Prof. Cyril Karabus (78) is onwetend in sy afwesigheid skuldig bevind aan manslag en bedrog nadat ’n driejarige kankerpasiëntjie van Jemen, wat hy in 2002 in Abu Dhabi behandel het, gesterf het. Toe word dié afgetrede pediatriese onkoloog tien jaar later op ’n oorstopvlug vanaf Kanada in Dubai in hegtenis geneem. Hy is ná nege maande vrygespreek en ná nog weke se burokratiese rompslomp uiteindelik toegelaat om na Suid-Afrika terug te keer. Daarna het verskeie lande mense afgeraai om in die Golf-lande te gaan werk omdat jy per ongeluk of onwetend ’n wet kan oortree wat jou in die tronk kan laat beland. ’n Paar vroue wat in Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate gewerk het, of nog werk, meen dit is veilig en wat met prof. Karabus gebeur het, is ’n uitsondering.
Ek het nie regtig onveilig gevoel nie, maar was wel versigtig – Judy Lessing
’n Koeriermaatskappy het Judy Lessing, ’n rekenmeester van Kempton Park, gevra om by hul kantoor in Dubai te gaan werk. Sy meen as jy bedag is op godsdienstige en sosiale wette is jy veilig.
“Daar was ’n geval waar ’n vrou aangekla en verhoor is omdat sy alleen saam met ’n man in ’n vertrek was. Ongetroudes mag ook nie saamwoon nie. Toe my man my in Dubai wou besoek, moes ek my huweliksertifikaat toon.” Sy het lank ná haar vertrek uit Dubai ’n rekening gekry wat sy reeds betaal het, maar het dit ná ’n gesukkel liefs weer betaal. Dit het al gebeur dat mense wat in Dubai oorgestop het, weens uitstaande skuld in hegtenis geneem is. Sy was bewys daarvan dat jy kleredrag, maar het baie Westerlinge met skrapser klere in winkelsentrums opgemerk. “In openbare plekke is kennisgewings wat versoek dat jy ‘respectful’ moet aantrek.”
Sy sê plaaslikes, wat Emirati genoem word, koop peperduur ontwerpersklere, skoene, sonbrille en parfuum. Hulle dra dit onder hulle tradisionele “abaya” (vroue) en “dishdash” (mans) wat van die duurste materiale gemaak is.
“Geloof speel ’n groot rol. Daar is ses keer per dag gebedstye en dan sluit winkels en gaan alle Moslems na die moskees of gebedskamers. Daar is luidsprekers wat die gebedsoproep doen en die gebede uitsaai.” Sy vertel van vroueklubs, spa’s en oorde waar die vroue bikini’s en sekulêre klere mag dra. “Die personeel is vroue, en geen mans word toegelaat nie.” Sy het nooit onveilig gevoel nie, maar was wel versigtig. “Ek moes eenkeer in die fliek op ’n ander plek gaan sit, want daar was ’n man wat aangedring het om reg langs my te sit in ’n halfleë fliek. Hy wou ’n geselsie aanknoop. Jy kan snags alleen rondloop, maar ek was maar versigtig vir stil, donker plekke.”
In die meeste van die gevalle waar Westerlinge in die moeilikheid beland het, was dit deur hul eie toedoen of onkunde. Drank en losbandigheid speel ’n ook rol, meen sy. “Ek het veilig gevoel in gewone taxi’s hoewel hulle jou verkul deur draaie te ry. Jy kan ’n pienk vroue-taxi gebruik wat net deur vroue bedryf word, maar ek het verkies om met my huurkar te ry.” Sy is gewaarsku teen gesprekke met arbeiders, gewoonlik padbouers en konstruksiewerkers (daar is duisende) wat van Indië, die Filippyne, en Iran kom. Haar maatskappy het hulle vooraf baie inligting oor Dubai gegee en iemand aangestel om hulle te help met prosesse om in te burger. “Jou werkgewer moet toestemming gee dat jy ’n blyplek mag huur, bestuurderslisensie kan kry en ook dat jy ’n televisiekanaal en telefoon mag huur. Jy kry ook ’n brief wat jou toestemming gee om ’n ‘dranklisensie’ te bekom. Jy mag dan by sekere plekke drank koop, maar mag dit net tuis drink. Daar is hotelle en kuierplekke wat peperduur drank bedien. Baie ex-pats vergryp hulle daar.” Sy waarsku teen administratiewe rompslomp.
“As jy ’n probleem het, stuur hulle jou rond met die houding dat hulle jou ’n guns bewys. Die meeste amptenare is mans. Dokumente word met die hand uitgeskryf, en alles kry ’n stempel.”
Sy en haar man was geskok toe hulle by ’n wegneem-eetplek gesien het hoe sleg ’n man sy vrou behandel.
“Hy het net een maaltyd bestel, klaar geëet en die oorskiet voor haar neergeplak. Sy het ’n metaalmasker oor haar gesig en mond gedra pleks van ’n sluier. Ek het ’n paar vroue met die maskers gesien.”
