Klink sinnetjies soos dié bekend? Dit gaan ’n verskriklike verleentheid wees. Ek skaam my dood! Ek sal dit glad nie kan hanteer nie. Jy kan dit nie waag nie! Asseblief, luister vir my. Dis net te gevaarlik. Iemand kan seerkry. Ek bekommer my dood. As iemand ’n paar minute laat is, reël ek al die begrafnis in my kop. Mense bekommer hulle oor belangrike goed en werklike gevare, maar ongelukkig ook oor onbenullige of denkbeeldige dinge; dinge wat hulle vrees dálk kan gebeur. Dis die “wat as-” of “sê-nou”-sindroom: sê nou my kind druip? … ek verloor my werk? … my man verneuk my? … iemand steel my kind? … my vriendin skinder van my? Vir die kommerkous is die moontlikhede oneindig.
Alle mense beleef tye van kommer, angs en vrees. Dis normaal en funksioneel en ’n gesonde reaksie om jou verantwoordelik te hou en proaktief op probleme te laat reageer. Soos die vrou wat bekommerd is oor die moesie op haar kind se rug wat van kleur en vorm verander het. En wanneer die dokter die melanoom uitsny wat net in die beginstadium was, is moontlike kanker voorkom. Dit wasgepaste, funksionele kommer.
Vrees maak die wolf groter as wat hy is. Baie mense se kommer is nie in verhouding tot die potensiële gevaar nie en maak die lewe vir hulle én die mense om hulle moeilik. Die bang-vir-alles word ’n gewoonte en ’n lewenswyse. Vir hulle geld die bekende aanhaling seker: “Die enigste ding wat ’n mens behoort te vrees, is vrees self.” Aan die een kant is die emosionele reaksie groter as wat jy kan verwag, en aan die ander kant is die kans dat die gevreesde voorval kan gebeur, onwaarskynlik of klein in vergelyking met die vrees. Dié mense se vermoë om daaglikse probleme en onsekerhede gemaklik en rasioneel te hanteer is beperk. Hulle leef gespanne met die aanname dat die wêreld ’n gevaarlike plek is en dat jy altyd wakker, gereed en op die uitkyk na gevaar moet wees en soveel moontlik dinge gereed moet hê om jou en jou mense daarteen te beskerm. Hierdie gedagtes of aannames is heeltyd in hul koppe, en in hul liggame is daar dikwels ook ’n onderliggende spanning om vir die ergste gereed te wees. Die kommerkous is altyd oor iets bekommerd. En die oorsaak van haar kommer skuif vinnig van die een voorval of situasie na die volgende. Sy gaan haal die bobbejaan agter elke bergie of bultjie. Alle aktiwiteite of plekke het potensiële gevare en moontlikhede dat dinge verkeerd kan loop. Sy is angstig en versigtig, probeer alles beheer, of moontlike gevare vermy. Voorvalle wat vir ander betreklik klein en gewoon is, is vir haar intens negatief en oorweldigend.
Die kommerpot sukkel ook om net te ontspan en uit die wurggreep van haar kommer en angs te glip. Sulke mense gee groot dele van hul geluk en lewe op, snak na asem as ’n onskuldige ritseling van ’n takkie teen hul lewensruit nog ’n verbeelde inbreuk op hul emosionele veiligheid maak. Hulle het ’n ooraktiewe alarmstelsel. Dit oorspoel hul emosies en liggame gedurig met te veel adrenalien en kortisol wat liggaamlik en emosioneel vir hul- le skadelik is. Derhalwe ly hul verhoudings en gesondheid dikwels daaronder. Jan-Hendrik* sê: “Dis so moeilik om saam met Anli* se vrese en kommer te lewe. As ek ’n bietjie laat is en dalk nie dadelik my foon antwoord nie, freak sy uit. Sy bel my kantoor, vriende, familie. Een aand het ek in die verkeer vasgesit en my foon was pap. Sy het die polisie gebel, hospitale. Dis erg. En dan ontgeld ek dit as ek tuiskom, is ek alleen die oorsaak van al haar woede, kommer, ontsteltenis wat heeltemal buite verband geruk is. “Vir ons drie kinders is dit ook baie moeilik.
