, onttrekking en ek-voel-’n-veer–houding mis te verstaan as gemik teen sy ouer of onderwyser. En so moeilik om die seer en vrees van soveel vorige mislukkings en vernederings raak te sien. Soveel kinders wat dalk sukkel om te lees of te leer, het al soveel keer die boodskap gekry: “Ek is nie goed genoeg nie”, “amper almal vaar beter as ek”, “ek is stadig”, “ek is dom”, “ek kan met moeite nie doen wat die meeste ander nie eens oor hoef te dink nie”, “ek is nikswerd”.
Soveel kinders ervaar hierdie verwerping daagliks. Dis belangrik dat kinders én ouers se verwagtinge realisties moet wees. Ouers moet seker maak hulle tref ’n onderskeid tussen onaanvaarbare gedrag en die kind: Is dit treurige werk of ’n treurige kind?
Kinders reageer gewoonlik deur die mislukking te vermy in ’n poging om selfrespek te behou, of blameer iets anders: die onnie, die moeilike toets of werk, die ander kinders wat raas. Of hulle maak die werk af: “Dis simpel, ek gaan dit nooit gebruik nie.” Hulle kan selfs die onderwyser of ouer wat mislukkings keer op keer aan hulle opdwing, verwerp. Maar dit raak sleg as hulle die intellektuele vaardighede wat hulle nodig het om logies te dink en ontwikkel ook verwerp.
Soms ontwikkel ’n kind ’n sielkundige struikelblok. Hy het dikwels die voorkennis of vaardighede om iets (soos ’n som) te kan doen, maar dit gaan eerder oor wat die som vir hom simbolies verteenwoordig: mislukking keer op keer, vernedering, spot, pyn? Sommiges neem ’n selfvernietigende posisie in: “Ek is ’n mislukking” – met geweldige skade aan sy selfbeeld. Dis vir so ’n kind minder pynlik om die straf te vat van werk wat nie gedoen of geleer is nie, as om die moontlikheid te verwerk dat hy leer en steeds misluk. Dis ’n doodloopstraat sonder hoop. As hy versuim, het hy nog die hoop dat as hy probeer, dit anders kan wees.
Hoe help jy ’n kind om gemotiveerd te raak?
- Maak seker watter vaardighede en kennis die kind nodig het om sukses te behaal. Bepaal jou kind se probleme en sterk punte en hoe sy haar sterk punte beter kan benut en haar swak plekke kan ontwikkel.
- Daar is min dinge wat soveel motiveer soos erkenning. Elke mens het ’n behoefte daaraan. Baie ongemotiveerde kinders voel dit help nie om te probeer nie. Hul prestasies is net nooit goed genoeg vir hul ouers nie. Gee erkenning aan kinders se idees of werk met woorde, plakkate, sterre, belonings.
- Hy moet die relevansie van die werk of die vak vir die toekoms en vir persoonlike en intellektuele ontwikkeling verstaan.
- Werk hard aan ’n goeie ouer-kind verhouding. Doen lekker goed saam.
- Stel belang in jou kind se lewe, belangstellings, skoolaktiwiteite, toekomsdrome.
- Skep vir ’n kind ’n veilige ruimte – ook om foute te maak, te waag, te probeer, te eksperimenteer. Hoe veiliger hy voel, hoe groter is die kans dat hy sal probeer, groei en ontwikkel.
- Verwag en skep geleenthede vir sukses. Leer hulle dat doelwitte en harde werk vrugte afwerp. Leer hulle dat om in jouself te glo, te dink, planne te maak en weer te probeer, belangriker as die resultaat is.
- Ondersteun die skool en wees positief oor die onderwysers. Werk saam met hulle. Kinders neem nie onderwysers en die leergebeure ernstig op as hulle dink die onderwyser is ’n nikswerd nie. Moenie probleme met onderwysers voor kinders bespreek nie.
- Moenie ’n doemprofeet wees en hom vertel van al die negatiewe dinge wat gaan gebeur as hy nie presteer nie. Fokus op die wonderlikhede wat sukses moontlik maak.