Jy beweeg nader aan God en doen baie selfondersoek. – Annalie Swanepoel
Annalie Swanepoel, ’n teatersuster by die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort, het die afgelope twee jaar as verpleegster en au pair by die AlSaud- familie in Riyadh gewerk. Sy het hul babadogter opgepas. Van haar grootste uitdagings was die verskil tussen die Moslem- en Christengeloof en kultuur. “Ek moes ’n abaja dra om in die openbaar te verskyn.” Dit was vir Annalie verbode om met mans vriende te maak of ’n verhouding aan te knoop. Alle moets en moenies word soos wette voorgehou en Annelie, het soos alle Westerlinge, fyn getrap om die wette te gehoorsaam. “Ek kon nie in die openbaar alleen saam met ’n man loop nie. Jy kan tronkstraf kry daarvoor.”
Van die kultuurverskille wat vir haar interessant was, was dat vroue in Riyadh nie mag motor bestuur nie en ook nie begrafnisse mag bywoon of in ’n verkiesing mag stem nie. “Getroude vroue moet hulself bedek en hul private klere, hare en gesigte mag nie in die openbaar sigbaar wees nie. Wanneer ’n vrou menstrueer, word sy as onrein beskou en slaap haar man nie saam met haar in dieselfde bed nie.” By wegneemete-plekke staan mans en vroue nie in dieselfde ry nie, en hulle gaan ook nie saam na gesellighede soos troues nie.
Sy verduidelik hoe die regstelsel werk: Jy kan skuldig bevind word aan ’n daad as vier of meer mense kan getuig dat jy iets verkeerd gedoen het. “Die familie vir wie ek gewerk het, was baie goed vir my. Ek het verskeie lande saam met die gesin besoek en in hul private straler gevlieg. Ons is dan oor die aanloopbaan tot by die vliegtuig vervoer en hoef nie eens deur die lughawe beweeg het nie.” Sy was soms die enigste Westerling en het dikwels baie eensaam gevoel. “Jy beweeg nader aan God en doen baie selfondersoek.
Annelie Swanepoel
Jy sal beslis vasgevat word as jy wette oortree. – Florence Reynecke
Florence Reynecke werk al twee jaar in Riaydh, Saoedi-Arabië as persoonlike assistent en het ook voorheen in Dubai gewoon. “Ons bly in ’n maatskappy-compound wat alles bied wat ons nodig het soos ’n gimnasium, tennis- en muurbalbane en ’n swembad.” Westerlinge word uitgereik met ’n iqama (sodra jy permanente verblyf hier het). Dit is identiteitskaart wat jy altyd by jou moet hê. Dis vir haar vreemd dat wette in baie opsigte streng is, maar padreëls geld skynbaar nie. “Hulle jaag letterlik op enige pad en vleg deur die verkeer!” Sy en ander Westerse vroue dra abajas en bedek hul koppe by sommige plekke waar die Mutawa (godsdienstige polisie) dit beveel.
In alle restaurante is daar ’n manlike afdeling en familie-afdeling. “Ons word in die familie-afdeling toegelaat. As jy meer privaatheid soek, soos die meeste van hulle, kan jy agter ’n skerm of selfs in ’n gedeelte sit waar daar dik gordyne is waaragter jy bedien word.” Haar man was een keer baie siek en sy moes hom in die hospitaal met ’n rolstoel rondstoot vir behandeling. Selfs toe moes sy hom alleen laat in die mans se wagkamer terwyl sy in die vrouewagkamer moes gaan wag tot sy geroep is. “Daar is nie aanpaskamers vir vroue in klerewinkels nie. In manswinkels is daar wel. Vroue moet eers vir artikels betaal en as daar tyd is, in die openbare badkamers gaan aanpas.” Sy is jammer vir die plaaslike vroue wat nie dieselfde vryhede as mans het nie.
As jy nie jou skuld betaal nie, kan jy tronkstraf kry. – Helene Benade
Helene Benade woon in Dubai waar sy elf jaar as persoonlike assistent by ’n groot IT maatskappy werk
“Ek kry ’n betreklike goeie salaris en ons word nie belas nie.” Sy reis baie “want alles is naby”. “Karre kort omtrent ’n derde van die prys as in Suid-Afrika en petrol is spotgoedkoop. As jy nie jou skuld betaal nie, kan jy tronkstraf kry. Gehoorsaam wette en respekteer die Moslem-kultuur. Gedurende Ramadan mag jy nie water drink of eet behalwe in spesifieke plekke nie. Dan moet jy ook nie te veel lyf in die winkelsentrums wys nie.
“Mense neem aanstoot. Daar is diegene wat dit doen, maar ek dink dis onsmaaklik.” Dit was nie vir haar moeilik om by die kultuur en wette aan te pas nie, want sy is deel van ’n x-pat gemeenskap. Sy sorg dat sy die wette gehoorsaam en voel veilig.