Op pad na Erica Wessels sê ’n kennis wat haar al ontmoet het: “Sy is ’n lieflike kind, die soort mens wat ek graag beter sou wou leer ken.” Haar man wat op die agtergrond doenig is, lig summier sy ore op. “Ja, ek hou haar ook al lankal as aktrise dop. Het jy opgelet wat ’n mooi gul mond sy het?”
Dis met nie veel meer as hierdie inligting tot my beskikking nie wat ek een weekmiddag voor die huisie met die digte Victoriaanse kantwerk in ’n klein, verslete straatjie in Woodstock stilhou. ’n Man leun teen sy motor oorkant die straat. Toe hy sien dat ek onseker rondkyk, stap hy nader. “Ja, dit ís Erica se huis daai.”
Sy kom rietslank uitgestap, haar hare blond gekleur vir ’n nuwe rol. Ons stap gangaf, verby die slaapkamer waar ’n skildery wat sy gemaak het sy aan sy hang met een deur haar aktrise-vriendin Lika Berning. In die kombuisie met sy kleurryke keramiekware word eers koffie geskink. Daar is vars kruie in potte by die agterdeur.
“Dis my ma, Hélène, se skuld dat ek so mal is oor gesonde kos,” vertel sy later. “Groente. Vrugte. Water. My ma was haar tyd ver vooruit as dit by kos en gesondheid kom. Ons vyf kinders het al in die tagtigerjare dinge soos polenta, olyfolie, soja, organiese dadels en wortels geëet en rou amandels in ons kospakkies gekry.”
Het dit gehelp om jou verhouding met jou lyf en voorkoms makliker te maak? Kolligvangers soos aktrises het dit mos soms nog moeiliker as die res van ons?
“Ek is gelukkig dat ek werklik hou van oefen en gesond eet. In my vroeë twintigs het ek ook maar soos die meeste vroue met ’n obsessie oor vet en maer gestoei. Die alewige gedink oor kilojoules het ironies juis veroorsaak dat ek altyd vet was. Op 37 leef ek heeltemal anders. Ek fokus nou op gesondheid en hoe my lyf voel en waarvoor hy wérklik lus is. Wanneer dit oor gesondwees gaan, begin jy spontaan dinge soos suiker, verfynde koring en te groot porsies uit jou lewe uitsny. Daardie goed laat ’n mens aaklig voel. En ek wil lekker voel.”
As jy soos die bedrywige Erica jou voetwerk voor gehore en rolprentspanne moet ken, kan jy nie bra bekostig dat jou lyf óf jou gemoed jou begewe nie. Sy het by tye al die stamina nodig waarop sy haar hande kan lê. Die maak van ’n rolprent kan uitmergelend raak. En Erica, bekend vir haar professionele aanslag, dompel haar elke keer ten volle daarin. Sy moes die afgelope jaar van Treurgrond na Trouvoete beweeg. En aanstaande jaar is sy in drie vollengte flieks te sien: Hatchet Hour, haar eerste vollengte Engelse swart komedie/riller, onder regie van Judy Naidoo; My Father’s War oor die uitwerking van die Angola-oorlog op ’n gesin se verhoudings en Mossie, wat sy as ’n pragdrama oor ’n jong meisie se lewe bestempel.
Die vrou wat haar “in ’n honderd pare skoene kan sit” omdat sy haar maklik in ’n ander se situasie kan indink, is die eerste een wat sal erken sy is ’n intense gevoelsmens, een wat enigiets van ander se emosies tot aksente optel. Maar sy het deur die jare maniere ontwikkel om haar te verweer teen die kaleidoskoop van stemme en toonaarde wat so maklik in haar kom nesmaak.
“Ek voel baie. Seker maar die Franse bloed wat in my kook.” Sy is nie ’n swart-wit mens nie, “eerder grys met hope kleur tussenin en ek hou nie van boksies of etikettering nie.
“Dinge is organies, verander heeltyd. Een van die lekker dinge van ouer word, is om jouself te begin aanvaar – ek is stadigaan besig om met my eie kompleksiteit vrede te maak”.
