Wat ons besiel het weet ek nie. Op ’n Maandagoggend in Mei stap agt verwers ons huis binne. Gewapen. Kwaste, lere, plastiek. My moed sink. Vandag takel hulle die huis. Aan die binnekant.
Ek is impulsief. Doen dinge dadelik, vinnig en nie noodwendig self nie. My skoonsusters lag. Hulle weet: ek skep graag werk – vir ander. Oor hierdie een? Dalk het ek nie mooi gedink nie.
Nou te laat, wéét ek.
Die kinders is groot genoeg en ek is lus vir ligte lap op banke en stoele. Dis tyd. Weg met die praktiese leer, die koffietafel waarvan ’n klein hondjie iewers ’n hoek afgekou het en afgeleefde matte uit my studentedae.
Die klavier kry ’n ereplek kry in die voorhuis, die oorgroot boekrak trek sitkamer toe, die speelkamer word ’n TV-kamer en die kroegstoeltjies uit ’n vorige bedeling gee ek weg. Dan is daar die skildery met twee vrolike vet vroue. “Kyk Mamma, dis ek en jy.”
Goeiste, néé. Dít kan ek nie aan my dogter doen nie. Weg!
Dilemma: skuif ek al die meubels, hoe dan gemaak met die gate in die muur? Daar’s net een uitweg. Verf.
Dit was ’n moeilike dag op kantoor. Ek was nie voorbereid vir die chaos wat my daardie aand in die gesig staar nie. Met die tuiskom plof ek tranerig neer in die stof, tussen die lakens, skilderye en hope boeke op die vloer. Ek sien my kosbare lamp vergete op ’n bed neergesmyt en keer die histeriese gil net betyds. “Mamma, waar moet ons sit? Waar moet ons eet?” Selfs die kinders is van slag.
’n Nuwe laag verf bring soveel nuwe moontlikhede, dink ek toe ons al vier uiteindelik in een bed tot ruste kom. Die enigste bed in die huis wat nie toegepak is onder ons aardse besittings nie. Skilderye en meubels kry ’n nuwe plek, die huis ruik silwerskoon, splinternuut. Elke kraak toegeverf. ’n Kans vir oor begin. ’n Belegging. ’n Nuwe reis.
’n Jaar gelede het ek ’n soortgelyke belegging gemaak, ’n nuwe reis begin. Dáár, saam met my skrywer-ma in die beeldskone Boussac in skilder Louis Janse van Vuuren en vriend-vennoot Hardy Olivier se Chateau de la Creuzette het ek ’n nuwe laag verf gekry. Die geleentheid? ’n Skryfkursus onder die bekwame leiding van Dr Riana Scheepers. Sommer-net Riana.
Wat dit was weet ek nie. Dalk Louis se aansteeklike lag en sy passie vir poësie, Hardy se ongelooflike talent as dit by kosmaak en gentleman-wees kom, my ma se vermoë om die meubels in jou kop met laataand se lag en gesels stilweg-ferm te herrangskik en Riana wat dit regkry om die lagies ou verf een-vir-een af te skilfer tot jy poedelkaal daar staan.
Ek weet wel: na La Creuzette was niks weer dieselfde nie. Daar, tussen die ou-wêreldse mooi en in die voetspore van die Franse skrywer Georg Sand is die gate in my binnemuur oopgekrap en opgevul. Die krake toegeverf, ou matte weggegooi, meubels rondgeskuif. Ek was splinternuut.
Jy moet na die binnekant van jou huis kyk, glo ek. Die binnekant van jou siel ook. Met een verskil: geen verwer kan jóú binneste mooimaak nie, al is dit ’n span van agt. Dis die een job met nuwe moontlikhede wat jy self moet doen, dink ek en knipoog in die rigting van my skoonsusters. Húlle weet.
Tot volgende week,
Marí