STILTE
Sy het daarvan gehou om elke dag verby die mimiekkunstenaar te stap.
Hy was elke dag op sy plek onder die boom op die plein in Newtown. In wind en reën en in sonskyn.
Dit was al ’n gewoonte om haar haastige tred teater toe te onderbreek en sy stil kuns ’n paar minute te bewonder. Salige stiltes voor lang ure se repetisies.
Sy het munte eenkant gehou sodat sy elke dag een in sy hoed kon gooi.
Die man in die wit broek en swart-en-wit strepieshemp was haar vars bries vir die dag. ’n Stil kontras in die stadslawaai.
Sy stilte het met haar gepraat.
Hy was vir haar ’n vae herinnering aan haar tyd in Europa. ’n Stukkie mooi in die grouheid van die stad.
Op haar roete was daar ’n mengelmoes lewende wesens: haweloses, straatkinders, straatmusikante, vroue wat hopies lemoene en piesangs op sypaadjies verkoop, haastige kantoorwerkers en die akteurs soos sy wat teater toe stap.
Elke dag het sy die grasie van sy beweging en sy stil stories bewonder.
Hy was ’n lang man. Sterk wangbene en aristokratiese krom neus. ’n Mond wat woordeloos emosie kon oorvertel.
Die kwaliteit van sy kuns het haar laat vermoed hy kom iewers uit Oos-Europa. Hy het nooit gelyk of hy by die ander wesens op die plein hoort nie.
Daar het ’n band tussen hulle ontwikkel. Hy het haar soms ’n vinnige oogknip gegee om haar teenwoordigheid te erken. Dit het haar spesiaal laat voel.
Sy was lief vir die vibrerende ritme van die vervalle Johannesburgse middestad. Die kleurvolle mengsel van mense en klanke.
’n Jong man wat op drie snare ’n aansteeklike ritme uit sy kitaar kan tower. Die saksofoonspeler wat met sy toe oë in sy musiek leef.
Sy het gehou van die geure van goue vetkoeke wat in diep olie sis en goudbruin groenmielies op konkas. Die kontras van die petroldampe en die vrotheid van oorvol dreine.
Maar die mimiekkunstenaar was haar gunsteling.
Hy het sy stories afgewissel. Soms het hy met sy onsigbare hond aan ’n leiband agter haar aangestap. Dan het sy gelag. Hy het graag in sy onsigbare boks geklim en voel-voel met sy wit handskoene teen die wande gewys hy is vasgekeer. Sy kon sy benoudheid aanvoel.
Dit het vir haar soms gevoel of hy van sy stories net vir haar vertel.
Toe het al meer somberheid deur sy wit masker begin straal. Daar was ’n byna hulpeloosheid in sy blik.
Hy het sy stories begin verander. Soms het hy in sy onsigbare boks geklim, en meer as voorheen “gesukkel” om te ontsnap. Hy het met sy vuiste teen die kante geslaan om te “ontsnap”. Dan het hy ’n ent agter haar aan gestap. Elke dag ’n ent verder.
Eers het sy dit geniet. Maar dit het haar al meer ongemaklik laat voel.
Sy het soggens verby hom begin stap. Dan kon sy voel hoe sy oë haar volg.
Sy het hom een keer uitdagend aangekyk sodat hy kan sien sy laat haar nie intimideer nie.
Hy het in sy onsigbare boks geklim en ’n onsigbare venster oopgemaak. Hy het by die venster uit na haar gestaar. Sy kon sien hoe die trane van sy wange afloop.
Sy het ’n ander roete teater toe begin stap. Sy kon nie meer verby hom stap nie.
Een aand het sy haar verbeel sy sien sy wit gesig in die skemerte van die gehoor.
Soms het sy gevoel iemand agtervolg haar. Sy verbeel haar, het sy haarself oortuig. Tot sy een keer sy wit gesig tussen die massa mense ver agter haar op die sypaadjie gesien het.
Een aand na ’n vertoning het hy op die teater se trap gesit. Hy het beduie hoe sy hart uit sy binneste geruk is.
Sy het bang terug gehardloop die teater in.
Sy gesig het in nagmerries by haar begin spook. Desperate hartseer.
Die rol in Kaapstad het soos ’n verligting gekom. Sy wou wegkom van sy starende blik.
Sy het die koerantberig byna misgekyk.
“JOHANNESBURG: Die liggaam van ’n mimiekkunstenaar is op die stadsplein gevind. Hy het homself vermoedelik aan ’n boom opgehang. Die 39-jarige man, Andrei Ivanov, was van Russiese afkoms. Geen misdaad word vermoed nie.” Andrei. Sy naam was Andrei.