Oefening is een van haar oorlewingsmeganismes. “Daarsonder word ek mal. Ek gaan gimnasium toe, swem, doen joga of gaan stap die berg uit. Daar raak ek lekker stil. En as ek aan ’n rolprent werk, gaan ek omtrent nie uit nie. Dis dan vir my belangrik om my te herlaai met soveel slaap moontlik en om saans tuis eers rustig te raak met ’n glas rooiwyn. Hulle kom laai jou soms al drie-uur soggens op vir die grimering en saans as jy tuiskom, moet jy weer aan die volgende dag se dialoog werk.”
Maar sy kla nie. Sy weet ook hoe rêrig moeilik dit is as die ooptes en die leegtes toeslaan en oudisie na oudisie niks oplewer nie; wanneer jy jouself later moet dwing om vriende te gaan opsoek in ’n poging om nie weer tot ná elf in pajamas rond te slons nie.
“Dit is onafwendbaar dat jy aan jouself begin twyfel. Jy begin wonder wat is verkeerd met jou. Gelukkig is ek redelik goed met besig bly. Ek leer Frans en het vir my ’n swart digitale Yamaha-klavier gekoop waarop ek lekker oefen vir die klasse wat ek neem wanneer ek nie werk nie. As ek die nodige talent gehad het, sou ek dalk graag ’n wonderlike skilder of pianis wou wees. Ek wil binnekort ook begin met kursusse in olieverf en keramiek.”
Sy lag. “Ek was deur die jare al maklik agt keer in trane by my agent om te sê dit is nou regtig die einde. Ek. Hou. Nou. Op. Maar elke keer het daar kort daarna iets opgeduik wat my weer moed gegee het.” Die verskeie benoemings en toekennings wat na haar kant toe gekom het, het ook gehelp. “Dit sê dalk iemand sien jou werk raak.”
En tog weet sy sy is eintlik beter met onsekerheid as met ’n voorspelbare roetine. “Die werk bly interessant en elke karakter anders. Wat my ook help, is dat ek nooit eintlik weet hoe lank ek dit nog gaan doen nie. Daar is iets in my wat kort-kort kriewel om verandering en om iets heeltemal anders te doen. Ons sal maar moet sien. Waar ek in my twintigs vreesloos was, veral as dit by teater kom, het ek in Oktober 2013 besluit om my liewer in die rolprentwêreld te begewe. Dit was asof ek bang geword het. En moeg. Baie akteurs ervaar dit blykbaar in ’n stadium.”
As laatlammetjie in ’n groot gesin het Erica ’n gelukkige, geborge en bevoorregte kindertyd gehad. “As jongste het ek die soort vryheid gehad waarin my verbeelding, altyd so groot soos New York, kon gedy. My pa is ’n afgetrede prokureur en my ma ’n baie doenige huisvrou. Ons is passievolle, uitgesproke mense en alles is nie perfek nie, maar almal bly betrokke by familie-kwessies en verhoudings word gerespekteer.”
Nadat sy haar dramagraad op Stellenbosch voltooi het, het sy drie jaar in die buiteland deurgebring.
“In daardie tyd het ek alles behalwe toneelgespeel. Ook my hart verloor en gebreek en grootgeword.” Iets waarvan sy baie gehou het, was om bejaardes te versorg – “met hulle te gesels, hulle te bad en roompies in te smeer, daardie soort ding”.
Vandag dink sy in albei tale en praat die een oomblik Afrikaans om net kort daarna na Engels oor te glip. Sy doen Afrikaanse en Engelse stemwerk, speel in flieks en TV-reekse, kry rolletjies in Britse en Amerikaanse rolprente en help ook so nou en dan met ’n advertensie.
