Leah se debuutalbum, Wonderwerk, is eers verlede jaar uitgereik, maar die publiek én kenners het so baie daarvan gehou dat sy vanjaar al vier gesogte musiektoekennings verower het. By die Tempo-toekennings in Julie is sy as Beste Nuweling aangewys, en “Met jou Klere aan” is as die Liedjie van die Jaar én Beste Musiekvideo aangewys. Sy is ook met ’n Ghoema bekroon as Nuweling van die Jaar.
Maar moenie dink Leah, wat in November 2016 dertig word, se pad na sukses was maklik nie. Sy was van kleins af mal oor sing, en het op skool aan al wat ’n sangkompetisie en kunswedstryd is, deelgeneem. Sy vertel skertsend hoe sy en haar ma, Christa, menige Saterdagmiddag iewers op die uitslag van een of ander kompetisie sit en wag het.
“My ma is my grootste aanhanger, en my stiefpa, oom Herman, het nog al die jare my keuses ondersteun.”
Leah – sy is Leani Ekermans gebore – het altyd van ’n sangloopbaan gedroom, maar nooit gedink dis ’n werkbare plan nie.
Ná matriek het sy haar musiekdrome opsygeskuif en B.Com. Regte op Stellenbosch gaan studeer. Maar die musiek wou haar maar nie los nie.
“Nadat ek een keer by ’n kultuurskakeling met ’n manskoshuis sommer vir die pret gesing het, was die reaksie so goed dat ek al hoe meer by kultuuraande opgetree het en weer aan kompetisies begin deelneem het.”
Ná haar regsgraad het sy besluit om voorlopig nie verder in die regte te studeer nie, maar eerder haar kanse op die verhoog te waag en vir ’n diploma in musiekteater aan die Waterfront-teaterskool in Kaapstad ingeskryf.
Drie jaar lank het sy gesing, gedans en toneel gespeel onder die streng en wakende oog van onder meer Delia Sainsbury, medestigter van die teaterskool. Ballet, moderne jazz, klopdanse, sang- en dramaklasse, opleiding in TV-aanbieding, die teorie en praktyk van musiekteater … Sy rits die vakke af waaruit die grootste deel van elke dag bestaan het.
“Dit was rof, hoor! Ons kursus het baie praktiese klasse behels én ek moes werk om my woonstelhuur te betaal. Ek het teen betaling vir medestudente klere gemaak en sommer vroeg al ’n agent gekry om vir my vryskutwerk te soek. Ek is bly ek was ’n bietjie ouer toe ek dit gaan doen het, want ek sou die druk nie direk ná skool kon hanteer nie. Ek was doodseker dat dit was wat ek met my lewe wou doen.”
Die kollege het van studente verwag om vryskutwerk in die vermaaklikheidsbedryf te doen. Dit het ervaring en ’n ekstra inkomste verseker, maar beteken dat sy feitlik geen vrye tyd gehad het nie. Tog was sy steeds vas van plan om haar LLB-graad deur Unisa te voltooi, maar daar was net te min ure in elke dag.
“Toe ek weer op ’n dag moes kies tussen ’n regseksamen en ’n kans om vier dae te werk en geld te verdien, het ek besluit om eerder die regstudie vir ’n ruk opsy te skuif.”
Dis nou ’n hele paar jaar later en die regsdroom vir eers vergete, want ná byna ses jaar van bloedsweet, harde werk en opofferings is Leah die musieksensasie van 2016.
Is die musiekwêreld soos sy haar dit voorgestel het? “Wanneer ek op die verhoog is, ja,” antwoord sy sonder aarseling. Sy glo dit help baie dat sy nie die mededingende musiekbedryf met sterre in haar oë betree het nie. Nadat sy in haar derde jaar in teaterskool ’n oudisie geslaag het by Mike McCullagh, vervaardiger van talle gewilde musiekproduksies soos Tribute to Bob Dylan en Beatlemania, het sy tot redelik onlangs nog gereeld in sy produksies opgetree. Dit was ’n puik leerskool waar sy van harde werk en professionalisme geleer het.
“Delia was ook baie streng. Jy moes betyds wees, anders is jy uit. Ons is geleer jy toets nie die geduld van mense wat bereid is om vir jou werk te gee nie. Jy daag voorbereid en vroeg op en ken al jou woorde.”
Deur die jare het sy in oorsese TV-advertensies en kabarette gespeel en selfs geld met stemwerk verdien. Sy was bereid om enigiets te doen om ’n loopbaandeurbraak te verseker.
Haar groot deurbraak het gekom toe sy in 2012 as wenner van die Rapport-modelkompetisie aangewys is. Die bekende musiekvervaardiger Johan Vorster, wat ook sterre soos Bok van Blerk en Lianie May help ontdek het, het haar raakgesien.
