Gister het ek die doop van ’n baie spesiale klein mannetjie, Regardt Scott, bygewoon. Gedurende die diens het die dominee Psalm 23 voorgelees. En iewers tussen die lees deur, verander Dawid se psalm toe in dialoog tussen my en God:
Die Here is my herder; daar is niks wat my ontbreek nie. [Ja, Here, gedurende my kankerstryd het U seker gemaak dat daar oorgenoeg van alles is – liefde, onderskraging, fondse, moed, deursettingsvermoë, briljante mediese personeel – dankie, Heer!]
Hy laat my lê in groen weivelde; na water waar rus is, lei Hy my. Hy gee my nuwe krag. [Dankie, Heer, vir die rus en die goedvoel en die bo-aardse krag wanneer ek dit die nodigste gehad het.]
Hy lei my op die pad van geregtigheid tot eer van sy Naam. [O, Here, die stryd is geveg en oorwin en aan U kom al die eer toe. Sonder U was daar sekerlik trane en lafhartigheid en verwyte en die dood. Dankie!]
Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. [Ek was nie bang nie, Here! Die wete dat ek in u veilige hande toegevou is, was oorgenoeg vir my. Ek was bereid om te sterf of te leef, ten volle oorgegee aan u wonderlike wil. Dankie, Heer.]
U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker oorvol te maak. [Ja, kanker moes maar toekyk hoe U my beskerm en laat groei, hoe U ander mense gebruik om my te wys hoe suiwerheid van gees lyk. Hoe ek leer dat die mens se gees die mooiste vrugte kan dra gedurende die moeilikste van moeilike tye. Ek was ’n eregas op ’n uitsonderlike reis. Dankie, Heer.]
Waarlik, u goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die Here so lank as wat ek lewe. [Ek weet, Here, dat U goedheid en trou nie noodwendig beteken dat alles voor die wind sal gaan nie. Ek weet nou, meer as ooit tevore, dat u goedheid en trou ook manifesteer in die slegte, lelike tye en dat dit al is wat ’n mens nodig het om kop omhoog aan die ander kant uit te kom.]
Ek weet nou hoe Dawid moes gevoel het toe hy hierdie psalm geskryf het; sommer tranerig van pure dankbaarheid oor God se bemoeienis met ons, stofkorreltjies.
Dit is vandag 254 dae sedert die kankerdiagnose.
Die kanker is weg.
Die reis eindig hier.