Lush vind vanjaar plaas tussen 14 en 17 April 2017 by die Linwood Farm in die boomryke dorpie Clarens.
Vir diegene wat hou van ’n uitdaging, is daar bergfiets- en hardlooproetes met ’n asemrowende uitsig, begeleide toere deur Suid-Afrika se ryk en ruwe landskappe en perdry in die boomryke platteland. As jy op soek is na die opwinding van nuwe avonture, kan jy hoog vlieg in ’n warmlugballon, vlotvaarte op die rivier ervaar of selfs die asemrowende natuurskoon van kranse en rotsformasies geniet terwyl jy in die Maloti-berge abseil.
As musiek jou sintuie wakker maak, sal jy floreer tydens Lush se optredes wat die Australiese rockgroep The Temper Trap insluit terwyl plaaslike bekendes soos Jeremy Loops, Karen Zoid en Francois van Coke ook te sien sal wees. Daar word smullekker kos aangebied, asook ’n verskeidenheid craft-biere van die land se beste broumeesters.
Omdat die fees drie dae lank duur, het organiseerder verseker dat daar genoegsame blyplek vir gaste sal wees wat gebruik kan maak van hulle selfsorg-hotelle, B&B’s en kampeerplekke asook die gastehuise en -plase in en rondom die dorp. Daar sal ook ’n verskeidenheid ‘tent-hotelle’ wees wat opgerig word deur Harambe – bekend vir hul kampplekke by Oppi Koppi. Elke tent sal beddens, kragpunte en ook luukshede soos privaat storte, ’n restaurant wat die ontbyt (ingesluit by prys) voorsien en sy eie kroeg het.
Lush beloof om ’n wêreldklas-fees te wees en ’n prettige uitstappie vir plaaslike en internasionale besoekers te bied.
Vir meer inligting oor die fees, besoek gerus www.lushfestival.com