Om heel te wees
Al het Lucia van Heerden (37) se ouers kleintyd al agtergekom dat haar een been effe korter as die ander is, het sy steeds op skool entoesiasties aan ballet en akrobatiese ballet deelgeneem.
In graad 7 is sy geopereer om haar linkerbeen te verleng.
“Ek het ’n normale lewe gelei en ná skool verpleegkunde deur die weermag studeer. Ons het militêre opleiding gekry – dit was nie ligte diens nie maar ek kon aktief meedoen.
“Ek het in Pretoria as ’n kliniese praktykbestuurder gewerk toe ek op ’n dag ’n pasiënt vang wat duiselig geword het. Iets in my linkerbeen het meegegee. Die bevinding was dat my been destyds nie behoorlik aangegroei het nie.
“Ek is geopereer en ‘ter wille van beter bloedtoevoer’ is my been gebreek – sonder my toestemming. Voor die ingreep is die opsie nie eens genoem nie.
“Ek het oor my been getreur soos oor ’n kind. Ek het sewe jaar van my lewe gemis” – Lucia van Heerden
“Ná nog ses maande se behandeling het ek net 43 kg geweeg en my eerste septiese skok beleef. ’n Salmonella-infeksie het 10 cm van die been weggevreet. Die situasie was so sleg dat ander spesialiste óf nie wou opereer nie, óf ’n deel van die been wou afsit. Ek het botweg geweier. ’n Amputasie was my grootste vrees. Ek sou eerlikwaar eerder sterf as om my been te verloor.
“My huwelik het weens die spanning tot niet gegaan en ek moes uit my werk bedank. Ek het alleen gewoon en was te swak om my uit die bad te lig. Die pyn was onbeskryflik. Ek het meer voorskrifte vir pynstillers gehad as wat ek wil erken, en wanneer ek desperaat was, het ek die uitwerking met alkohol aangehelp.
“Emosioneel het ek heel onder gaan draai. Dit het soms gevoel asof my lewe geen waarde het nie. Ek het op my einde gesit en wag. My broer moes ’n konferensie in Pretoria bywoon en het by my oornag. Hy was geskok oor my kritieke toestand en het my ouers op hul plaas in Natal laat weet en hulle het my die volgende dag kom haal.
“Sewe jaar van chroniese pyn, herhaalde infeksies en 45 operasies – onder meer vyf pogings om been uit my heupe oor te plant – het gevolg. Ek het steeds hardnekkig teen ’n amputasie baklei en nie omgegee wat die medikasie en narkose aan my liggaam doen nie. Die pyn- en kalmeermiddels het my in ’n ander wêreld laat leef. Ek het sewe jaar van my lewe gemis.
“Ek was nie ‘daar’ om die spesiale oomblikke te ervaar nie”
“My ouers het álles gedoen wat hulle kon, tot ’n motor verkoop om vir ’n operasie te kon betaal. Ek was bitter – ek het geglo ek word gestraf vir iemand anders se nalatigheid. My pa het vir my gesê die woede vreet my van binne op.
“My ma het my by die skool waar sy die hoof was, betrek. Dit het my lewe weer sin gegee. Ek het natuurwetenskap gegee en ’n gesondheidsorgstelsel begin – oë en ore getoets, die kinders geïmmuniseer … Hul onvoorwaardelike liefde het my deur die operasies gedra.
“Ek het by die knap spesialis dr. Keith Hoskings uitgekom wat die verrotte been uit my linkerbeen verwyder en die fibula, vel en are uit my gesonde been oorgeplant het. Dit was ’n wonderwerk toe die been groei maar daar was te min enkelbeen om die pen vas te hou en ek het weer septisemie ontwikkel. In ’n operasie om my enkel te vervang, het ek epileptiese aanvalle gekry. My liggaam het genoeg gehad. Die dokter het gesê al wat oorbly, is ’n amputasie. Ek het geweet hy is reg.
