Nog ’n avontuur in Praag! Ons stap verby die Design Hotel Neruda waar ons woon, af teen die bult waarteen ek ’n paar uur tevore met my sware tas opgesukkel het. Dis moeilik om die mooi geboue te waardeer of om by elke klein binnepleintjie in te kyk, want daar is te veel mense. Die smal sypaadjies, net breed genoeg vir twee, dwing groepe jolige jongmense in die straat en noodsaak motors en swierige perdekoetse tot ’n slakkepas. ’n Paar treë verder móét ons stilstaan om twee straatkunstenaars se vernuftige illusie te bewonder. Met ’n slim stukkie onsigbare ingenieursvernuf onder wye monnikjurke verberg, lyk dit asof een sittend in die lug hang terwyl die ander ’n stok vashou.
Nie regtig honderd persent seker waar die brug is nie, volg ons die massas mense en stap uiteindelik onder die Malá Stana-toring deur op die brug. Van die beroemde standbeelde en die brug self kry ons min te sien. Groepe toeriste drom om toergidse, jongmense bondel saam vir groepfoto’s en tussendeur moet ons kort-kort stop of uitdraai vir iemand wat sukkel om in die selfieprentjie te bly.
“Nee, hierdie is nie lekker nie, hier is te veel mense,” verwoord my man my gedagtes. “Kom ons stap oor en kyk of ons by die dorpsplein kan uitkom.”
Saam met die baie mense spoel ons onder die oorkantste toring deur en stap oor tremspore in ’n smallerige straat af.
Vorentoe verbreed die straat tot ’n klein plein met ’n paar straatkafees. Net ’n paar treë verder om die draai, en ons staan op Praag se “Old Town town square”. Pragtige gerestoureerde geboue, kerke, restaurante en natuurlik die wêreld se oudste werkende Astronomical Clock. Dit wys die stand van die son, maan, maande en tyd. Gebou in 1410, was dit vir baie jare buite werking, maar sedert restourasie in 1865 werk dit steeds. Toe ons tussen die mense tot voor die kloktoring beur, is ons ongelukkig net betyds om die laaste van die 12 houtapostels wat elke uur op die uur by die boonste klein venstertjies verbybeweeg te siene te kry. Die venstertjies skuif toe en die laaste slae van die klok beier oor die plein. Ek staan met ’n gevoel van verlies in my binneste na die klok en opkyk, want vorige reise het geleer dat daar gewoonlik nie nóg ’n kans vir ’n besienswaardigheid is nie. As dit op die vooraf, tot vervelens toe nagevorsde lysie of dalk al ’n jarelange hartsbegeerte is en die kans om dit te sien of te beleef glip om die een of ander rede verby, is daar baie selde ’n tweede kans. Tyd is te kosbaar. Ons het wel die bewegende beelde gemis, maar die klok en die ou stadsaal waarvan dit deel is, is onomwonde indrukwekkend.
Die menigte keisteenstraatjies wat in alle rigtings uit die plein lei, is ’n skatkis van winkeltjies, restaurante en nagklubs. Alles in die pragtigste gerestoureerde geboue. Ons verloor onsself in die menigte mense, die altyd teenwoordige soet Trdelnik-geur en die toorkrag van eeue-oue geboue.
Na ’n paar uur besluit ons dat hierdie dag lank en opwindend genoeg was. Terug oor Charles-brug, steeds propvol toeriste, en teen die steil opdraand uit hotel toe. My voete protesteer nou erger as vanoggend, maar gelukkig is ek darem nou sonder die tas.
’n Lekker sagte bed en ’n snoesige duvet is ’n seën aan die einde van ’n opwindende dag. Môre kuier ons verder …