Hulle mag nie by maats slaap nie, want sê nou daar gebeur iets; of alleen swem nie; nooit alleen in ’n winkelsentrum stap nie, want hulle kan gesteel word, iemand kan hul beroof, hulle kan in ’n toilet vassit … Die moontlikhede van haar kommer is eindeloos. En dis nie dat hulle klein is nie. Hulle is 17, 15 en 11 jaar oud. Die kinders reageer verskillend. Die oudste dogter maak maar soos ek: Hou by al haar reëls en doen haar bes om haar ma nie te ontstel nie. Die seun, die middelkind rebelleer daarteen, wat ek terloops, goed verstaan.
Hy en sy ma maak heeltyd oorlog. Hy dink sy is belaglik en sê dit ook. Die resultaat is dat hy goed skelm doen, want sy sal hom nie toelaat wat die meeste redelike ouers hul tieners toelaat nie. Nou moet hy gedurig hoor dat hy nie vertrou kan word nie. Ek is jammer vir hom. Maar kies ek sy kant, is die hel behoorlik los. Dan verstaan ek haar nie, span ek saam met die kinders, en … en … Ons jongste dogtertjie leef soos haar ma in konstante vrees, spanning en kommer. Sy sukkel om te slaap, ervaar nou nog soms skeidingsangs, is bang vir alles en wil nie waag nie. Ons het haar al by ’n sielkundige gehad,maar haar ma weier om te gaan, of om medikasie te gebruik. Dis ’n baie, baie moeilike situasie. Maar moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie: Anli is ’n baie goeie mens en ma. Sy gee baie om, wil net die beste vir haar gesin hê en sal niks ontsien om goed vir ons te doen nie. Dis hoekom ek by haar bly, dit maar vat en op ’n manier rasioneel probeer bestuur. Maar dis vir my baie moeilik.”
Diagnoseerbare siekte?
Baie mense wat so in vrees en kommer leef, het ’n diagnoseerbare siekte, soos ’n angsversteuring, ’n obsessief-kompulsiewe versteuring of ly aan post-traumatiese stressindroom waarvoor daar raad, hulp en medikasie is. Daar is baie oorsake daarvoor: Party mense het ’n geneigdheid of predisposisie vir vrees. Hulle het lae of wisselende vlakke van serotonien, die chemiese stof wat boodskappe na die reseptore in die brein stuur. Hul amigdala, die vreessentrum van die brein, word by die geringste provokasie gestimuleer om iets as gevaar te eien met die snellereffek dat dit adrenalien en kortisol afskei om hul liggaam voor te berei vir gevaar en dus hul spanningsvlak verhoog. Hulle kan ook geneties abnormaal lae vlakke van GABA A-tipe reseptore (wat met vrees geassosieer word) in sekere dele van die brein hê. Naas die biologiese en genetiese redes, kan daar baie ander redes vir angs en vrees wees, soos aangeleerde gedrag van rolmodelle, traumas, verlieservaring, reekse teleurstellings of spanningsvolle omgewingsfaktore, ’n swak selfbeeld, selfs sekere medikasie, dieetpille, te veel kafeïen en ook die gebruik van dwelmmiddels.
Esther* bly by haar sussie, Melindie*: “Jong, dis moeilik om saam met haar te leef. Sy is ’n bol senuwees, alles is in die oortreffende trap erg en gevaarlik. Ons kan nie saans uitgaan nie. Sy het talle verskonings: sy is te moeg; sê nou iemand breek in terwyl ons weg is; hi-jack ons by ’n robot; ons moet in die donker alleen by die huis aankom. Oortuig ek haar ná ure om wel te gaan, is dit omtrent reëlings wat getref moet word: waardie kinders bly, sal hulle veilig wees, het almal almal se telefoonnommers … En dan begin die gesluit van die huis. Dis deure en slotte en grendels opsit, veiligheidshekke en alarms. En alles moet dubbeld gekontroleer word.
“Die rit is ’n nuwe uitdaging. Volgens haar jaag ek teen 100 km per uur op die hoofweg en gaan ek ons verongeluk. En dan stres sy omdat ons gaan laat wees; dan weer omdat dit reën en donderweer. ‘Ek hoor die weerlig het Totius se kind deur ’n venster doodgeslaan.’ Net voor die opvoering kry sy in die restaurant ’n angsaanval. Uit die teater bel of SMS sy talle kere om te hoor waar haar kinders is en of hulle reg is.“Ek sê jou dis uitputtend. En die voorbeeldevan haar kommer en angs is legio. Haar kind gaan op ’n kamp. Dan moet ons opsluit 5 km daarvandaan ook gaan kampeer, want sê nou net daar gebeur iets, dan moet sy naby wees. En die ergste is, een van haar kinders is net so: ’n verskrikte seuntjie wat vir niks kans sien nie en nie sommer by maatjies wil gaan speel nie.”
