Vriende is vir akteur Hennie Smit soos stompe op ’n vuurtjie. Hulle hou hom aan die brand. En as sy lewe net ’n dun rokie word, blaas hulle weer sy vuurtjie aan.
“Hulle is ook soos groot bakke waarin ’n oormaat liefde en omgee uitgestort word,” vertel die man wat sê hy voel op 73 twintig jaar jonger as voor die tien weke verlede jaar toe hy in die waakeenheid in die Wilgers-hospitaal in Pretoria om sy lewe geveg het.
Die hele land het saam gebid vir “Bertie” se herstel.
“Ek weet ek sal altyd vir mense Bertie van Egoli bly en ek gee nie om nie. As jy ’n karakter 18 jaar lank gespeel het, word hy deel van jou. Ek is dankbaar vir die gebede wat my gedra het toe ek nie kon bid nie. Selfs pompjoggies en mense by tille in supermarkte keer my voor en sê hulle het vir my gebid. Tot die Cheetah-rugbyspan het my vertel hoe hulle vir my gebid het.”
Hennie het siek geword toe hy ná jare se TV-werk sy eerste verhoogproduksie, My Boetie se Sussie se Ou, gedoen het. Hy het dubbele longontsteking en brongitis gekry en in die hospitaal het sy long platgeval en water oor sy hart gestoot.
“’n Suster het my ná die tyd gesê hoe gevaarlik laag my hartklop gedaal het. Ek was letterlik in die skadu van die dood.”
Die lys name van mense wat hom bygestaan het, is baie lank, maar hy sê sonder twyfel dat hy nie sonder sy jare lange vriendin Arina de Witt deur die ding sou kon kom nie.
“Ons het in 2014, voor ek siek geword het, al begin skryf aan As Drome Vlerke kry. Ons is regtig twee mense wat nie sonder mekaar kan oorleef nie. Ons ken mekaar al twintig jaar en vir my is sy die wonderlikste, mooiste mens. Sy is een van daardie vriende wat konstant is. Sy los jou nie ’n oomblik nie.” Hulle toer nou landwyd met die stuk wat hom in ’n ouetehuis afspeel waarin Egbertus (Hennie) en Aria (Arina) woon. Hulle speel oud-ver-maaklikheidsterre wat nog hul drome van glorie op die verhoog het. Terwyl hulle vir die tehuis se groot konsert oefen, neem hulle die gehoor deur ’n nostalgiese verhoogreis.
Die lang staande ovasies ná die openingsaand het Hennie aan sy tweede kans op die lewe herinner.
“Ek het op 4 April 1956 tot bekering gekom en soos Koos Doep sing, elke keer gedwaal en dan het die Here my weer kom haal.”
Vir die mense wat hom in die waakeenheid bygestaan het, was Hennie se terugkeer na die verhoog baie emosioneel.
“My pelle soos Susan Nell, Leon Mosterd, Kobus Laubser, my internis, Paul en Vera Jordaan … almal wat my gedra het toe ek baie siek was.”
Dr. Isak Burger, kerkleier van die AGS, het elke dag as hy verby die hospitaal gedraf het, ingegaan om Hennie te besoek. Vriend Jaco Smit het uit Zürich gevlieg om ’n paar dae langs Hennie se bed te wees en Wynand Jordaan het uit Mosambiek teruggekeer.
“Ek was by tye so siek dat vriende soos Sonja Herholdt en Francois van Rensburg nie by my toegelaat is nie.”
Twee mense wat hom ná sy siekbed onder hul vlerk geneem het, is Subeth en André Venter van Bloemfontein.
“Hulle het my op die been gekry en werk gegee by hul House of Bread. Dit is ’n restaurant en koffiewinkel wat oorspronklik ’n plek van lofsang en gebed vir Christene was. Hulle het gesorg dat ek huisvesting kry. Hulle is vir my soos ’n fontein van lewegewende water.”
Die regisseur van As Drome Vlerke kry, Frans Swart, sê hy ken Hennie al ’n leeftyd. Nog voor Hennie volksbesit geword het as Bertie.
“Ons het verskeie projekte saam gedoen en ek weet Hendrik het ongelooflike talent.”
