Nou lag ons éérs.
Dink ek later: daar is ‘n stuk bevryding om soms, net soms, beheer te verloor. Oor te gee en toe te laat dat die chaos jou oorweldig. Die Maagd in my sluk swaar. Sy hou van orde, beheersing, die lewe in duidelik-gemerkte boksies op die rak.
Dis nege-uur, Vrydagaand, Johannesburg. Ons klim uiteindelik op die oorvol vliegtuig, reeds ‘n uur laat. Langs my skuif ‘n jong man brom-brom in. Sy dagoud-klere gekreukel, oë moeg. Mis in Kaapstad het dié oggend gekeer dat sy vlug uit Londen in die Moederstad land. Hy sit al die hele dag op O.R. Tambo, sy geduld is min, sy irritasievlakke hoog. Hy vroetel met sy boek, skuif heen-en-weer in die klein, krimpende middelste sitplek. Sy vingers lughawe-taai, sien ek.
‘n Ent weg Kaap toe kom die nuus. Die mis is terug. “Mens weet nooit hoe jou geluk draai nie,” sê Kaptein Opgewek. “Ons kyk wat ons kan doen.” Die vliegtuig daal. Daar’s ‘n wit kombers oor die Kaap; dit blink in die nag.
Dan, sonder waarskuwing, pluk Kaptein Opgewek die vliegtuig se neus hemel toe. ‘n Paar minute later kom die stem: “Die mis is te dik. Jammer, maar ek kan nie ‘n kans waag nie.”
Dis elf-uur, Vrydagaand, iewers in die lug op pad Noorde toe. My buurman staan woordeloos op, skuur ongeduldig paadjie-af.
‘n Paar minute later sien ek die taai vingers eerste raak. Dis twee klein botteltjies wit wyn. “Vir jou.” Hy’t nog twee in sy ander hand. Syne. “Nou’s die tyd om beheer te verloor,” sê hy en gooi die wyn soos koeldrank in sy keelgat af.
Ek giggel, onbeheersd. Sal ek, of sal ek nie? Die Maagd in my rol haar oë. ‘n Sluk wyn, sonder glas, net so uit die bottel? Te wild vir haar. Ek draai die wynbottel oop, ignoreer haar stem, die fladderende oë en sluk. Een salige sluk. Draai net so vinnig die bottel weer toe, prop dit saam met die ander een in my sak, maak my oë toe en hoor vir Elvis sing:
What’s wrong with me?
I’m itching like a man on a fuzzy tree
My friends say I’m actin wild as a bug
I’m in love
I’m all shook up
Mm mm oh, oh, yeah, yeah!
Vanaand is ek lief vir die lewe. Veral die onvoorspelbare. Die Maagd in my trek haar rok reg, stryk die nag se kreukels plat. Selfs sy het vir ‘n wyle oorgegee.
Skuins na een Saterdagoggend is ons terug in Johannesburg. My buurman so dronk soos ‘n spook. Die res van my wyn ook in sy keel af. Hy loer skuinsweg na my en slingergroet. “Verloor beheer. Net soms.”
Saterdagmiddag stap ek uiteindelik my huis binne. Terug na drie vlugte tussen die Kaap en Johannesburg in minder as 24 uur. Ek is wyser: soms moet mens beheer verloor om beheer te behou. Die Maagd knik. Sy’t iets geleer.
Tot volgende week,