So word ek toe mos deel van die kriminele statistiek in Ghana. Nee, ek weet nie of die betrokke syfers regtig bymekaar gemaak word nie, maar dit laat my effens beter voel om te hoop dat my geval êrens opgeteken en getel word. Dalk strompel ’n polisieman eendag oor my krimineel en ry hy aan die pen.
Twee weke gelede stap ek soos gewoonlik om groente te gaan koop. Die vlugtige gedagte – dat ’n expatvrou met ’n groot handsak op straat dalk ongewensde aandag kan trek – laat my net met my selfoon en ’n bietjie kontant in ’n klein skouerhandsakkie aanstap. ’n Koel windjie, min motors en voëltjies in die bome – resep vir ’n lekker uitstappie. Twintig minute later is ek met twee halfvol plastieksakke op pad terug huis toe.
Soos die stories altyd sê: “Ek loop nog so lekker …” toe gryp ’n motorfietsryer my handsak van my skouer af!
“Stop him! He’s got my bag! Stop him!” skree ek vir ’n voetganger wat twintig treë vorentoe die pad kruis en ewe wag dat die dief by hom verbyry. Díe geskreeu terwyl een en vyftigjarige ek met “bling” plakkies aan my voete en groentesakke in beide hande die motorfiets agterna hardloop.
“Why didn’t you stop that man? He stole my bag!” praat ek hard met die voetganger toe ek by hom kom.
“Oh, Madam” is al reaksie.
“Iemand het my handsak gegryp en my foon is weg!” snikhuil ek vyf minute later in my man se arms.
“Het jy seergekry?”
“My foon is weg!”
“Is jy ok?”
“My foon is weg!”
“My vrou, die foon is niks. Is jy seker jy is ok?”
Op pad polisiestasie toe, ry ons om die blok om te kyk of my handsak nie dalk êrens lê nie. Ook natuurlik om die verdagte met vuilwit valhelm op ’n donkerrooi motorfiets te soek. Ja, toemaar, ek weet …
Op die polisiestasie se stoep is ’n versameling flenterstoele en, les bes, ’n yslike waterfiltreersisteem wat seker een of ander tyd in die laaste tien jaar êrens gekonfiskeer is en nou staan en vergaan. Binne is dit donker, beknop met baie mense. Weet nie of hulle polisie, onskuldiges of under cover agents is nie. Ons verduidelik ons saak aan die enigste uniform in die plek. My man praat duidelik, geduldig, in kort sinne. Die uniform simpatiseer so effens, draai om en soek op ’n lessenaar rond. Kry ’n vuil, omkrulbladsy boek, maar besluit klaarblyklik daarteen en tel ’n papier op. Begin weer op die lessenaar rondsoek, daarna in sy broek- en hempsakke. Dit blyk dat ’n pen ontbreek. My man bied syne aan en ook sommer om self alles mooi neer te skryf, wyse man wat hy is. Terwyl my man aan die polisiekant van die toonbank is, begin ’n vrou skuins agter my hier oor die toonbank praat. Ek wil eers vies word omdat sy nou my polisieman se korterige aandagspan verdun, toe ek besef dat sy by hom verby, agtertoe praat. Dís toe ek die traliedeur regs agter in die hoek oplet. ’n Donker vertrek met ’n hele paar mans in, twee staan soos tipiese gevangenes aan die tralies en vashou en dis met een van hulle wat die vrou langs my ’n gesprek voer. ’n Tou kruis en dwars binne gespan hang vol wasgoed. Ten minste kan die gevangenes nie van verveling kla nie, want die daaglikse kom-en-gaan in ’n polisiekantoor moet interessant wees.
Nadat my man klaar geskryf het, word ons na ’n aangrensende gebou gestuur om ’n verklaring af te lê. Ek en my man kyk vir mekaar en ek kan sien hy dink dieselfde as ek: “Wat het ons dan nou net gedoen?”
In dié gebou is ’n menigte lessenaars en stoele in ’n kleinerige vertrek ingeprop en vind ons die damespeurder. Weer vertel ons alles en skryf ék hierdie keer alles mooi duidelik neer. Hopelik vind een van die papiere die weg na ’n amptelike lêer?
Die volgende oggend vyfuur bel my pa ons wakker om ’n Ghana-telefoonnommer te gee wat ons moet skakel. Die dief het die vorige aand deur my kontakte geblaai en die enigste Afrikaans wat vir hom sin gemaak het, was Mamma. Hy weet toe te vertel dat hy nie geweet het dat hy ’n gesteelde item koop nie en voel sleg, of iets. Gmf! Ons kan die foon by hom terugkóóp – natuurlik.
Ek ís verknog aan my foon. Die hoofrede is dat dit ’n Kersgeskenk van my man was drie jaar gelede. Verder is dit natuurlik díe manier van vinnige, daaglikse kontak hou met my liefste mense. Na ’n week se heen-en-weer met die krimineel seëvier sy rasionele vrees dat ons met die polisie vir hom op die afgespreekte plek sal wag en misluk verdere onderhandelings. Die volgende naweek seën my man my met ’n nuwe foon en is ek met ’n lied in my hart weer terug op die lugweë na ’n bedroë week.
As iemand êrens langs die pad dalkies ’n slimfoon met liggroen oortreksel probeer smous – koop dit asseblief en bel maar vir Mamma – sy sal my laat weet.