Hoe hanteer ek my maat wat alles vrees?
- Toon begrip en empatie, moenie veroordeel nie. Probeer verstaan dat sy op musiek dans wat jy nie kan hoor nie. Haar biologiese en emosionele stelsel werk anders. Maar om altyd simpatie te gee hou ook dikwels die patroon in stand.
- Bly kalm en rasioneel en stel afkoeltye voor wanneer gemoedere hoog loop.
- Gee emosionele ondersteuning en gerusstelling, sonder om ook emosioneel te raak. “Ek besef jy is bekommerd en ontsteld hieroor, maar daar is ook ’n ander perspektief.”
- Behou perspektief: Sy angstigheid is net ’n deel van wie hy is. Aanvaar hom as mens, nie noodwendig sy gedrag as dit buite perke is nie.
- Gee vir jou maat perspektief: feite, statistiek. En help hom om die goeie raak te sien en te waardeer.
- Besluit saam oor waardes, prioriteite, grense en maniere van doen. Respekteer mekaar se grense en beperkings, al maak hare nie vir jou sin nie.
- Gee vir jou maat ruimte om vir die ergste voor te berei, maar bring die perspektief om ook vir die beste te kan hoop.
- Indien haar gedrag heeltemal wanfunksioneel is, moet dit behandel word en moet jy sensitief maar selfgeldend optree. Maak net seker dat jy rasioneel en empaties is en vat dit stadig.
- Dit help nie om te sê “ruk jouself reg” nie. Hy sou dit al gedoen het as dit so maklik was.
- Moedig haar aan om hulp te kry: Terapie en medikasie kan ’n groot verskil maak. Moedig gesonder, gebalanseerde lewenspraktyke aan: eet gesond, rus en slaap genoeg, ontspan, oefen, kry kos vir jou gees in verhoudings, of deur die mooi dinge van die lewe te geniet soos flieks, kuns, musiek of die natuur.
- Help haar om die dinge te doen wat sy vrees en so haar selfvertroue en selfgeloof te ontwikkel.
- Moedig ontspanningstegnieke aan: joernaalskryf, asemhalingstegnieke, joga of die luister na CD’s spesifiek vir ontspanning. Help haar om positiewe slagspreuke of bevestiging vir haarself te formuleer, om sodoende haar gedagtes te monitor en positief te verander, soos: ek hoef nie hierdie storie of gedagte te glo nie, dis net ’n gedagte nie die werklikheid nie.
- Behou en gebruik jou sin vir humor. Vrees en angs steel ’n mens se geleenthede, verwring jou oordeel, doof jou optimisme uit, besoedel jou gedagtes en vermink jou verhoudings. Maar ’n mens moet die probleem eers erken om dit te kan verander. En besluit dat jy nie langer ’n gevangene van jou vrees gaan wees nie en uit die wurggreep van herhalende
wat as-gedagtes gaan breek. Jy sal die vrees in die oë kyk; dit deur en oor jou laat spoel, maar dit nie meer toelaat om in jou te stol en jou te beheer nie. Jy gaan iets daaraan doen, verander en groei om die wêreld vir jou en jou geliefdes ’n beter en veiliger plek te maak. *Skuilname is gebruik en verhale is met betrokkenes se goedkeuring vertel.
Eienskappe van mense met angstige persoonlikhede
- Fokus op elke moontlike probleem of gevaar.
- Is perfeksionisties en veroorsaak vir hulself en ander stres met hul hoë en onbuigbare standaarde en eise.
- Is oorsensitief en oorreageer dikwels op situasies wat nie vir ander na ’n probleem of gevaar lyk nie.
- Het dikwels woede-uitbarstings as daar nie aan hul eise en standaarde voldoen word nie.
- Stel besluite uit omdat hulle nie foute wil maak nie.
- Is oorversigtig en beperk hulself en ander omdat hulle nie wil waag nie.
- Wil by ’n vaste roetine hou en meeste situasies beheer om seker te maak niks loop skeef nie.
Lees ook: Wanneer trooswoorde nie troos nie