“Die swaarste was om my ma met die nuus te bel. My ouers het soveel opgeoffer om my te help om heel te bly. Dis aan dr. Hoskings te danke dat my been onder die knie afgesit is en nie daarbo nie. Ek het oor my been getreur soos oor ’n kind. Dit was jare lank my ‘baba’; ek het dit versorg, daarvoor geveg, daarvoor gebid.
Lees meer oor wenke vir mense met amputasies
“Die fisieke genesingsproses het tyd geneem, en ek moes leer om anders te beweeg. As ’n danser was ek altyd volledig in voeling met my liggaam – nou wou niks logies werk nie. Ek het ’n keer reg op my linkerbeen geval – weer ’n operasie. Ek het besluit tot hiertoe en die medikasie wat my in ’n waas laat leef het, laat staan.
“Dit was drie jaar gelede. Toe ek terug in die regte wêreld was, het alles intussen verander. My vriende was ouer, party het kinders gehad, die tegnologie het ontwikkel. Ek het die eerste keer klein plooitjies onder my oë opgemerk.
My emosies was nie meer afgestomp nie. Ek kon die rouste hartseer en mees intense vreugde ervaar.
“Om te aanvaar dat jy ‘gestrem’ op vorms moet invul, is nie maklik nie. Jou bekende werklikheid lê aan skerwe. Jy moet jou nuwe wêreld leer ken en skoonheid en sekuriteit daarin vind.
“Ek was skaam. Ek hou nie van simpatieke kyke nie. Ek het ook nie besef wat dit kos en verg om ’n prostese te kry wat goed pas nie. Maar met die hulp van ’n uitsonderlike ortotis, Jaco Deist, het ek in so ’n mate herstel dat ek my eie plekkie in Pretoria kon kry en weer begin verpleeg.
“In 2015 het ’n vriendin voorgestel dat ons vir ’n lewensmaat vir my bid. Ek was gelukkig op my eie, maar ontmoet toe vir Attie Pienaar, ’n mediese dokter. Toe ek hom die eerste keer van my been vertel, sê hy: ‘’n Mooi meisie wat haar been verloor het, bly ’n mooi meisie.’
“Attie se eerste vrou is oorlede en die feit dat ons albei die pyn van verlies ken, bind ons hegter saam. Ek het nie net vir hom lief geraak nie, maar ook vir sy drie kindertjies. Wanneer dié artikel verskyn, is dit tyd vir ons wintertroue!
“Alles het uiteindelik in plek geval. Dit voel nog soms of die aarde te vinnig draai, maar ek omarm die chaos. Ek het ’n gróót geskenk ontvang.”
Lees hier wat met Lucia gebeur het, ’n paar dae voordat sy sou trou.
’n Tweede kans
Megan Allely (27) van Kaapstad was net vier toe sy ysskaats-lesse begin neem het. “Ek het altyd langs die baan gedans terwyl my ouer suster skaats – ek dink my ma was bang ek klouter oor die reling!”
Gou was die ys Megan se wêreld. As figuurskaatser het sy ’n rits goue medaljes in Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkomste gewen en in 2002 die tweede plek in die Golden Bear-kompetisie in Kroasië verwerf – net een van talle internasionale kompetisies waaraan sy deelgeneem het.
“Ná matriek het ek Sportwetenskap aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer. In my tweede jaar het my klas- en skaatstye oorvleuel en dit was moeilik om by te bly wanneer ek vir kompetisies moes weggaan. My ouers het voorgestel ek besluit waarop om te fokus. Omdat ek bevoorreg was om te kon studeer en geweet het die een of ander voorval kon my toekoms as figuurskaatser kortknip, het ek besluit om op my studie te fokus. Ek het reeds op sestien as afrigter begin werk en geweet ek sou dit my loopbaan maak. In 2012 het ek ’n honneursgraad in prestasiesport behaal en in 2013 as ’n afrigter van figuurskaats, krag en kondisionering begin werk.”
