Stefan* het al die jare ’n A-simbool in wiskunde behaal. Toe word hy aan die einde van graad tien siek en die onderwyser help hom nie om die vier weke se werk wat hy gemis het, in te haal nie. Sy wiskundepunte het die volgende jaar met drie simbole teruggesak,” vertel sy ma.
Sy ouers het gedink dis net ’n tydelike insinking en Stefan het sy bes gedoen om sy punt te verbeter. Maar tevergeefs. Sy ma vertel hy was in sy laaste twee skooljare ’n emosionele wrak voor wiskundetoetse en -eksamens. Bleek, naar, bewerig en gespanne. Hy het ekstra wiskundeklasse by ’n afgetrede wiskunde-onderwyseres geneem en sy ouers het hom baie aangemoedig.
“Teen dié tyd het Stefan begin glo dat hy nie meer goed in wiskunde kan doen nie. Dit was asof hy ’n emosionele blok begin ontwikkel het; ’n vrees vir dié vak waarin hy eens presteer het. Boonop het hy ekseem op sy gesig begin kry wat volgens die dermatoloog die gevolg van uiterste stres was.
“Hoewel Stefan wiskunde met ’n E-simbool in matriek geslaag het, was hy ontevrede met sy punt en bly die vrees vir hierdie vak hom drie jaar later steeds by.”
Hoekom kry leerders angs?
“Wiskunde-angs by leerders is aan die toeneem. Hierdie leerders lyk angstig, party is bleek en bewerig. Ander se oë is groot en hulle staar. Sommige kom stadig aan die gang. Vroeër was leerders bang vir die kwaai wiskundeonderwyser. Deesdae het leerders ’n vrees vir onderprestasie of mislukking,” sê Aletta Els, wiskundeonderwyseres wat al dertig jaar onderwys aan die Hoërskool Bonnievale gee.
Aletta sê dit is dikwels die harder werkers wat angstig word. Leerders wat gewoonlik op memorisering ingestel is, voel ook baie kwetsbaar. Angs kan regstreeks met ’n vrees vir die onbekende verbind word. In ander vakke weet die harde werker hy sal kry wat hy geleer het. Maar ’n wiskundevraestel het weinig bekende vrae. Die leerder moet self oordeel en besluit wat hy moet doen en hoe.
“’n Ander rede vir angs by leerders is die vreeslike premie wat die media op die belangrikheid van wiskunde plaas. Die boodskap is dat almal wiskunde kan doen. Leerders dink dan daar is groot fout met hulle as hulle dit nie so ervaar nie. Maar wiskunde is nie maklik nie en vereis analitiese denke. Almal kan nie in wiskunde presteer nie en jy moet meestal 50% kry om ná matriek iets met die wiskunde te doen. En dit plaas al hoe meer druk op die leerders wat aan wiskunde-angs ly.”
Geboorteproses en wiskunde-angs
Daar is ’n verband tussen die geboorteproses en kinders wat aan wiskunde-angs ly, het dr. Lorna Geer, ’n voorligtingsielkundige in Centurion vasgestel.
“Vir nege maande voor geboorte voel die baba gekoester en versorg in sy ma se liggaam. Die reis deur die geboortekanaal gaan met geweldige drukking en pyn gepaard. Drukking op die naelstring veroorsaak ’n tekort aan suurstof wat ’n intense vrees en gevoel van naderende dood skep. Ná geboorte word die baba van die ma weggeneem, wat vir die onbewuste doodgaan simboliseer en aan harde geluide en opgewonde stemme gekoppel word.
“Hierdie geboortevrese kom na vore sodra iemand druk ervaar. Die onbewuste onderskei nie tussen werklike gevaar en die herinnering aan ’n bedreigende ervaring uit die verlede nie. Met wiskunde-eksamens ervaar kinders geweldige druk en is aan maats se harde, opgewonde stemme blootgestel. Geboortevrese kom na vore en die fokus word van wiskunde af verplaas na oorlewing sodat die kind alles vergeet wat hy oor wiskunde geleer het. Eers ná die wiskunde-eksamen kan hy weer op die wiskunde fokus – wat dan te laat is.”
Ander faktore wat tot angs lei
“Kinders leer 99% van voorbeeld en as ouers – wat ook met wiskunde gesukkel het – ’n negatiewe houding oor wiskunde het, gaan hul stemtoon en houding dit wys en gaan die kind ’n vrees en negatiewe konnotasie met wiskunde toon,” sê dr. Geer.
Onderwysers se kennis en begrip van wiskunde, sowel as hul empatie met ’n kind wat met wiskunde sukkel, speel ’n belangrike rol in leerders se houding teenoor en prestasie in wiskunde. ‘Jou wiskunde is hopeloos’ of ‘hoe gaan jy dit ooit deurkom?’, kan ’n kind se selfbeeld vernietig. As ’n kind eers glo hy is nie goed genoeg nie, takel dit sy selfbeeld af en ontwikkel hy ’n ‘sielkundige blok’.
Selfvertroue en wiskundeprestasie gaan hand aan hand.
“’n Kind moet sorg dat hy eers die wiskundetaal onder die knie het. Sodoende sal hy verstaan wat presies gevra word en nie sukkel om die vraag te beantwoord nie.
“As ’n leerder baie afwesig was, of emosioneel ontwrig is, raak hy maklik agter en ontstaan daar gapings in sy wiskundekennis. Hy verstaan skielik nie meer waarvan die onderwyser praat, of wat hy moet doen nie. Nou begin hy twyfel aan sy wiskundige vermoëns en ’n vrees vir wiskunde ontwikkel.”
Hoe onderwysers kan help
“Ek glo 80% van onderrig moet op die basiese vaardighede en prosedures gerig wees en daarom moet basiese vaardighede eers baie goed vasgelê word voordat moeilike vrae aangepak word,”
sê Aletta.
Daarom probeer sy reeds in die onderrigfase die leerders help om ’n “padkaart” vir elke prosedure te kry en vas te lê. Sy glo as leerders die roetineprosedures vaslê, hulle met meer selfvertroue die onbekende probleme kan aanpak. Begrip kom dikwels ná vele herhaling.
Leerders wat onvoorbereid klas toe kom, is vir Aletta een van die grootste struikelblokke. Elke les bou op die vorige en as die werk nie stuk vir stuk van onder af gebou word nie, word daardie gate nooit weer opgevul nie.
“Ek help my leerders deurdat ek een of meer vrae net so uit hul werkboeke vra. Ek gee ook ’n uiteensetting van die vraestel sodat hulle breedweg kan weet wat in watter vrae getoets gaan word. Dis bloot ’n poging om hulle te help om doelgerig voor te berei.”
Boonop vind Aletta ook dat barokmusiek party leerders rustiger maak. Maar die volume is baie belangrik – te hard of te sag steur.
*Skuilname
Lees ook: ‘n Veiligheidsgids vir jou kind se eerste slimfoon