Om ’n aktrise én ’n gelukkige mens te wees verg nogal ’n balanseertoertjie. Jy moet uiteenlopende karakters oortuigend kan speel sonder om jouself te verloor. Jy moet die publiek ’n kykie in jou lewe gee sonder om jou privaatheid in te boet. Jy moet die glansbeeld wat van jou geskep word, versoen met die feit dat vryskutakteurs nie aldag werk het nie. Jy moet aanvaar dat die oppe en affe in jou lewe – of dit nou te make het met jou verhoudings of met jou gewig – deur die wye wêreld raakgesien en bespreek word. En dan moet jy nog op aanvraag motiveringspraatjies kan hou!
Elma Postma vier vanjaar 16 jaar in die vermaaklikheidsbedryf. Sedert 2000 het haar werk van die sepiestel uitgekring na die radio, verhoog, opvoedkundige en bedryfsteater, TV-dramas, aktualiteits- en realiteits-TV, advertensiewerk, die rolprentskerm, asook optredes by gesellighede.
Maar nog indrukwekkender as haar CV is Elma se groei as mens. “Ek is ’n gewone vrou,” sê sy terwyl sy openlik oor haar loopbaan, haar keuses, en haar reis met haar lyf gesels. Baie vroue kan hulle vereenselwig met die kwessies waarmee sy stoei, maar haar benadering is ongewoon. Pleks van rigiede verwagtings aan die lewe te stel, laat sy haar verras. Sy verkneukel haar in vreugdes soos haar onlangse verlowing en maak ’n plan met uitdagings soos die kilogramme wat sy wou afskud.
“Ek wil besluite neem wat my waardes en behoeftes weerspieël. Ek is in ’n ligter fase van my lewe, en ek wil baie lag!”
Kyk hoe lyk Elma nou
Elma se lieflike latlyfie vang dadelik die oog. “Dit gebeur met baie vroue: jy sit so stadig maar seker gewig aan, nie te veel nie, net so ’n bietjie op ’n slag. En eendag, twee jaar later, is jy vyf kilogram swaarder. Jy besef as jy nie nóú gaan omdraai nie, kan dit dalk te laat wees!
“Ek het in Desember ’n klomp gewig verloor. Ja, dit is die moeilikste tyd van die jaar om dit te doen, maar ek het my afgevra: wil ek nog vyf weke wag? Ek was desperaat en wou op die daad ’n verandering maak. As jy net eers jou kop regkry, is dit makliker.
“Ek was seker op twintig Kerspartytjies en het net op Kersdag en Nuwejaarsdag voor ’n drankie en ’n soetigheid geswig. My vriende het aanvanklik vir my gelag, maar toe hulle agterkom ek is ernstig, het hulle my ondersteun. Ek was bedagsaam – ek het almal verseker hulle kon eet soos hulle wou. Ek het selfs vir hulle brood gebak!”
Om weke lank by ’n streng dieet te hou, is geen grap nie. “Ek is ongelooflik lief vir kos. Ek is mal oor kosmarkte en oor kosgeure in die huis, en ek kuier graag in die kombuis terwyl ek kos maak. Wanneer ons Mooiloop! skiet, eet ons twee maal per dag in ’n restaurant. Ja, ek kan seker ’n slaai bestel, maar gaan ek dit doen? En as daar in ’n asemskepoomblik ’n stuk koek voor my beland,
is die vraag: gaan ek hom los as ek hom eers geproe het?
“Die kosversoekings stoomroller ons vroue. As jy die dag eers een keer ge-cheat het, eet jy die res van die dag verkeerd. Die ideaal is om ’n leefstyl te volg wat goed is vir jou lyf. En om na jou liggaam te luister. Ek luister gewoonlik na die skaal!”
Is dit goed dat vroue se eiewaarde so nou met hul gewig saamhang?
“Dis dalk onnodig, maar dis hoe ek dit ervaar. Wanneer ek ligter voel, voel ek beter oor myself. Maak nie saak hoe maer ek is nie, ek voel soms steeds te vet.
“Ek het van kleins af die mooi modelle en die tydskrifte dopgehou en gedink dis hoe ek moes lyk. Ek onthou ’n pynlike voorval: Toe ek in graad vyf was, was modelwerk een van my buitemuurse aktiwiteite. Die juffrou het vir my ma gesê ek is nie maer genoeg om ’n model te wees nie, en ek het die gesprek gehoor.
“In die vermaaklikheids-bedryf kan jou gewig bepaal of jy werk kry of nie. Toe ek my eerste oudisie gaan doen nadat ek drama geswot het, het die regisseur gesê: ‘Die kamera hou van jou gesig. Maar gaan verloor eers 10 kg en kom dan terug.’ Dit was vir my ’n slag. Ek was goed genoeg vir die werk, maar nie maer genoeg nie.
“Daar is vroue wat hulself ten volle aanvaar al is hulle voluptuous. Ek funksioneer beter as ek gemaklik voel in my lyf. Ek is skielik bereid om iets aan te trek wat stywer sit, en dis asof ek ’n vriendeliker mens is en makliker oogkontak maak. As ek tydens Mooiloop! nie heeltyd wonder of my klere reg lyk nie, verskuif my fokus van myself na die mense met wie ek gesels. Dis wat éintlik van belang is.
