Ek lê ken-diep in ’n bad vol rose. ’n Dik, wit melkmasker bak onder die warm handdoek op my kop terwyl ’n Balinese vrou my skouers masseer.
Is dit geluk? wonder ek met ’n ongemaklike krieweling in my middel.
Vandat ek ’n week gelede op Denpasar-lughawe geland het, is al my sintuie oorweldig. Wierook, bromponietoeters en die soet geur van frangipani. Die gekekkel van spaza-eienaars wat pryse beding en die dreuning van die simbaal in die jogasaal. Die klam hitte. Die glimlagte.
En dan stilte as ek deur die ryslande stap. Stilte.
Op die muur van die Spa hier in Ubud, Bali hang ’n sê-ding van Buddha: "A happy person is not a person in a certain set of circumstances, but rather a person with a certain set of attitudes."
Oor middagete, met my voete in ’n moddermengsel gedruk, bepeins ek die reis wat voorlê: In Oktober gaan ek vir ’n maand lank deur die Namib-woestyn stap. Ek gaan 20 kg op my rug abba. Geen vars water, geen toilet, geen drukkies van my kinders nie, en verseker geen masserings van Balinese terapeute nie!
Kan ek net so tevrede met myself wees in die dor woestyn as hier in die idilliese trope?
Ek word hierdie jaar 40 – daarom dan die besluit op ’n pelgrimstog. Hopelik sal ek, en avonturier Anette Grobler wat saam met my die 680 km deur die woestyn stap, veilig op my verjaardag in Walvisbaai aankom. Te voet. Oor die duine.
Ons stap gaan natuurlik oor meer as net persoonlike verryking. Daar is ’n heerlik-opwindende gemeenskapsprojek hieraan gekoppel… maar meer daaroor later. Ek en jy het immers 5 maande se gesels wat voorlê!
Ek nooi jou om saam met my te reis. Van vandag af, waar ek hier in Bali ’n geestelike reis begin, dwarsdeur my 17 weke oefenprogram om ‘woestyn-fiks’ te word. Dan, tree vir tree deur die Namib-woestyn vir 26 dae, tot aan die anderkant uit… my veertigs in!
Dalk sien jy jouself iewers tussen my skryfsels raak. Of dalk hou jy net my malligheid van ’n afstand af dop. Hoe dit ook al sy, neem gerus deel aan die gesprek. Ek glo dat vroue mekaar die beste ondersteun. Ek glo ook dat ons ’n wonderlike, sterk spesie is wat verandering kan dryf – hetsy in onsself of in ons gemeenskap.
Nou ja, as Elizabeth Gilbert kan Eat Pray Love, kan ek seker ook.
Hou vas jou hoed, hier gaan ons!
Namaste.