Daar’s ’n sagtheid aan Karlien van Jaarsveld. Dis in die manier hoe sy na jou kyk met daardie okkerneutbruin oë, skaam glimlag wanneer sy oor haar hangkas vol skoene bieg, of haar bene onder haar opkrul op haar ma se groot sitkamerbank. Maar dis veral in die manier hoe sy haar vrouwees uitleef. ’n Vrou na God se hart.
Dit maak nie saak waaroor jy haar uitvra nie, haar antwoord draai altyd by haar geloof. “Ek kan nie help nie!” sê sy, haal haar skouers op en druk ’n strooikussing styf teen haar lyf vas. “Die Here is die spil waarom my lewe draai.”
“Dis vir my vreemd as mense nie oor hul geloof wil praat nie. Hy’s dan die essence van als. Dis met Wie ek elke dag praat. Dis net so goed jy’s verlief en praat nie daaroor nie. Ek sal mal word.”
Die blondekop is gemaklik in ’n styfpassende, gebleikte denim, skelpienk bloes en ’n paar duifgrys wighakke. Ons kuier by haar ma en agent se huis.
“Ek is glad nie goed in die kombuis nie. Kos maak is nié my ding nie. My ma-hulle het my die bynaam ‘Swietie-koningin’ gegee, want ek het eerder lekkergoed geëet as om in kos belang te stel. Dis seker maar vandag nog so!”
Kyk jy na haar tinktinkielyfie, sou jy die teenoorgestelde glo. Haar gunstelingsoetgoed is Peppermint Crisp-tert en Lunch Bars. “Ek eet deesdae by my boetie-hulle. Sy vrou maak die lekkerste kos!” sê sy.
Bobby se vrou, Annatjie, is ook Karlien se beste vriendin. “Ek is gek na haar. ’n Mens ontmoet dikwels iemand wat jou aan ’n ander persoon laat dink, maar ek het nog nooit iemand ontmoet wat my aan Annatjie herinner nie. Sy’s uniek, daar’s niemand soos sy nie,” sê Karlien en skielik is haar oë vol trane.
“Skies!” sê sy en vee die trane met haar gemanikuurde vingers af. “Ek raak emosioneel oor haar, want sy’s so goed vir my en so spesiaal.”
Daar’s ’n inkblou kruis op haar regterpols en ’n ster op haar linkerarm. Sy praat nie maklik oor dié twee tatoeëermerke nie. “Ek is altyd so bang kinders sê omdat Karlien ’n tattoo het, mag hulle ook een kry. En eintlik wens ek dat ek die twee nooit laat aanbring het nie. Ek het die ster pas ná matriek gekry. Ek wou so graag iets doen wat ek nooit onder my ma se dak kon doen nie,” sê sy, en trek haar vingers deur haar los hare.
“As ek maar net daardie dag geweet het wat ek nou weet. My ma wás toe op veertig slimmer as wat ek op agtien was! Nou moet ek met die letsels van my eie, dom, keuses rondloop.”
“Die ster beteken niks. Dit was bloot cool – het ek destyds gedink. Die kruis het ek ná my eerste ontmoeting met Jesus laat aanbring. Maar ek’s beslis spyt daaroor dat ek dit met swart ink op my lyf laat merk het. Dis onnodig, want Hy’s in my hart, op my lippe, in alles wat ek doen.
“My kop het ná matriek maar lekker uitgehaak, maar dis dinge waaroor ek nie nou wil praat nie,” sê sy, en trek ’n sluier oor die rebelse tyd in haar lewe. “Ek het letterlik al die grense getoets en is nie trots daarop nie. Maar elke mens stap sy eie pad. Ek leer uit my foute. Ek sê elke dag dankie dat die Here my so mooi deur die rebelse tye beskerm het. Ek weet nie waar ek vandag sou wees as dit nie vir sy beskerming was nie.”
