Maklike geposjeerde eiers met mosterdsous
Ingredients
- Mosterdsous
- 45 ml witwynasyn
- 2 eiergele
- 120 g botter, in blokkies gesny
- 2 opgehoopte lepels korrelmosterd
- Geposjeerde eiers
- 8 eiers
- 250 ml (1 k) room
- gerasperde neutmuskaat
- hand vol grasuie, gekap
- hand vol pietersielie, gekap
- sout en gemaalde swartpeper
- Plus
- 30 ml ( 2 e) botter
- 4 murgpampoentjies, met ’n groenteskiller in linte gesny
- 8 snye roosterbrood
- 4 snye goeie ham, middeldeur gesny
- babaslaaiblare vir garnering
Instructions
Mosterdsous
1 Kook die asyn oor ’n hoë temperatuur af tot dit met die helfte verminder het, koel effens af.
2 Voeg die eiergele by die afgekookte asyn en roer deurentyd oor ’n lae hitte.
3 Voeg die botter stuksgewys by tot alles bygevoeg en gesmelt is. Roer die hele tyd.
4 Haal af as die sous verdik en roer die mosterd by. Hou eenkant. Moenie weer verhit nie.
Die eiers
1 Meng die eiers, room, grasuie en pietersielie. Geur met neut, sout en peper.
2 Plaas 8 toebroodjiesakkies in ’n muffinpannetjie of in koppies sodat jy die eiermengsel maklik daarin kan gooi.
3 Verdeel die eiermengsel tussen die sakkies. Bind elkeen met kombuistou toe, probeer om ’n
mooi ronde vorm te kry as jy die sakkie toebind.
4 Posjeer die eiers in die “sakkies” in ’n groot kastrol met liggies kokende water vir presies 8 min.
Sit só voor
1 Verhit die botter in ’n pan en soteer die murgpampoentjielinte vir 2 min. daarin. Geur met sout en peper.
2 Pak die murgpampoentjielinte en ham op die snytjies roosterbrood. Haal die eiers uit die kokende water en sny versigtig met ’n skêr oop.
3 Sit die eiers bo-op die ham op die broodjies. Gooi die sous oor en sit voor.