Hssaine, my woestynvriend, jy luier vandag in my gedagtes. Terwyl ek vir jou bid, verlang ek na jou oë. Oë wat sag kyk, sonder die skurfheid van ambisie en wedywering, veilig omarm deur die grense van jou wit tulband. Jou oë wat die stille aanvaarding van jou lot reflekteer, wanneer jy ons vertel van jou broers en susters wat voortydig moes sterf agv ‘n gebrek aan mediese geriewe. Jou oë wat die diepte van ‘n tevrede siel weerspieël, maar tog vinnig ophelder as ons van die wêreld daar buite vertel. Jou oë met die fyn lyntjies wat die verhaal van lang dae in son en wind vertel.
Ek onthou hoe jy selfvoldaan vir ons sê: “I am rich”, toe ons met sononder by die woestynkamp aankom. Ja vriend, dalk is jy ryk, want teen jou goue duine, kristalvars lug en saffierblou hemel lyk ons klatergoud na gras. Maar dit is meer as die natuurskoon met sy stilte, en die feit dat jou tyd nie in ure afgemeet word nie, dit is jou leefstyl, jou hart van eenvoud, wat jou skatryk maak.
Ek wil weer saam met jou en Ben na hout tussen die rooi duine soek. Ek wil weer langs daardie hout se vuur lê en na die sterre kyk. Ek wil weer hoor hoe jy sê: “ The gods must be fighting”, omdat selfs jy nog nooit soveel verskietende sterre op een aand gesien het nie. Ek wil weer luister na jou en Ben se skaterlag terwyl julle die nagstilte inkleur met dromme, op die ritme van kameelpote.
Ek mis ons drie se kuier rondom die leë tajine pot. Ek mis ons nartjieskil gesprek. Ek mis jou geel babush en humorsin met die onverwagse grappies. Maar meer as dit alles, my vriend, mis ek nog tyd saam met jou. Ek mis nog tyd saam met jou en hopelik ‘n tweede kans om met jou die Waarheid te deel, want diep binne my weet ek: eintlik is jy arm. Brandarm.
Hssaine, hoe kan jy die Waarheid nie weet nie? Hoe kan jy Hom nie sien, as Hy dan so lewensgroot in elke duin en sonsondergang staan? Hoe kan jy Hom nie hoor as Hy so hard in die oorverdowende stilte na jou roep nie?