“Ons almal begeer aanvaar-ding. Dit bly maar ’n stryd: moet jy eerstens daaroor begaan wees of ander van jou hou, of eerder jou eie lewe verryk en die beste mens wees met dit wat jy het? As jy ouer word, is jy vandag in elk geval die mooiste wat jy ooit gaan wees. Die ideaal is om jouself te omarm en lief te raak vir jouself.”
Oor haar loopbaan
“Om in ons bedryf suksesvol te wees moet jy verskriklik sterk wees. Wanneer iemand na aan jou siek word of sterf, moet die show voortgaan. Jy moet selfkritiek én ander se kritiek kan hanteer, plus die onsekerheid van tye sonder werk. Soms wens ek ek het elke dag geweet waar my volgende salaristjek vandaan gaan kom.
“Die positiewe is dat jy leer om gereed te wees vir enigiets. Geleenthede kom onverwags. Ek dink mooi oor elkeen na en as ek dit aanvaar, doen ek dit met my hele wese. Maar ek wil op die punt kom waar ek nie hoef te wag vir iemand om vir my werk te gee nie.”
Om dié rede het Elma tussen twee reekse van Boer soek ’n Vrou ’n voltydse, ses maande lange kursus voltooi en as grimeerkunstenaar gekwalifiseer. “Ek is lief vir grimering en dit bring my kreatiewe sy na vore. Dis lekker om vir vroue te wys hoe mooi hulle eintlik is en hoe hulle ’n Saterdagoggend-, werk- en aand-look kan skep.
“Vanjaar doen ek ’n aanlynkursus in binnenshuise ontwerp by die Interior Design Institute. Die kursus word internasionaal erken. Wanneer ek toneel speel of iemand grimeer, voel die ervaring vir my net tydelik, maar as ek ’n pragtige, funksionele omgewing kan skep, laat ek iets blywends agter.”
Elma se tweede eenvroustuk, Semi’naar’: die Masker maak die Mens, is ook gebore uit die behoefte om ’n stabieler bron van inkomste te hê. “Die stuk is op ’n roll. Ek was nog altyd ’n skamerige, bangerige mens, maar soms dink ek nie te veel oor ’n intimiderende projek nie – ek doen dit net. Dan kom ek agter ek kán dit doen. Met hierdie stuk is ek alleen en ontbloot op die verhoog. Dis net ek en die gehoor se reaksie of nie-reaksie. Dit word nooit maklik nie – my maag draai steeds. Maar wanneer die gehoor hóór wat ek sê, is dit wonderlik.”
Omdat ’n vryskut-aktrise selde weet wanneer watter werkgeleentheid gaan opduik, is dit vir Elma moeilik om vooruit te beplan.
“Jy dink heeltyd aan opsies en maak planne oor hoe om dié of daardie nuwe projek aan te pak. Jy sluit eintlik nooit af nie, al sit jy dae lank by die huis. Jy wag vir daardie oproep of e-pos wat moontlik kan deurkom, en voel skuldig as jy die dag voor die televisie wil deurbring of sommer net niks wil doen nie.
“Daarom het ek bepaalde rustye begin beplan. Ek weet lank vooruit dat ek op my rus-datums nie beskikbaar vir werk is nie, en as ek werk kry, probeer ek dit hiervolgens reël. Mense respekteer dit as jy onmiddellik vir hulle beskikbare datums kan gee. Dit het ’n groot las van my skouers afgehaal en ek gun myself nou my afsluittye. Dis finansieel dalk nie altyd die beste besluit nie maar in terme van lewensgehalte maak dit sin om selfsugtig met jou tyd te werk – veral wanneer jy oor ’n gesinsvakansie moet besluit.
“Ek het ook al ’n boek of wat gelees oor die feit dat administrasie of die sosiale media jou lewe kan oorneem. As ek skryf, repeteer of studeer, probeer ek om slegs op die taak voor my te fokus. Ek sit my foon eenkant en herinner my daaraan dat ek nie elke liewe e-pos dadelik hoef te antwoord nie. Daarvoor sit ek ’n bepaalde tyd van die dag opsy. Dis nie vir my maklik nie – dis ’n daaglikse oefening en verg nogal dissipline!
“Dit val my al meer op hoe geleenthede op die regte tyd kom. My werk is dikwels van toepassing op my lewensreis. Daarom probeer ek om uit my boksies te klim en saam met die stroom te vloei.”
En die man wat die vintage-verloofring aan Elma se vinger gesteek het? Sy verklap net dat sy naam Paul is. “Kom ons bewaar die misterie. Ek is baie gelukkig om iemand te hê met wie ek alles kan deel. In ons verhouding kan ek ’n volronde mens wees. Ek het vlerke om te vlieg en ’n veilige landingsplek by hom. Maar dis my stukkie van die lewe wat ek toevou, my privaatheid.”
Elma geniet die fotosessie en vonkel en speel met die kamera, maar die glansfoto’s definieer haar nie.
“Baie mense dink glans beteken om op die rooi tapyt of op tydskrif-voorblaaie te wees. Maar het glans nie te make met dit wat binne-in jou gebeur nie? Ek weet maar te goed hoe bedrieglik daardie fifteen minutes of fame is.