Soos onheilsboodskappers het die eerste vroeë sonstrale van 1880 se negende November winteroggend deur die grou losdrywende wolke op die rooi teëldakhuise en geboue van die stad Agram neergeskiet.
Terwyl die omliggende stad nog besig was om uit die nagskemer van die daeraad te ontwaak, was die Sveti Stjepan katedraal se twee 108 meter hoë torings al duidelik sigbaar vanaf die middeleeuse Medvedgrad-fort op die Mali Plazur-bergspits teen die suidelike hange van die Medvednica-bergreeks onmiddellik ten noorde van Agram.
Die strategiese Medvedgrad-fort wat in die 13e eeu na die inval van die Tartare opgerig en aan verval oorgelaat is na ‘n verwoestende aardbewing van 1590, het nie in die minste in die rustigheid van die oomblik die geweldskragte wat onder in die diepte van die berg aan die woel was verraai nie.
Die ysige noordpoolwind Bora wat die hele nag deur die poorte en rondom die vervalle ruines van die fort getier het, het soos in die stilte voor die storm gaan lê. Hier en daar het ‘n laaste herfsblaartjie uit die byna kaalgestroopte boomtakke nog grond toe gedwarrel.
Agram het vreedsaam die nuwe dag begroet onder die Huis van Habsburg in Oostenryk wat reeds sedert 1526 oor die stad en landstreek heerskappy gevoer het. Oraloor het rokies luierig uit die skoorstene opgewalm soos vroeë opstaners vuurherde begin stook het om die nagkoue uit die huise te verdryf.
Volksoorlewering wil dat die Sveti Stjepan-katedraal se horlosie skielik op daardie Novemberoggend soos in ‘n geheimsinnige waarskuwing met die wyser op 7 uur, 3 minute en 3 sekondes gaan staan het. Verdwaasde inwoners was nog besig om die raaisel van die toringklokke se eienaardige stilte te probeer ontrafel toe ‘n krag 8 aardbewing met episenter byna onder die Medvedgrad fort Agram om 7.33 tref.
So geweldig was die aardskok dat dit Agram letterlik in twee geskeur het met ‘n hoogteverskil van 40 meter tussen die boonste stadsdeel wat met minder skade bly staan en die onderste deel van die stad wat dermate verwoes is dat ‘n geheel nuwe benedestad in die trant van die Weense Ring met talle monumentale bouwerke in veral die barokstyl en uitgestrekte parke daarna aangelê is.
Merkwaardig is slegs een pesoon gedood terwyl 29 ernstig beseer is. Die skade aan geboue en ander infrastruktuur was egter omvangryk.
Met 1918 Eerste Wêreldoorlog-einde het Oostenryk se oorheersing van Agram ook tot ‘n einde gekom en stroom toeriste sedertdien na die stad wat vandag as die hoofstad van Kroasië onder die naam Zagreb bekend staan. Die skilderagtige ou middeleeuse boonste stadsdeel verwelkom besoekers as Gornnji grad en die nuwe benede stadsdeel as Novi Zagreb.
Daar is waarskynlik as gevolg van die 1880 aardbewing geen ander plek ter wêreld waar mens so vinnig en gemaklik uit die hede na die verre verlede kan stap nie. Een oomblik bevind jy jouself in ‘n moderne Novi Zagreb stad met sy teerstrate en blou trems wat by jou verbysnel, en die volgende oomblik op die Mesnicka-straat se kobbelstene in ‘n Gornji grad-feëland wat wemel van die mees romantiese en gure middeleeuse hekseverhale.
Die indrukwekkende Neo-Gotiese Sveti Stjepan-katedraal in Gornji grad wat in die 1991-1995 oorlog ook skade opgeloop het en nou nog herstel word, het swaar te ly gehad onder die 1880 aardbewing. Die katedraal waarvan die bouwerk in die 13e eeu begin en eers in die 18e eeu voltooi is, moes toe oor ‘n tydperk van 26 jaar herstelwerk ondergaan wat eers in 1906 finaal voltooi is. Vir die interessantheid daarvan word een van die oorspronklike middeleeuse toringtoppe van die katedraal nog uitgestal.
Deur al die veelbewoë eeue waarin dit in die geskiedenis van Zagreb opgeteken staan dat die mensdom nie net met mekaar nie maar ook met die natuur sedert 35 000 jaar VC geworstel het, vloei die Sava-rivier steeds al die duisende jare op sy vaste koers deur Zagreb as ’n simbool van ewige hoop en goeie verwagting vir die toekoms. Of daar nog mense is wat dit raaksien – dalk?