- Sien en kommunikeer mislukkings as nuwe leergeleenthede.
- Bevorder onafhanklikheid en verantwoordelikheid. Jou kind moet tuis verantwoordelik wees vir sy gedrag en sekere takies – dit kweek selfdissipline. ’n Kind se gewete endie verantwoordelikheid vir sy sportprestasies, huiswerk, of dat hy sy werk ken, mag nie aan die ma uitgekontrakteer word nie.
- Maak seker dat hul lewe ’n basiese balans het, dat hulle reg eet, genoeg slaap, rus, ontspan, sosialiseer en oefening kry.
- Wees konsekwent en hou by jou dreigemente en beloftes, anders neem hulle jou nie meer ernstig op nie en hoef hulle ook nie hul deel te doen nie.
- Stel realistiese doelwitte. Help hulle om dit op te breek in kort- en langtermyndoelwitte.Bou geleenthede vir suksesse in en vier dit. Gee hulle genoeg vryheid om dit self te doen, maar monitor die realisme en vordering daarvan. Plak die doelwitte en studie- en tydsbeplanning iewers in die huis op, dan weet almal wanneer wat moet gebeur.
- Help jou kind om self die slaggate te bepaal: wat steel sy fokus, energie en tyd? Hoe kan hy dit vermy en bestuur?
Die ergste wat ’n ouer kan doen, is om sy kind te versmoor. Dit gebeur gewoonlik met die beste bedoelings.’n Ouer moet ’n kind help deur hom te ondersteun, ’n infrastruktuur vir deelname, leer en prestasie te skep, om doelwitte te stel en rigting te gee om verantwoordelik besluite te neem. Help hulle om baie opsies en planne te genereer, maar laat hulle self kies. Keuses gee kinders beheer oor hul lewe en help hulle om verantwoordelikheid vir hul optrede te aanvaar. Om dinge vir hulle te doen en besluite vir hulle te neem, motiveer nie. Dit steel hul geleenthede om uit hul foute te leer en selfvertroue te ontwikkel.
Ouers moet daar wees as ondersteuning om op terug te val, nie die een wat die aksie dryf en bepaal nie, maar as die positiewe rolmodel van iemand wat optimisties doelwitte stel en in die toekoms glo. Dis moeilik vir kinders om met optimisme hard te werk vir ’n toekoms as hulle voortdurend hoor hoe daar in hierdie land vir hulle geen toekoms en hoop is nie.
Barbara Kingsolver skryf oor ’n interessante ondersoek waar daar gekyk is watter faktore het studente wat presteer, moontlik beïnvloed. Die enigste gemeenskaplike faktor tussen die presteerders was dat daar in hul huise gesinstyd is en een ete per dag saam aan ’n tafel geëet word. Dit sê baie van tyd saam en die verhouding met hul ouers. Vir ’n kind wat geloof in sy eie vermoë tot sukses verloor het, is die herstel van ’n gevoel van aanvaarding en veiligheid ’n voorwaarde vir verandering.
Al die kennis van wat hy moet doen, hoe dit gedoen moet word, waarom dit nodig is, is waardeloos om hom uit die verlammende greep van “ek is ’n mislukking” te verlos. Verandering is ongelukkig ’n stadige en ’n moeilike proses met min oornag wonderwerke. Daarom moet jy op die positiewe fokus en elke klein stukkie vordering soek en erken. En nie moed verloor met terugvalletjies nie.“Hier is ons al weer net waar ons was.” Fokus op die groter prentjie.
Kinders mag nie voel hulle word met ander vergelyk en veroordeel nie. Die eerste ding wat jy kan doen om ’n kind te motiveer, is dat sy sal weet en voel dat jy lief is vir haar. Kinders weet wanneer iemand omgee, verstaan, hulle onvoorwaardelik aanvaar en respekteer. En dit kan ouers net doen as hulle selfrespek het en self veilig en waardig voel.
Lees ook: Aktiewe kinders is slimmer kinders