Party van ons kyk saans klokslag om 7.00 na die TV-nuus. Baie mense is ingestel op aanlyn-nuusvoer en inligting wat op sosiale platforms deurkom, of luister na radioberigte in die motor. Dan is daar dié wat koerante en ander nuuskanale soos die pes vermy. Hoe doen jý dit?
Die oordrag van nuus het die afgelope eeu of twee ingrypend verander. Van hoeveel aardbewings, vloede, oorloë en massamoorde het ons voorouers 200 jaar terug geweet? Vandag het ons nie net 24 uur-nuusdekking nie, maar satelliet-TV kom sit volkleurbeelde van dit wat oral op die aardbol (en soms selfs in die ruimte) skeefloop, reg voor ons neuse neer.
Natuurlik leef ons in’n global village, en in ’n sekere sin raak alles wat op aarde gebeur elkeen van ons. Die vraag is: aan hoeveel en aan watter soort nuus stel jy jou bloot, en watter uitwerking het dit op jou?
Kyk krities na beriggewing
Wanneer twee mense dieselfde motorongeluk waarneem, kan hul beskrywing daarvan hemelsbreed verskil. Dieselfde geld joernaliste en die netwerke waarvoor hulle werk. Party kenners meen dat nuusberigte die afgelope 20 tot 30 jaar met al meer negatiwiteit beskryf word: die cliché lui nie verniet ‘If it bleeds, it leads’ nie. Nuuskanale ding met vermaaklikheidsprogramme om kykertalle mee, en kleur baie keer nuusberigte emosioneel sodat dit die verbeelding sal aangryp.
Bly in voeling met jou liggaam en emosies wanneer jy met nuusberigte te doen kry
Wanneer jy na nuusberigte kyk, kan jy jou die volgende afvra:
- Wat is die feite? (Harde feite, nie opinies nie)
- Word potensiële negatiewe uitkomste sterk beklemtoon, of is die beriggewing gebalanseerd ten opsigte van moontlike wendings wat die gebeure kan neem?
Wees bewus van jou reaksie
Bly in voeling met jou liggaam en emosies wanneer jy met nuusberigte te doen kry. Skuif jy ongemaklik rond? Sweet jou hande? Is jou skouerspiere gespanne? Herken die fisiologiese tekens van stres.
Wees bewus van enige sterk gevoelens soos woede, afgryse, hartseer of angs in reaksie op die beriggewing. Die nuus kan ook die gehalte van jou slaap beïnvloed. Lê jy en rondrol terwyl beelde of gedagtes wat met die nuus te make het, in jou kop bly maal? Insinueer die nuusleser of joernalis dat hierdie of daardie aakligheid met jou, die kyker, kan gebeur?
Soms is die gevolg van doom and gloom-beriggewing ’n verhoogde angsvlak wat mense in die algemeen meer oor hul eie omstandighede laat bekommer, al verskil hul eie probleme van die inhoud van die beriggewing. Die boodskap dat die wêreld ’n onveilige plek is en dat die toekoms net donkerder word, is nou nie juis opbeurend nie.
Neem aksie
- Wanneer ’n slegte gebeurtenis op die nuus jou raak, kan jy ’n stil gebed doen vir 1. Die slagoffers van die gebeure 2. Diegene wat die gebeure veroorsaak het 3. Die omstanders 4. Ander mense wat van die gebeure bewus word – insluitend jy self.
- Diep asemhaal: neem drie asemteue terwyl jy daarop fokus dat jou maag uitsit en inkrimp. Dit stimuleer jou parasimpatiese senustelsel en skep ’n ontspanningsrespons. Jy kan terselfdertyd jou skouers laat sak of sagkens rol, en jou nek roteer.
Jy kan ook die nuusdosisse waaraan jy blootgestel word, verlaag. Dalk kan jy eerder ’n paar blaaie van ’n lekker roman lees. En as jy bang is jy mis iets, kan jy jou daaraan troos dat mense baie praat wanneer iets werklik belangriks gebeur. Jy sal wel daarvan hoor!
Lees ook: Wees positief, leef langer