’n Mens kan nie help om te wonder watter impak haar ouers se egskeiding op haar lewe gehad het nie. Haar ma, Ronel, en pa, Bob, is geskei toe sy nege en Bobby agt was. “Dit was maar erg vir ons kinders. Baie dinge in die huis het noodwendig verander. As kind dink jy jy moet kant kies. Met hul rusies het ons eintlik in ’n stadium gewens hulle wil uitmekaar. En toe dit gebeur, toe is die mat onder ons uitgeruk. Maar die upside was dat ons elkeen meer geskenke met verjaardae en Kersfees gekry het!” spot sy.
Tog het Karlien ’n baie goeie verhouding met haar pa. “Ek bly steeds sy prinsessie,” sê sy ernstig. Sy en Bobby was mekaar se steunpilare in daardie tyd. En nou weer het Bobby alles gedoen wat hy kon om sy ouer sussie te ondersteun. Die twee het ’n besonderse verhouding.
“Ek dink dis omdat ons maar ’n jaar en drie maande verskil,” sê Karlien. Hulle het albei op hoërskool aan talentkompetisies deelgeneem. Bobby sou altyd as die wenner wegstap. Maar dit het niks tussen hulle verander nie.
“Dit het my in werklikheid baie geleer van wen en verloor, en hoe om teleurstelling te hanteer.”
Dit het Karlien dalk ’n bietjie langer as vir Bobby geneem om uiteindelik haar stempel op die Suid-Afrikaanse musiekbedryf af te druk, maar vandag pluk sy die soet vrugte van haar harde werk. In 2011 het sy en Bobby elkeen ’n Tempo-toekenning ontvang. Karlien vir Beste Nuweling, en Bobby vir Gewildste Manlike Kunstenaar.
Sy het ook drie Ghoema-toekennings ontvang vir Beste Vroulike Kunstenaar, Musiekvideo van die Jaar (Jakkals trou met Wolf se vrou) en Beste Popalbum van die Jaar. Haar debuut-album met dieselfde titel het platinumstatus bereik. Iets wat sy nie geglo het sal gebeur nie.
“Ek het eerlikwaar nooit gedink ek sal solo gaan nie,” erken sy. “Dit was weer eens die pad wat die Here vir my gekies het.”
Ná skool het sy eers bemarking gaan studeer. Maar dit was sommer net “om iets te doen” en was nie haar passie nie. “Ek het eintlik nooit in die klas gekom nie,” sê sy, en klink glad nie spyt oor die besluit om op te skop nie. Hierna het sy vir Bobby kitaar gespeel en as agtergrondstem opgetree, maar vinnig besluit sy wil haar eie band stig.
Dit was die begin van die rockgroep Revolusie.
“Ek het in 2008 die Here leer ken en besef my rock band-waardes en Sy waardes stem nie ooreen nie. Ek het die band gelos en vir ’n ruk nie werklik geweet wat om met my lewe te doen nie.”
Maar dit was nie lank nie of Johan Vorster Songs het haar vir ’n solo-album genader. Dié bruinoog kan boonop toneelspeel. In 2011 het sy saam met Steve Hofmeyr, Bok van Blerk, Jay en Liani in die fliek Platteland gespeel.
Karlien se gunstelingdeel van optredes is wanneer die kinders haar handtekening kom vra. “Ek’s mal oor hulle! Soms wil hulle my glad nie laat gaan nie. Kinders is so oulik en eerlik,” sê sy.
Sy is maar alte bewus van die voorbeeld wat sy aan jongmense stel. “Ek wil nie eendag hoor ’n kind het iets leliks of verkeerds gedoen na aanleiding van ’n voorbeeld wat ek gestel het nie.”
Al wat Karlien eendag wil nalaat, is die pad wat sy met God gestap het. “Dat mense deur my leefwyse ook na God sal hunker. Dis waarna ek streef,” sê sy doodnatuurlik.