Dit verg ’n baie spesiale ma om ’n suksesvolle dogter groot te maak, en dis inderdaad die geval met Margaret Gardiner, ons eerste Mej. Heelal en deesdae ’n gewilde en gesoute vermaakjoernalis in Hollywood. Hulle het in Januarie 2015 eksklusief met rooi rose oor hul ma-en-dogter-verhouding gesels.
In sy memoirs skryf die oud-koerantman en tydskrifredakteur Izak de Villiers uitvoerig oor sy ontmoetings met Margaret Gardiner. Van al die vroue wat hy in sy loopbaan ontmoet het, skryf hy, is Margaret Gardiner, die Mej. Heelal van 1978, ongetwyfeld onder die topvyf.
Met hul eerste ontmoeting het dit hom opgeval hoe geanker hierdie beeldskone langbeen van Woodstock in Kaapstad was. Hoe, wou hy weet, kry sy dit reg?
“Ek weet dis ’n cliché om te sê ’n mens is ryk in ander dinge. Maar ek is!” was haar antwoord. Sy het vertel van haar “wonderlike gesin”, en van die baie onderlinge liefde en respek.
“My familie is my rykdom. My ma is ’n ongelooflike sterk vrou. Vol begrip en moed.”
Dit was haar ma wat die geleentheid gesien het wat die internasionale skoonheidsbedryf aan haar jongste dogter bied, en wat haar pa omgepraat het om haar te laat gaan. Maar nie sonder dat sy reguit gepraat het oor al die slaggate nie. “Tog het sy ook gesê sy laat my gaan omdat sy my vertrou,” onthou Margaret nou. Sy praat steeds met die grootste deernis en ontsag van Dawn, ’n fyn vroutjie van 85. (Margaret se pa, Alfred, is in 2000 oorlede.)
Ja, hulle het soms verskil, maar niks meer as alle kinders en ouers nie. “Ek het net goeie herinneringe aan my ma. Ek onthou hoe glansryk sy altyd vir my gelyk het wanneer sy en my pa uitgegaan het. Ek onthou haar rooi lipstiffie en parfuum en die sagte swiesj-swiesj van haar rok.”
Sy onthou ’n ma wat haar kinders saans kom nag soen het, ’n omgee-ma wat haar kinders met alles in haar sou verdedig en onvoorwaardelik in hulle geglo het.
“Sy het ons altyd aangemoedig in wat ons ook al gedoen het.”
Vra jy haar om haar ma te beskryf, vertel sy dadelik hoe baie haar ma sing. “En ek bedoel baie! En sy sal sommer dans ook.”
Die Gardiner-dogters – Margaret het twee ouer susters, Sandy en Bev – is streng grootgemaak, maar daar was hope pret en onvoorwaardelike liefde. Maar, vertel sy, saam met die liefde was daar “klein klousules van verwagting” oor dinge soos vriendelikheid, hoflikheid, regverdigheid en hardwerkendheid. Dit was nie onderhandelbaar nie.
Sy onthou die huislikheid waarvoor haar ma gesorg het.
“Sy is ’n wonderlike kok, en het elke liewe aand gesorg vir die lekkerste aandete. En sy kan heerlik bak! Dis te danke aan my ma dat die kombuis een van my gunstelingplekke is. Dit was ook die plek waar ons ná ete sit en gesels het.”
Het sy baie by haar ma geleer wat moederskap betref?
“Sjoe. Sy was so ’n perfekte ma. Ek het geen idee gehad hóé gelukkig ek was om haar te hê, of hoe moeilik ma-wees soms is, of hoe dikwels ons haar as vanselfsprekend aanvaar het nie. Ons het maar net aanvaar alle ma’s doen wat sy gedoen het, maar ek het intussen geleer dis vir seker nie die geval nie.”
Haar ma is haar klankbord. “Sy onthou van die dinge wat ek vergeet om te doen, en skroom nie om eerlik te sê as ek iets verkeerd doen nie, of as ek te maer is, of iets dra waarvan sy nie hou nie! My ma gee haar mening oor alles, of ek nou gevra het of nie,” skerts sy.
“Maar, op ’n ernstige noot: ek is so dankbaar vir haar. As my gemoed onstuimig is, bel ek net my ma.”
Margaret se ster brand steeds helder, anders as baie ander skoonhede en glansmense s’n. Daar was nog geen skandale of egskeidings nie, en sy het boonop ’n baie suksesvolle loopbaan as vermaakjoernalis. Tussendeur was daar haar eie kwota swaarkry en hartseer, onder meer ’n buisswangerskap wat haar by die dood laat omdraai het en DF sarkoom in haar borskas.
Het haar ma ’n aandeel in die vasberade benadering tot die lewe?
“Sy het my deur haar voorbeeld geleer. Sy het sekere dinge verwag van mense, ’n sekere standaard gestel, en mense verantwoordelik gehou vir sekere dinge. Sy doen wat gedoen moet word en kla nooit, maar nooit, daaroor nie. Sy het nie ’n idee hoe doeltreffend sy is nie.” As sy ooit in ’n geveg moet wees, skerts Margaret, sou sy beslis haar ma aan haar kant wou hê.
