Beste, maklikste sjokoladekoek!
Maak 1 groot of 2 middelslagkoeke
Bestanddele
- 500 ml (2 k) suiker
- 430 ml (1¾ k) koekmeel
- 180 ml (¾ k) kakao
- 8 ml (1½ t) bakpoeier
- 8 ml (1½ t) koeksoda
- knypie sout
- 2 eiers, liggies geklop
- 250 ml (1 k) melk
- 125 ml (½ k) sonneblomolie
- 10 ml (2 t) vanieljegeursel
- 250 ml (1 k) kookwater
Metode
Voorverhit die oond tot 180 ºC. Spuit twee 18 cm x 17 cm-hartjiekoekpanne of ’n ronde, 23 cm-koekpan met kleefwerende kossproei.
- Sif die suiker, meel, kakao, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ’n groot mengbak.
- Meng die eiers, melk, olie en vanieljegeursel en voeg by die droë bestanddele. Meng vir 2 min. goed met ’n elektriese klitser of met die hand.
- Roer die water by (die beslag sal dun en loperig raak). Gooi in die bereide koekpanne.
- Bak vir 30-40 min. tot gaar – ’n toetspen moet skoon uitkom. Laat vir 10 min. in die pan afkoel. Keer uit en laat op ’n draadrakkie afkoel.
- Versier die koek met die botterversiersel.
Botterversiersel
Klop 90 ml (¼ k + 2 e) sagte botter vir ±5 min. tot lig en donsig. Voeg 660 ml (2 + 2/3 k) versiersuiker by en dan 125 ml (½ k) kakao, meng deeglik. Roer laastens 80 ml (1/3 k) melk en 5 ml (1 t) vanieljegeursel deur.
Lees ook: Die beste sjokoladebruintjies