Laatslaper pa’s skarrel moedeloos om nog ‘n sitplek in ‘n restaurant te kry of maak plan om by die huis te braai (“as die weer net sal hou,” sug hy). Tuis sukkel die spruite om die geheim van Mamma se moedersdag-geskenk te bewaar. “Mamma, jy weet,” begin die een. “Emmaaaaaa . . . jy mag nie sê nie!” Voor Sondag is daardie geheim uit.
So gaan dit by ons.
Maar vanoggend kry my moederhart swaar. ‘n Ontbyt-piekniek by die skool om Moedersdag te vier. ‘n Baie belangrike vergadering in Johannesburg, lank gelede reeds bevestig voordat die kwartaalkalender versprei is; die vliegkaartjie gekoop. Moeilik, dié werkende Ma-ding, neul ek in die oor van my geduldige man. Hy luister, sê wys liewer niks. Weet lankal van beter.
Daar is nie omdraaikans nie; ek span die ander moeders in my en my kinders se lewe in. So pak ek half vier vanoggend die propvol piekniekmandjie vir ons geliefde regterhand Sarah Saal van Springbok en aupair-wonder Jolene van Wyk. Vandag kos dit twéé vroue om Ma te speel.
“Mamma, moenie worry nie,” paai Le Roux na my verduideliking. “Dan kan ék mos die koek eet wat ons gister in die klas vir jou gebak het, né?” Ek sluk. “Mamma, dis okay. Jy kan Saterdagaand by my slaap,” troos Emma. “Ons sal vir Tannie Sarah en Jolene sing.”
Ek sluk weer; swaarder dié keer.
In die kar op pad lughawe loop die trane. Dit is soos dit is. En ek onthou hoe Dale Niehaus, ‘n ander moeder-na-aan-my-hart, my die oggend na ek my eerste kind ‘n eerste keer by dagsorg afgelaai het getroos het: “Kom kyk hier. Kyk daardie karre op die N1. Weet jy hoe baie ma’s het vanoggend hul kinders afgelaai? Die ma’s oorleef. Die kinders is okay. Jy sal ook wees.”
Hulle is. Ek is. Maar maklik? Aikôna.
‘n Ma bly ‘n ma, hoor ek my Ma Mariël sê. Dié vrou wat (saam met Pa Jean) vier van ons grootgemaak het, was ‘n verpleegster en het van sewe soggens tot sewe saans gewerk. Saans tienuur, na ons almal in die bed was, het haar ander, eie lewe begin. In ons grootwordtyd was sy baie meer as net ‘n werkende ma, sy was ook huisvrou, eggenoot en student.
“Mens doen wat jy moet doen, my kind,” hoor ek haar. Wonder-ma, dink ek nou. Al kon sy ook nie oral wees nie was (en is) sy altyd daar. Vandag nog weet ons dit.
Maar sonder die moeders in haar netwerk kon Mamma nie. Ouma Maria en Ouma Anna het oorgevat as sy moes weg, buurvrou Bettie McDonald het haar deel gedoen en tannie Carina Fick het kos aangedra. Om van die rits susters en ander gewilliges nie te praat nie.
Dan was daar Evelina.
Evelina Moolman was my ma se regterhand. Nanna, soos ons haar genoem het, is jare gelede reeds oorlede. ‘n Week of drie gelede spoor my ma na jare Nanna se seuns op. Drie van die vier (nou al pa’s en oupa’s) kuier ‘n Saterdag om en lag saam oor ons grootwordjare en die ma wat hulle en ons grootgemaak het. Hul bloedma. My ander ma.
Dit is soos dit is, dink ek ‘n tweede keer vanoggend. In die huise wat ek ken is daar altyd meer as een ma. Tannie-ma’s, suster-ma’s, skoonsuster-ma’s, vriendinne-ma’s, huishulp-ma’s, aupair-ma’s en selfs pa-ma’s.
Op Moedersdag klink ek ‘n glasie op julle. Want wat is ‘n huis sonder sy moeders?
Tot volgende week,
Marí