Dis nie moeilik om te begryp waarom Jeju-eiland (plaaslik bekend as Jeju-do) die Suid-Koreane se trots én hul gunsteling vakansiebestemming is nie. ’n Onlangse besoek aan die vulkaniese eiland suid van die Koreaanse peninsula, het my aangenaam verras.
Met my hartsvriendin aan my sy – al die pad van Suid-Afrika gereis om vir my kom kuier – klim ons op ons 50-minute vlug van Busan na Jeju. Dis somervakansie in Korea. Die lug is drukkend en die son skroeiend. Al is die weer ook hóé bedompig, ons gaan dié eiland platstap vir die volgende vyf dae.
Sommer met die eerste oogopslag is ek vreeslik beïndruk met Jeju, wat geheel en al gevorm is deur vulkaniese ontploffings. Dis juis om dié rede dat dit in 2011 aangewys is as een van die Nuwe Sewe Natuurwonders van die wêreld. Die hele eiland is dan ’n vulkaniese museum!
Op die busrit vanaf die lughawe na Seogwipo, ons blyplek vir die volgende twee aande, loer ons na die toeristekaart wat ons op die lughawe gekry het.
“Hier is 368 oreums op die eiland,” lees my vriendin voor.
“Oe, indrukwekkend!” sê ek geamuseerd.
Nie een van ons het op daardie stadium die vaagste benul wat ’n oreum is nie, maar ons vind wel later uit dat dit ’n vulkaniese sone is wat wat gekenmerk word deur ’n groterige heuwel. Jeju is oortrek met oreums.
Elke paar kilometer gedurende die busrit gewaar ons ook eienaardige standbeelde van mannetjies met sampioenvormige koppe langs die pad. Na ’n rukkie se soek, lees ons iets raak daaroor: “Die hareubang, eie aan Jeju, is jare gelede uit vulkaniese klip gekap en langs ingange geplaas as ’n simbool vir beskerming en vrugbaarheid.”
Vir die soveelste keer is ek dankbaar vir ’n reisgids. As mens in ’n land rondtoer waar bitter min mense Engels kan praat, is jou inligtingsbronne beperk tot ’n toeristekaart, Rough Guide of Lonely Planet. Dink nou net watter raaisel hierdie mannetjies sou gewees het sonder ons wondergidse.
Keer op keer vind ek dit fassinerend om te sien hoe gedeeltes van ’n land so geweldig van mekaar kan verskil. Hoe elke streek, provinsie of eiland sy eie spesialiteite, plaaslike disse, fabels en natuurlike wonders oplewer.
Jeju het onmiskenbare Koreaanse trekke, maar is tog op ’n manier heeltemal anders!
’n Plattelandse atmosfeer en asemrowende natuurskoon is wat dié eiland so besonders maak.
Daar is nartjieboorde en tradisionele klipmure om landerye van mekaar te skei. Daar is ou dorpies waar inwoners nog in grasdakhuisies woon, en hul geld verdien deur plaaslike frambooswyn aan toeriste te verkoop. Kuslangs is die water ’n helder turkoois, sommige strande spog selfs met ’n palmboom of twee, en vakansiehuisies is vrolik getooi in dakkies van oranje en blou.
Dit is hoe Korea moes gelyk het voor die tyd van tegnologie en wolkekrabbers, dink ek by myself. Voordat die land so oorbevolk begin raak het. Die tyd voor die meeste Koreane begin stede toe trek het om vir reuse soos Samsung en LG te gaan werk.
Jeongbang waterval
Vir die volgende paar dae word ons telkens verras deur Jeju se geheime. Ons besoek Jeongbang – ’n waterval wat in die see uitstort – en Oedolgae, die “eensame rots”, wat kiertsregop in die oseaan uittoring.
Ons besoek ook die Yakcheonsa–tempel, wat ons asems geheel en al wegslaan. ’n Vriendelike monnik neem aan dat ons vlot Koreaans kan praat, en babbel voort terwyl hy ons op ’n toer neem deur die indrukwekkende vier-verdieping Buddhistiese tempel. Die hoofingangsportaal spog met vuurspuwende drake en rustende goue buddhas – onder ’n plafon bedek met skelpienk lotusblomme.
Die Yakcheonsa–tempel
Uitgevat in ons stapskoene en dik lae sonbrandroom, durf ons ook Hallasanberg aan – die hoogste punt in Korea. Die roete wat ons gekies het lewer asembenewende uitsigte van hoë klowe en woude wat verder strek as wat die oog kan sien. Ons het dit so ampertjies tot bo gemaak!
Die vorige middag het ons die Ilchulbon geklim – ’n kroonvormige berg gevorm deur opgehoopte vulkaniese as van meer as vyf duisend jaar gelede. Die steil trappies na die bo-punt was absoluut die moeite werd. Die pragtige uitsig oor die onderliggende dorpie, Seongsan, vorm met sonsondergang ’n merkwaardige prentjie!
Met ons laaste dag op die eiland besoek ons die Manjanggul-grot: ’n lang, ondergrondse tonnel van bykans nege kilometer waar daar eens kokende lava gevloei het. Skrikwekkend!
Die volgende oggend, na ons reeds die eiland verlaat het, ontvang ek ’n boodskappie van die gastehuiseienaar. Ons aandenkingsgeskenkies (nartjie-en kaktusgegeurde sjokolade) het daar agtergebly. Hy vra of hy dit vir ons moet bêre.
“Geniet jy en jou gesin dit maar,” stuur ek terug. Ek sal weer koop as ek terugkeer later die jaar.