As verliefde jong man het my pa my ma ‘n keer in sy arms oor die vlak water van die Ndebegeni-valle in Magoesbaskloof naby Tzaneen gedra. Ek weet, want ek het ‘n swart en wit foto waarop dié oomblik vasgevang is. Sy gooi haar kop agteroor en lag, en verloor nie eens die verskoning vir ‘n hoedjie op haar kop nie.
Dit, het sy my jare later vertel, was die dag van die mango. As ‘n plaasnooi uit Standerton en later Naboomspruit se wêreld het sy mango’s nie geken nie. Dié oranje soetheid het sy die eerste keer saam met haar groot liefde geproe.
Die mango’s waarmee ons grootgeword het, was nie die beeldskone, toegeeflike vrugte wat deesdae die vrugtebakke vol lê nie. Destyds se vesel-perskes was hul naam waardig. Hulle was klein maar vol fut; hulle het hulle verbete teen mes en tand verset. Jy moes wéét om saam met die grein te sny, en as jy klaar gesmul het, moes jy maar ewe gedweë badkamer toe om die vesels uit jou tande te vis.
Vandag neem mango’s onverwagse vorms aan. Behalwe dat hulle in hoenderdisse en blatjangbottels verdwyn of as pakkies gedroogde genot op Woolies se rakke verskyn, staan Mango vir ‘n lugredery en ‘n op en wakker klerereeks.
Maar my hart lê by die mango as liefdesvrug (daardie swart en wit foto se skuld). Ek lees daar is mangobome wat ’n verstommende 300 jaar lank vrugte dra. Kan dit nie maar die rooi hart as Valentynsimbool vervang nie?
Dan kan vroue wat oranje Valentynskaarte ontvang, besluit of hulle toegeeflik of vol fut wil wees. En só dalk die hare op die manne se tande toets …