Intussen was Megan al drie jaar lank van ’n knop in haar borsbeen bewus. “Dit het groter geword en seer wanneer ek my borsspiere baie gebruik. In Januarie 2015 het ek ’n torakschirurg, prof. Anthony Linegar, gespreek. Hy het gesê op die X-strale lyk dit na kraakbeen wat verdik het maar volgens die CT-skandering was dit ’n gewas wat deur die borsbeen in die hart en longe ingroei. Hy wou dit onmiddellik verwyder. Dit was duidelik omlyn en hy het goeie moed gehad dat hy die hele gewas sou kon uithaal.
“Dit was ’n geweldige skok. Daar was ’n groot kompetisie op hande. Wie sou na my studente omsien? My ouers kon my later wel oorreed om my gesondheid voorop te stel.
“Die twee weke wat ek op die operasie moes wag, was uiters spanningsvol”
Was dit kanker? Sou ek ná die operasie wakker word? Gestel daar was komplikasies?
“My mense het my gedra … my suster het van Johannesburg gekom om my by te staan. Ek het ’n epiduraal gekry en prof. Linegar het die gewas verwyder. Hy moes deur die borsspiere sny en dit weer heg. Hy het die borsbeen met ’n spesiale soort plastiek en maasdraad vervang.
“Dit was baie pynlik. Van dag twee af moes ek fisioterapie kry en die volgende dag begin loop. Ek kon nie reguit loop nie!
“Ek was fiks toe ek geopereer is, en het my voorgeneem om my krag so gou moontlik te herwin. Ek wou binne drie maande weer normaal funksioneer.
“Die uitslag van die toetse was laegraadse kanker van die kraakbeen. Dis nie aggressief nie en groei stadig. Volgens prof. Linegar is alles verwyder en bestraling en chemoterapie was onnodig.
“By die huis moes my ma my help was, aantrek en hare kam. Ek mag nie my arms hoër as my bors gelig het nie. Ek het intensiewe fisioterapie gekry en my geliefde, Heinrich Painczyk wat besig is met sy meestersgraad in Sportwetenskap, het my help sterk word.
“’n Paar dae ná die operasie was ek ’n uur lank by die skaatsbaan. Ek kon nie wegbly nie! Die tweede maand het ek studente afgerig van die kant van die baan af. Die derde maand was ek saam met hulle op die ys! Ek het twee maal geval en groot geskrik, want ek was bang iemand skaats in my vas en beseer my bors. Gelukkig het my pa, wat die algemene bestuurder by die skaatsbaan is, dit nie gesien nie!
“Ek het nie my selfvertroue verloor nie – skaats is vir my so natuurlik soos asemhaal, maar ek kon my arms aanvanklik baie beperk gebruik. As ek nog aan figuurskaats wou deelneem, sou dit groot probleme geskep het. Ek is so bly ek het op my eie besluit om daarmee op te hou.
“In Mei en Julie 2015 het die X-strale gewys alles is in orde, maar in Februarie vanjaar was daar ’n knop in my long. Dit kon beteken die kanker het versprei, maar prof. Linegar wou nie die ergste verwag tot die gewas groter was nie. Ek moes in April teruggaan.
“Dit was die moeilikste twee maande van my lewe. Ek het gesukkel om positief te bly – wat as die kanker versprei?”
“Die naweek voor ek moes teruggaan vir die Aprilskandering het my studente aan ’n kompetisie deelgeneem. Met die prysuitdeling is ek geroep om ’n spesiale prys te ontvang. Almal het begin fluit en skree en toe sien ek Heinrich agter my op die ys. Die ligte is afgeskakel, musiek het gespeel en net daar vra hy my toe om met hom te trou. Hy wou dit doen voor ons die uitslag van die mediese toetse kry.
“Die skandering het gewys die knop het opgelos. Dit was weg!
“Ek moet gereeld getoets word, maar ek weet nou die lewe is te kosbaar om jou oor kleinighede te bekommer. Ek was voorheen nie juis godsdienstig nie maar deesdae is ek deel van ’n wonderlike geloofsgemeenskap.
“Ek weet my werk is my lewensdoel. Ek het die sport lief en ek kan ’n verskil maak. My ideaal is om ’n skaatser af te rig wat Olimpiese Spele toe gaan. En ek droom van ’n gesin … ”