Vertroue
“Liesl?”
Konrad se stem spoel soos ’n verligting oor haar. Hy leef! Die hol eggo op die lyn verklap hy is in die buiteland.
“Waar is jy? Wat gaan aan?”
“Ek wil net hoor of jy en die kinders ok is. Engela het laat weet van wat by die kantoor gebeur het.”
“Konrad, ek is histeries bekommerd! Praat met my! Wat gaan aan? Waar is jy?”
“Ek wou net seker mak julle is ok, wees versigtig.”
Sy hoor ’n Arabiese gebedsroep in die agtergrond. EMKO het bande met sakelui in Dubai.
“Konrad? Is jy in Dubai?”
“Ek is lief vir jou Liesl. En vir die kinders…”
Dan gaan die lyn dood.
’n Duisend gedagtes maal deur Liesl se kop. Sy soek verduidelikings hoe Konrad, die perfeksionis, wat die lewe in swart en wit sien, se lewe in ’n grys area kon verval. Die man wat sy van haar jeugjare ken, sou nooit uit die wit sone beweeg het nie. Hy het nog altyd geglo daar is net een manier om iets te doen en dit is die regte manier. Dis nou behalwe vir sy gewoonte om ontrou te wees aan sy huweliksbelofte. Maar selfs sy affairs het nog nie voorheen met sy werk ingemeng nie. Toe kom Isa. Liesl wens sy kon uitpluis wat hierdie vintage Barbie met die oënskynlik leë kop so anders maak. Sy het ’n vreemde houvas op Konrad. Met nie een van sy vorige verhoudings was Konrad bereid om die gemaksone van sy huis en kinders te verlaat nie. Dis asof Isa ’n hipnotiserende uitwerking op Konrad het. Sy kleredrag en gewoontes het verander. Rigiede reëls wat hy as’t ware in graniet vir haar en die kinders uitgekap het, is verbuig.
Sy probeer teruggaan na dag een, toe Isa in hul lewens beland het. Hulle het ’n braai in die Lapa gehou vir die EMKO-“familie” om Gerben Kruger en sy vrou te verwelkom. Isa het dadelik uitgestaan tussen die ander EMKO-vroue. ’n Bietjie “te” na die meeste van hulle se anale uitkyk op die lewe. Te wulps, te guitig, te koketterig in mansgeselskap. Sy onthou hoe sy Isa teen die bitsige bietse van EMKO se gadeklub probeer beskerm het.
Toe Konrad weer onverklaarbaar laat begin werk het, het sy die patroon dadelik herken. Sy het begin uitkyk vir tekens, maar was uit die veld geslaan toe sy by ’n EMKO-funksie die vibe tussen Isa en Konrad kon optel.
Konrad se vinnige bekentenis was heeltemal buite sy aard. Isa het hom soos ’n tsoenami getref.
Haar kop kan alles rondom Konrad se verhouding uitpluis, maar sy verloor die drade wanneer sy by Isa se invloed op Konrad se loopbaan kom.
Gerben, sy moet hom bel. Hy is die naaste leidraad wat sy het.
“Dis beter as jy my by die huis kom sien,” sê die man met die effense hakkelprobleem.
Sy apartment is in ’n opgeknapte industriële gebied naby die finansiële hartklop van die stad. Die ou art deco-geboue is deur ontwikkelaars opgekoop en in nuwerwetse dakwoonstelle omskep. Die jonk en jeukeriges en mense wat obsene salarisse verdien, woon daar.
Gerben is effe ontsenu as hy die deur oopmaak. Hy skep die indruk dat hy die gesprek so vining moontlik wil afhandel. Die woonstel is minimalisties en hiper modern gemeubileer.
“Wat gaan aan, Gerben? Ek bekommer my dood oor Konrad. Al hierdie dinge verwar my.”
“Liesl, Konrad is by verkeerde goed betrokke. Ek wens ek kon hom help. As ek net geweet het waar hy is. Al is daar die ding met Isa, het ek hom as ’n mentor beskou. Ek glo ek sal hom kan help.”
Gerben sit op die voorpunt van die swart leer bank. Hy lyk gespanne.
“Waarmee is Konrad besig? Ek ken hom nie so nie!”
“Groot dinge Liesl, baie groot. Dit kan EMKO seermaak, en Konrad … HY speel met gevaarlike vuur. Waar is hy, Liesl? Ek wil die ou help.”
Gerben was baie seergemaak toe Isa hom vir Konrad verlaat. Hy was verpletter en het gesukkel om op sy werk te konsentreer, maar hy het homself reggeruk en ter wille van sy werk professioneel teenoor Konrad opgetree.
Engela het Isa diskreet op hoogte gehou van die invloed wat Konrad en Isa se verhouding op die kantoorpolitiek by EMKO het.
Liesl voel jammer vir die effe mollige man voor haar. Op ’n glasbladkoffietafel pryk ’n troufoto van hom en Isa. Sy moes twee keer kyk voor sy besef het die vaal meisietjie is Isa. Vaal, maar nie onaantreklik nie. Eintlik was sy pragtig voor sy haar aan botox en die Barbie-voorkoms oorgegee het, besluit Liesl.
Sy vertrou Gerben. Eintlik het sy nie ’n keuse nie. Gerben is die enigste een wat sy ken en vertrou wat haar antwoorde sal kan gee oor Konrad.
“Liesl, vir eers is dit vir jou en die kinders se eie beswil dat jy so min moontlik weet. As ek Konrad kan opspoor, sal ek hom kan help. Ek weet hoe hy uit hierdie ding kan kom. Ek is een van die enkeles by EMKO wat hy kan vertrou. Ek wens hy het my in sy vertroue geneem. Hy is eintlik nie ’n slegte ou nie, weet jy? Net jammer hy was so aantreklik vir my vrou…” Hy lag effe verleë.
“Konrad het my vanoggend gebel. Hy … ek dink hy is in die Midde Ooste.”
Gerben kom sit langs haar en vou sy arm om haar.
“Ek is so jammer jy moet deur al hierdie goed gaan. Jy verdien dit nie. En, maggies, ek wil nie toekyk hoe Konrad se loopbaan sink nie. Dis ’n gevaarlike ding die, ek hoop hy is veilig …”
Liesl voel ’n naarheid oor haar spoel. In Gerben se badkamer spoel sy koue water oor haar gesig. Sy gaan sit op die bad se rant en haal stadig asem om haar emosies te probeer beheer.
Daar hang ’n effense parfuumwaas in die badkamer. Sou Gerben ’n nuwe vrou in sy lewe hê? Dit kan nie te ernstig wees nie anders sou die troufoto in die sitkamer lankal gewaai het.
Sy maak haar hande nat en vryf die koelheid oor haar kort hare en agter haar nek.
Langs die mandjie met gastehanddoekies vang iets haar oog.
’n Groot goue hoepeloorbel!
Is dit toeval? Waar is die oorbel se maat?
Sy maak die badkamerkassie oop. Die rakkies is gepak met duur Franbse skoonheidsmiddels.
Of Gerben is ’n closet metroman wat oor sy plooie bekommerd is, of die eienaar van die goue oorbel is ’n gereelde besoeker aan die dakwoonstel met die uitsig oor die stad.
Skielik twyfel Liesl of sy Gerben regtig kan vertrou.