Toe Frans die regie vir My Boetie se Sussie se Ou gedoen het, het hy geweet Hennie is die een wat Dêda moet speel.
“Ek het hom gebel en hy sê toe vir my: ‘Ek klim onmiddellik op ’n aeroplane!’ So is Dêda gebore. Die mense was mal oor Henie in die rol. Tot hy siek geword het. Ek moes inspring en die rol binne vier uur leer en oorneem. Kyk, dit was nag, maar ek moes dit net doen.”
Frans was dankbaar toe hy eendag weer by die waakeenheid instap en daar sit Hennie en koffie drink saam met al die verpleegsters!
“Behalwe die koffie drink, het hy hulle ook rond georder … toe weet ek Hennie is gesond!”
Dit is vir hom ’n voorreg om As Drome Vlerke kry saam met Arina en Hennie te kan doen.
“Ek en Arina het besef ons moet Hennie so gou moontlik terug op die verhoog kry. Dis seker een van die mooiste produksies wat ek tot nog toe gedoen het. Met sang, komedie, toneel en ’n hele klomp nostalgie vertel hierdie twee mense ’n mooi storie.”
Dit was vir Arina ’n baie emosionele ervaring om ná Hennie se siekbed saam met hom op die verhoog te kan klim.
“Ek het al my trane oor hom uitgehuil toe hy siek was en gedink hy gaan dit nie maak nie. Die krag van gebede van mense landwyd het my net weer gewys hoe magtig God is.”
Arina beskou Hennie as ’n beste vriend. Hy beteken vir haar en haar gesin geweldig baie en sy sê sy geloof “smeer af” aan haar.
“Ek weet waar sy hart is. Hy klou vas aan sy geloof en in sy eie moeilike omstandighede is hy altyd gereed om ander te help.”
Sy glo daar is ’n rede hoekom Hennie se lewe gespaar is en dat hy op geestelike gebied nog baie vir ander kan beteken.
“En hy is weer die Hennie van ouds! En dis so lekker!
Nog ’n vriendin, Lydia Winchester, sê sy het in trane uitgebars toe sy haar vriend Hendrik, soos sy hom noem, gesond op die verhoog sien.
“Ons ken mekaar al dertig jaar en sy vriendskap beteken vir my baie. Hy is iemand op wie ek kan vertrou en staatmaak.”
Sy sê Hennie verdien alle hulp wat hy nou kry, want hy help al die jare graag opkomende akteurs.
“Hy het my geleer om altyd nederig te wees en vir jou medemens om te gee.”
Hennie noem Lydia sy “seepbel vol kleure” en energie wat gereeld om hom bars en hom beter laat voel.
Ook Carike Keuzenkamp het deel gevorm van die gebedskring vir hul ou vriend. Sy en Hennie ken mekaar al vanaf die middel sewentigerjare toe hulle twee sangtoere saam met Groep Twee gedoen het.
“Hennie was die seremoniemeester en het ook ’n paar items op die klavier gelewer. Min mense weet hy sing pragtig.”
Sy ken Hennie as ’n omgeemens.
“Op toer het ek waterpokkies gekry en was baie siek maar the show must go on en Hennie het soos ’n moederhen om my gekloek en was baie besorg. Ek is die res van die toer op die hande gedra en sy kwinkslae het my sommer beter laat voel.”
Sy was bekommerd toe sy na My Boetie se Sussie se Ou gaan kyk het en Hennie haar vertel het hy voel baie siek. Hy is kort daarna in die hospitaal opgeneem en Arina het Carike op die hoogte gehou van hoe dit met Hennie gaan.
“Op my sestigste verjaarsdag het hy spesiaal vir my ’n liedjie gesing en ek het dit baie waardeer. Dis wat vriende vir mekaar doen. Daar is ’n baie spesiale band tussen mense wat al so ’n ver pad saam geloop het en mekaar so lank ken.”
Sy sê daar is ’n hegte band tussen die garde ouers kunstenaars.
“Ons het ’n ander pad geloop as die jongeres en ons sal altyd omgee vir mekaar en die ekstra myl loop. Daar sal altyd lojaliteit en ondersteuning wees. Dis ’n kameraadskap wat deur die jare groei.”