Ek dra al jare lank nie meer ‘n horlosie nie. Weliswaar kyk ek nog klokslag as ek in die bad klim of ek my horlosie afgehaal het, maar solank niemand dit agterkom nie, is dit seker in orde.
Toe ek egter die langnaweek op ‘n lieflike, afgeleë plek beland sonder enige afsprake of spertye, het ek gewéns ek het ‘n polshorlosie om af te haal. Ek sou dit met swier gedoen het, die laspos onder in my tas gebêre het, en my drie dae lank verlustig het in die bleek strepie op my linkerpols.
Horlosies, lees ek, is al sedert die vyftiende eeu met ons. Koninging Elizabeth l van Engeland het in 1571 ‘n polshorlosie as geskenk ontvang. Polshorlosies was vir vroue; mans het sakhorlosies gedra. Voor my geestesoog sien ek hoe ‘n waarde heer sy oogglas onder sy wenkbrou vasknyp, in sy sak na sy sakhorlosie vis, en tydsaam na die wysers korrel. Te stadig na my sin, dankie.
Was dit nie vir oorloë nie, het polshorlosies dalk nooit aan harige arms beland nie. Kort voor die Anglo-Boereoorlog het Britse leëroffisiere besef dis slimmer om aanvalle volgens tyd te koördineer as om hoogs sigbare seine te gebruik. Skielik was dit “manlik” om in ‘n oogwink te kon sien hoe laat dit is.
Horlosies was egter nie net deurslaggewend vir militêre verowerings nie. Hoe sou minnaars mekaar destyds op ongeoorloofde plekke en tye kon ontmoet sonder geheime briefies met tydsaanduidings?
Vandag tref desperaat verliefdes sulke reëlings sommer op die ingewing van die oomblik en stuur dit per SMS. Hoe onromanties.
Dalk moet ek weer ‘n polshorlosie oorweeg. Een met outydse Romeinse syfers en ‘n egte leerbandjie. As ek wonder hoe laat dit is, moet die stukkie vervloë elegansie my ‘n oomblik tot stilstand bring sodat ek kan peins oor lovers, oor die tere oomblikke wat ek beleef, en of ek dié momente laat verbyflits of ‘n tydsame ontmoeting met my diepste wese gun.