’n Geskatte 7 tot 9% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdomme van 20 en 79 jaar het diabetes. Van die geskatte 55, 6 miljoen Suid-Afrikaners het bykans 5 miljoen mense moontlik diabetes. In ag genome dat Afrika die hoogste aantal ongediagnoseerde diabetesgevalle het, kan die voorkoms in Suid-Afrika hoër wees.
Die Internasionale Diabetes Federasie (IDF) voorspel dat die wêreldwye voorkoms van diabetes oor die volgende 25 jaar sal toeneem tot 1 volwassene in elke 10.
Een van die fokuspunte van die huidige diabetesdag is dat mense aanbeveel word om hulle vroegtydig te laat toets aangesien behandeling moontlik ernstige diabetes-verwante komplikasies kan voorkom.
Diabetes-verwante oogsiekte is ’n leidende oorsaak van blindheid in baie lande en daarom is die tema van Wêreld Diabetesdag vanjaar “Alle oë op Diabetes.”
Een van die hoogtepunte vanjaar is die Johannesburgse Dieretuin-Draf van 5 km op Sondag 13 November. Die doel is om mense bewus te maak van ’n gesonde leefstyl.
Lees meer oor die pretdraf by cdediabetes.co.za
Wat is diabetes?
Diabetes is ’n chroniese gesondheidstoestand wat voorkom wanneer die pankreas nie meer in staat is om die bloedglukose hormoon (chemiese boodskapper), insulien, te vervaardig nie en wanneer die liggaam nie meer optimaal die insulien kan gebruik wat dit produseer nie.
Glukose, ’n eenvoudige suiker wat brandstof vir ons liggame verskaf, word uit die vertering van kos gekry. Dit word opgeneem in die bloedstroom en na selle in organe en weefsel vervoer. Insulien tree op as sleutel om die glukose in staat te stel om van die bloedstroom in die selle te beweeg waar dit gebruik word om energie te produseer.
As die liggaam nie in staat is om insulien doeltreffend te produseer en/of te gebruik nie, lei dit tot verhoogde glukosevlakke in die bloed (hiperglukemie). Insulien is noodsaaklik omdat dit die metabolisme van koolhidrate, vette en proteïene aktiveer. Ons het insulien nodig om te oorleef.
Oor die langtermyn kan hoë glukosevlakke verband hou met skade aan verskeie organe en weefsel.
Daar is twee algemene vorme van diabetes: tipe 1-diabetes en tipe 2-diabetes.
Tipe 1-diabetes
Tussen 5-10% van mense met diabetes het tipe 1-diabetes. In tipe 1-diabetes val die immuunstelsel die insulien-produserende beta-selle in die pankreas aan. Wanneer dit gebeur, kan die pankreas nie meer insulien produseer nie. Mense met tipe 1-diabetes moet hulself verskeie kere per dag met insulien inspuit.
Daar is geen kuur vir tipe 1-diabetes nie, sê geregistreerde dieetkundige, Wouter van Wyk, Kliniese Konsultant en Produkbestuurder by die Sentrum vir Diabetes en Endokrinologie in Johannesburg.
Tipe 2-diabetes
Tipe 2-diabetes is die mees algemene vorm van diabetes. Van al die mense met diabetes het 90-95% tipe 2 diabetes. Tot 70% van tipe 2-diabetes gevalle kan voorkom of vertraag word deur ’n gesonder lewenstyl.
Simptome & diagnose
“As jy oormatig urineer, baie dors is, ’n droë mond het, baie honger is, dowwe visie het, diepgaande moegheid het en baie gewig verloor, moet jy jou vir diabetes laat toets. ’n Vinnige vinger-prik bloedtoets by jou apteek, gemeenskapskliniek of algemene praktisyn sal aandui of ’n laboratorium vastende bloedglukose toets gedoen moet word.