Daar word beraam dat 700 miljoen meter denim in Indië geproduseer word. Die maatskappy LNJ Denim, wat in Indië gevestig is, en denim aan bekende handelsname soos Levi’s, Gap, Ralph Lauren, Diesel en Tommy Hilfiger verskaf, het in 2004 hul produksie verdriedubbel om die groeiende aanvraag na denim aan te vul.
G-Star Raw is sedert 1989 op die voorgrond van innovasie, dit is van Duitse oorsprong en spesialiseer in rou, onbehandelde materiale. Hul filosofie lees “Just the product” wat aandui dat kwaliteit belangriker is as kwantiteit.
Tom Tailor is ’n toonaangewende Duitse leefstyl- en modehandelsnaam wat oornag internasionale gewildheid verwerf het. Dit is in Edgars-takke landwyd beskikbaar.
Lucky Brand ontwerp denims wat die lyf vorm en bevat vintage-inspirasie. Die style is eklekties met ’n boheemse gevoel.
Sissy Boy het denim tot nuwe hoogtes geneem met hul ‘8th Wonder of the World’ jeans. Die rekpotensiaal van normale denims trek gewoonlik tussen 8 en 15%. Die Sissy Boy Mega Stretch jeans wat in 2010 vrygestel is, het oor 35% rekvermoë beskik. Met die jongste uitvindsel bied die ‘8th wonder of the World’ jeans 100% rekbaarheid – wat alle moontlikhede verbystrek. Die denim se samestelling is so tegnies dat hulle spesialisnaalde en -gare moet inspan (wat gewoonlik op swemdrag gebruik word), om die rekbaarheid en beweging in ag te neem. Die lyf se kontoere is meer gedefinieerd as jy die denim dra en dit voel kompleet asof jy ’n hele grootte kleiner is.
Met al die nuwe ontwikkelings rondom denim moet elke modebewuste individu seker maak dat hy of sy ten minste een klassieke maar toonaangewende denim in hul klerekas het.