In 2013 het sy die rol van die sportonderwyseres Elize de Bruin teenoor Bobby van Jaarsveld in die musiekfliek As jy Sing gespeel. Sy het ook saam met Johan aan ’n solo-album begin werk. Hy en Christof Kotze het 13 van die 14 liedjies op Wonderwerk geskryf. Juan “Floors” Oosthuizen het gehelp met die album se unieke klank. Tussendeur het sy op feeste en saam met ander sterre opgetree.
Haar album sou aanvanklik in 2014 bekend gestel word, maar Johan het gevoel die tyd was nog nie reg nie.
“Ek moes baie geduld leer en moes hom en sy ervaring vertrou.”
Teleurstelling was daar ook.
“Ons was op die punt om die album verlede September uit te reik toe hy sê hy voel ons kort nog daardie een spesiale liedjie. Ek was teleurgesteld, maar Johan was reg. “Met jou Klere aan” en “Meer as Niks” is eers daarna geskryf en het my treffers geword.”
Sy offer steeds baie vir haar musiekdroom op, soos om dikwels weg van die huis te wees en tussen Johannesburg en Kaapstad te pendel. Sy en haar man van die afgelope drie jaar, Hennie van Niekerk, en hul twee Jack Russels, Muggie en Lila, woon in Kaapstad. Sy en Hennie, ’n projekbestuurder in die finansiële afdeling van ’n groot kettingwinkelgroep, het mekaar tien jaar gelede op Maties ontmoet.
“Gelukkig verstaan hy dat ek moet reis – hy moes ook sedert 2010 baie in ander Afrikalande werk.”
Twee besige werksdagboeke beteken dat hulle mekaar soms net vir ’n dag te sien kry voordat die een weer moet vort, maar hulle het besluit om nie nou die Kaap vir Johannesburg te verruil nie.
“Die gependel is niks lekker nie,” erken sy. “Eintlik is ons redelik joined at the hip, maar dis nou maar die aard van my beroep. Ek sal in elk geval steeds moet pendel vir optredes, of ons nou in Kaapstad of Johannesburg woon. Wanneer hy kan, kom Hennie saam na feeste waar ek optree, maar ek kan ook nie van hom verwag om vir alles verlof te neem nie. Hy het sy eie loopbaan.”
Hulle maak die beste van ’n slegte saak deur ’n paar keer per dag telefonies te gesels.
“Wanneer ek by die huis is, is dit asof ek op vakansie is, want dan werk ek nie, en is dit net ek en Hennie. Dan gaan ons gereeld na my skoonfamilie se strandhuis aan die Weskus.”
Hulle het nie nou planne vir ’n baba nie. “Ons wil nog eers die wêreld sien, en op ons loopbane fokus. Ek speel ook lekker pop met vriendinne se babas, en ons is die peetouers van sy suster se baba. Ek is ’n baie goeie tannie, hoor!”
Leah se ysere selfdissipline en bereidheid om hard te werk en op te offer vir wat sy wil bereik, kom uit haar kinderdae.
“Ek is die oudste van drie kinders, my tweelingbroers, Ignus en Daneel, is 25. Ons is baie streng grootgemaak. My pa was ’n ingenieur en is oorlede toe ek sewe was. My ma en stiefpa het tot onlangs hul eie restaurant besit.”
Haar liefde vir musiek kom van haar ouers af. “My pa was baie musikaal, en my ma en ouma Sue het ook gesing. Daar was altyd musiek in ons huis. Ek onthou hoe ek en my boeties ’n Buddy Holly-vertoning op ons koffietafel gehou het terwyl my ma ons met die videokamera afneem.” Haar liefde vir mooi, vroulike klere kry sy by haar ouma Stienie. “Sy was baie fyn en vroulik.”
Sy skram nie weg van kritiek nie. “Solank dit opbouend is. My ma het as kind vir my objektiewe kritiek gegee, maar deesdae vra ek Hennie se terugvoer. Hy is objektief en eerlik.”
Die borrelende blondine is realisties oor ’n loopbaan in die kollig. “My ma het my gelukkig as kind al geleer dat jy moet wees wie jy is, en moet aanvaar dat nie almal noodwendig van jou gaan hou nie. Ek het ook nie allerhande verwagtinge gehad toe ek ’n sangloopbaan gekies het nie.”
Sy is verstommend onpretensieus vir iemand wat die musiekwêreld aan die gons het, en lag en gesels spontaan.
“What you see is what you get.”
“Ek is nie aanstellerig nie. Ek weet hoe moeilik die pad tot hier was, en waarnatoe ek op pad is, al is dit ook hoe moeilik om daar te kom. Danksy my wonderlike ma en man kan ek al my drome najaag – hulle albei was nog met elke tree van hierdie reis langs my.”