Reeds 200 jaar voor Christus is rose in Noord-Afrika en Suid-Italië verbou om na Rome te stuur! Die blomknoppe en blomblare is by feesvieringe gestrooi en in blomstringe en kranse ingeryg as versierings in tempels en paleise by groot geleenthede soos wat dikwels nog vandag die geval is. Rose soos ons hulle vandag ken is verkry deur jare se kruisteling van verskillende soorte rose van oor die hele wêreld en in sommige gevalle ook uit (gelukkige) natuurlike mutasies of soos wat dit in tuinkringe bekendstaan ‘sports’.
Dié ‘sports’ word dan soos met bestaande roossoorte op ’n onderstam geënt en vermeerder of met ander rose gekruis totdat die verlangde kleur en vorm blom verkry word.
Die meeste wilde rose het almal enkel-blomme. Dubbel-blomme is stelselmatig deur kwekers ontwikkel en uiteindelik ook die gepunte voorkoms soos wat ons die meeste snyrose vandag ken. Daar is wel moderne kruisings wat steeds enkelblomme het maar net in meer dramatiese kleure as wat die wilde rose gehad het soos die Orange Bunny en Cocktail Orange Bunny.
Wilde rose waaruit alle moderne rose ontwikkel het kom hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond voor — die meeste uit Asië. Daar is geen rose wat inheems is aan die Suidelike Halfrond nie. Aan die einde van die 15de eeu is daar maar sowat 14 soorte rose in Engeland gekweek. Dis eers aan die einde van die 18de eeu wat Chinese-rose in Engeland aangekom het. Dis ook waar die naam hibriede T-roos vandaan kom. ‘Tea roses’ of ‘tea-scented roses’ het uit China gekom. Dié rose se geur het die Engelse met hulle tee wat in houtboksies uit China ingevoer is, blykbaar herinner aan ’n vars oopgemaakte boksie vol tee.
Teen hierdie tyd was tuiniers wel bekend met die kweek van rose sodat hulle kon begin eksperimenteer met die kruisteling van ou variëteite en die ’nuwe’ T-rose.
Die T-rose het nuwe potensiaal laat ontvou vir ernstige rooskwekers wat betref blomvorm, kleur en geur. — waarvan laasgenoemde soos almal weet ongelukkig dikwels verlore gegaan het in die proses! Deur die jare het daar talle kruisings ontstaan en sedertdien is daar jaarliks talle nuwe roossoorte beskikbaar, behalwe die ewigontwykende ….ware, blou roos! Rudyard Kipling het selfs gedigte oor blou rose geskryf.
Kwekers het selfs al die geen wat die blou kleur in blomme veroorsaak (delphinidin) uit gesiggies gekloon om tog net ’n blou roos te kry, Eers het hulle net ’n baie donker ‘burgundy’ roos gekry! Maar in 2004 het ’n groep Japanese en Australiese navorsers met dieselfde tegniek dit na 14 jaar se navorsing reggekry om wél ’n blou roos te teel! Die roos is toe in Australië en Amerika eksperimenteel verbou ten einde dit as nuwe roos te registreer en dit te begin verkoop. Al die jare het die blou roos ons bly ontwyk soos die ‘hoop teen onvolvulde liefde’ waarvan blou rose in die Ooste ’n simbool is, maar dit lyk nou tog of die hoop wel nooit beskaam nie!