T-been met ansjovisbotter, gebakte uie, tjips & boontjieslaai
Ingredients
- Ansjovis-en-sampioen-botter
- (Gegeurde botter werk baie goed op steak. Jy laat skyfies van die botter op die warm steak smelt om die vleis heerlik te geur.)
- 125 ml (½ k) gedroogde porcini
- 180 ml (¾ k) warm water
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 5 ml (1 t) gekapte knoffel
- 3-4 ansjovisfilette, afgespoel
- 125 g botter
- 30 ml (2 e) pietersielie, fyn gekap
- Gebakte heel uie
- 8 middelslag uie, ongeskil
- 45 ml (3 e) botter, gesmelt
- 45 ml (3 e) olyfolie
- Boontjieslaai
- (My gunstelingslaai saam met geskroeide steak.)
- 200 g fyn groenboontjies
- 30 ml (2 e) olyfolie
- Maldonsout of enige ander goeie soutvlokkies
- 200 g kersietamaties
- 45 ml (3 e) dennepitte, gerooster (of sonneblomsade, want dennepitte is vreeslik duur)
- Posh tjips
- (Ek het dié posh tjips by 96 winery road raak geëet en onmiddellik daaraan verslaaf geraak. Hier is my weergawe.)
- 8 groot aartappels, geskil en in kwarte gesny
- 45 ml (3 e) olyfolie
- Maldonsout of enige ander goeie sout
- 60 ml (¼ k) fyn gerasperde parmesaan
- 15 ml (1 e) truffelolie (ja, dié wat so duur is, maar jy gebruik darem net ’n bietjie op ’n slag! Kry dit by Woolworths).
Instructions
Ansjovis-en-sampioen-botter
1 Sit die sampioene in die water en hou eenkant.
2 Braai die knoffel en ansjovisfilette oor matige hitte in verhitte olyfolie tot die ansjovis wegsmelt.
3 Voeg die sampioene met die water by die knoffel in die pan en braai tot die water weggekook het. Laat afkoel.
4 Verwerk die ansjovismengsel, botter en pietersielie in ’n voedselverwerker tot glad. Skep die botter op ’n skoon vel waspapier en rol styf op. Rol die punte toe en hou in die yskas tot benodig.
Gebakte heel uie
1 Sny ’n kruis aan die bokant van elke ui – moenie deursny nie, sit in ’n oondpan en gooi die botter en olie oor. Geur met sout en peper.
2 Bak vir 30-35 min. of tot sag en goudbruin.
3 Sit net voor julle eet ’n skyfie van die ansjovis-en-porcini-botter in elke uitjie.
Boontjieslaai
1 Kook die groenboontjies vir 3-4 min. of tot amper gaar in gesoute water. Dreineer en dompel dadelik in yswater. Dreineer.
2 Verhit die olie in ’n pan oor matige hoë hitte. Braai die tamaties vir 4-5 min. daarin, geur en voeg dan die boontjies en dennepitte by. Braai tot deurwarm en sit voor.
Posh tjips
Voorverhit die oond tot 200 °C.
1 Pak die aartappelkwarte op ’n oondpan en meng die olyfolie deur. Strooi die sout oor en rooster vir 35-40 min. of tot gaar en goudkleurig. Draai dit eenkeer om.
2 Haal die aartappels net voor ete uit die oond, sprinkel die truffelolie oor, meng deur en strooi die gerasperde parmesaan oor. Sit warm voor.