In teenstelling met haar rol as die boervrou Nellie – “’n sterk karakter maar so heeltemal nie ek nie” – in Treurgrond, kon sy haar meer vereenselwig met die 33-jarige kunssinnige Ella in Trouvoete. Maar die aktrise in haar wat soms komplekse, bitter dinge soos die plaasmoordtema in Treurgrond wil oopbreek om die hart van die stam te ontbloot, voel bevredig as sy deel was van ’n verhaal wat mense opnuut laat dink. Sy het vroeg in haar loopbaan ’n doelbewuste besluit geneem om nie die sepieroete in te slaan nie. “Sepie-akteurs werk ontsettend hard en ek het baie respek daarvoor. Ek is net gelukkiger om te kan vryskut. Dit werk vir my. Vir nou.”
Sy het nie regtig gunstelingrolle nie.
“My ervaring van ’n rol hang van ’n duisternis dinge af, ook van waar ek in daardie stadium in my persoonlike lewe is. Elke karakter is tog ’n unieke ervaring en so ook die mense met wie jy saamwerk en die inhoud van die draaiboek of teaterstuk. Dis eintlik ’n skaars, kosbare gebeurtenis om aan ’n draaiboek te werk wat vaardig en slim geskryf is en waaraan ’n mens werklik glo en wat vir jou betekenisvol is. As ek net een keer per jaar in so ’n rolprent kan speel, sal ek meer as gelukkig wees.”
Trouvoete is volgens haar ’n pragtige liefdesverhaal oor die lot van twee mense wat mekaar werklik liefhet maar mekaar êrens langs die pad verloor het. “Dis prettig en lig, maar ek sou sê meer sensitief en eg as die gemiddelde romantiese komedie. Heerlike vakansievermaak. Dit was ’n fees om met sulke talentvolle, groothartige mense soos Bouwer Bosch, Lika Berning en Paul du Toit saam te werk. Lika is ’n groot pel van my en ons het baie pret op stel gehad.”
Haar karakter, Ella, is “anders”. Kunssinnig en skamerig. En sy moes al ’n paar keer haar hart se stukke weer gaan bymekaarmaak. Erica lag as sy sê dis ’n ervaring wat sy maar net te goed ken, sy is al ’n paar keer deur die afgronde van ’n verhouding wat ontspoor het met al die pynlike dink en selfondersoek agterna.
“Ek sou graag wou trou as dit vir my beskore is – ek het nog nooit rondgespeel nie. Dalk was hulle maar nog net nie die regte een vir my nie.”
Die eienskappe wat sy in ’n man soek, sluit dinge soos ’n liefde vir mens, dier en natuur in. Mense wat mekaar seermaak en dieremishandeling ontstel haar.
“Ek is mál oor katte; hulle is ongelooflik snaaks!”
Geloof, eerlikheid en emosionele intelligensie in mense is ook vir haar belangrik. En te oordeel na die manier waarop haar oë blink wanneer sy oor die aktuaris Willem Boshoff praat wat vanjaar sy opwagting in haar lewe gemaak het, lyk dit of van haar hartewense vervul is.
“Die lewe het al vir my gewys ’n mens kán vir verskillende mense lief word. Elke nuwe liefde is soos ’n nuwe boek met ’n nuwe omslag … ” Sy glimlag asof sy aan iets dink en sê dan net: “Hy is goed vir my.”
Reis help haar ook om nuwe klanke en kleure van menswees bymekaar te maak. “My en Willem se kaartjies is gekoop om in Januarie Praag toe te gaan en daarna in Frankryk te gaan ski. Yay! Ek kan nie wág nie!”
Sy het in 2013 op haar eie 862 kilometer van die Camino de Santiago gestap, ’n ervaring wat sy vir niks sou wou verruil nie. “Iewers moet ’n mens die spanning tussen die skoonheid en die lyding van die wêreld begin aanvaar, déél wees daarvan. Daar het ek geleer dat dinge progressief bly skuif en verander. Jy moet net aanhou loop. Al is jou voete gaar.”
Erica is soos ’n boom. Een wat die ooptes en die ruimtes moet verken maar ook vastrapplek in die grond nodig het. Terselfdertyd los én geanker.