Wat was die heel beste raad wat haar ma haar gegee het? “Moet nooit iets op skrif stel wat jy nie wil hê ander mense moet sien nie … ” lag sy. “Maar ernstig: ek hoef net na haar te kyk, na hoe sy vir mense omgee. Oral waar ons gaan, ken mense haar, gesels hulle met haar. Hoe sy haar lewe leef – dís die beste raad wat sy my kon gee. En sy hou nooit op om nuwe dinge te beproef nie.”
Hoe, wil ek vir oulaas weet, hou mens ’n gesin bymekaar as julle op verskillende vastelande woon?
“Ek moes op 16 al leer om sonder my gesin klaar te kom. Ek het nie ’n padkaart gehad nie, en moes maar uit my foute leer. Daar is min dinge so alleen soos om in ’n land te wees waar jy niemand ken nie, nie die taal kan praat nie en waar jy ’n werk doen wat jy nie regtig ken nie. Ek het nogal ’n slag met mense, maar daar is eintlik maar net ’n paar mense in die wêreld wat deel van my binnekring is. Hulle is almal selfstandige, sterk vroue wat nie daaglikse kontak nodig het om te weet dat ons nog vriende is nie. Ek dink dis iets wat ek by my familie geleer het. Ons is sterk en baie geheg aan mekaar, maar ons is low maintenance. Die band tussen ons is onbreekbaar.”
Ordentlik en sterk
Dawn onthou hoe hul gesin alles saam gedoen het, van kerk toe gaan tot uitstappies en vakansie. “Ons het saam speletjies gespeel en die dogters het vir ons klein opvoerinkies gehou.”
Sy en haar jongste was nog altyd na aan mekaar. “Ek het Sondae altyd ’n spesiale ontbyt gemaak, en dan kuier net ek en sy om die tafel. Ek het altyd vir haar verrassinkies op haar bed gelos, en briefies vir wanneer sy ná ’n afspraak tuis kom. Ons het altyd in die swembad gespeel, selfs toe sy al getroud was.”
Hoe ’n soort kind was Margaret, wil ek weet? Stout, stil, ordentlik, ’n rabbedoe?
“’n Bietjie van al daardie dinge. Sy was ’n vreeslike mooi dogtertjie wat maklik gebloos het, en so skaam dat sy maklik sou wegkruip as daar gaste opdaag. In sommige opsigte was sy ’n regte dametjie, en een van ons bure het haar ‘Prinses’ genoem. Maar ons ander buurman het haar sommer ‘Charlie’ genoem, want sy was ’n bietjie van ’n rabbedoe wat van treine en motors gehou het.”
En, sê sy, Margaret kon nog altyd skryf. “Sy het die mooiste gedigte geskryf. Haar eerste gedig is gepubliseer toe sy 15 was.”
Sy verklap dat Margaret ’n regte slimkop was, altyd in die topvyf van die klas. “Gewoonlik onder die eerste drie.”
Dawn se enigste droom vir haar dogter was dat sy “ordentlik en sterk” sal wees as sy groot is. Maar op 15 het die mooi jongmeisie se lewe ’n heel ander wending geneem toe die fotograaf Bernard Jordaan haar “ontdek” het. Haar lewe het verander van skoolmeisie na internasionale model na Mej. Heelal.
Was Dawn verras toe Margaret ’n model word? “Ja! Ons het geen ander modelle in die familie gehad nie. Ons het geen klem op voorkoms geplaas nie, maar eerder op studies.”
Sy was darem nie te verbaas oor haar dogter se sukses in die skoonheidswêreld nie.
“Sy het ’n soliede basis gehad. Ons het haar geleer om te onderskei tussen reg en verkeerd, om weg te bly van dwelms, om goeie waardes te hê. Sy was nog altyd suksesvol in alles wat sy voor dit aangepak het, so ek het gehoop dit sou weer die geval wees. Maar ek het ook seker gemaak dat sy weet ons sal haar steeds liefhê, ongeag.”
Dis nie enige 16-jarige wat alleen oorsee kan gaan woon en werk nie. Dat sy dit so goed hanteer het, sê iets van die goeie opvoeding en sterk rolmodelle wat Margaret gehad het.
“Ek het haar in my briewe aangemoedig om haar land na haar beste vermoë te verteenwoordig,” onthou Dawn. Tipies ma, het sy elke maand ’n pakkie gestuur met al Margaret se gunsteling-lekkernye. Dit was nooit vir haar lekker dat Margaret so ver van hulle af woon nie.
“Maar ons het met baie briewe daarvoor vergoed. En wanneer sy in Suid-Afrika is, is dit asof ons net aangaan waar ons die vorige keer opgehou het. Dan gesels ons sommer deur die nag, onthou al die lekker dae, bak en brou in die kombuis … ”
Dawn is ooglopend trots op haar dogter. “Sy is ’n goeie dogter, en ’n wonderlike ma en vrou.”