Dit was ’n doodgewone Vrydagoggend voor skool toe ek ’n boodskap van ’n koerantredakteurvriendin ontvang om te vra of ek weet wat met ’n spesifieke Facebook-vriendin van my gebeur het.
Die vriendin se broer het sopas op Facebook geskryf dat sy suster oorlede is.
Dit kan nie wees nie! Ons het baie onlangs nog gesels! Haar kinders is saam met my kinders in die klas. Die arme, arme kinders.
Wat my egter tot stilstand ruk, is die bevestiging kort daarna dat hierdie mamma haar eie lewe geneem het.
Geskok besef ek opnuut dat ons werklik niks weet van wat in iemand anders se binnekamer aangaan nie. ’n Glimlag in die verbyry en ’n mens se eerste gedagte is: “Ek is so bly dit gaan goed met haar!”
Maar, min weet mens wat agter die glimlagmasker skuil. Dalk ’n seer wat niemand wat nie self al daarmee moes worstel, kan begryp nie? Moontlik ’n donkerte wat so totaal en al ontneem is van enige ligstraaltjie, dat niks so iemand uit daardie kolk kan lig nie.
Soos die oggend vorder, weerklink die normale reaksies deur die gemeenskap: “Ai, as ons maar geweet het. Dalk kon iemand gehelp het?”
En dan natuurlik die onvermydelike oordeel: “Hoe kón sy? Wat word van die kinders; hoe moet hulle dít verwerk …?”
In haar boek as die stroom jou vat: die raaisel van selfmoord, vertel skrywer Jeanne Els hoe die selfmoord van haar pa haar lewe radikaal verander het en hoe sy as kind met die raaisels rondom hierdie daad moes worstel.
Stephanie Nieuwoudt resenseer die boek op litnet en skryf: “In ’n wêreld waar die een taboe na die ander na die lig gebring en ondersoek word, is daar steeds ’n effense stilte voordat iemand wie se ouers of ander familielid selfmoord gepleeg het, dié bekentenis maak.
“En dikwels weet die mense wat die woorde aanhoor, ook nie wat om te sê nie. Dalk het dit iets te make met die eeue oue breinspoeling dat selfmoord sonde is. Dat enigiemand wat selfmoord pleeg, nie in die hemel gaan beland nie. Daar is ook steeds allerlei vrae oor hoe moreel dit dan is om selfmoord te pleeg. Om te ontsnap aan die negatiewe konnotasies van die woord selfmoord word die woord selfdoding toenemend gebruik om die daad te beskryf.”
Ek onthou uit my eie laerskooldae hoe ons die nuus gekry het dat ’n maatjie wat altyd by my kom speel het in sy Spiderman-pak, se pa homself om die lewe gebring het. Weke lank het ek snags wakker geskrik van nagmerries hieroor. As dit mý so hard getref het, hoe moes dit hóm midde-in die chaos, nie geraak het nie?
My hart gaan uit na daardie twee klasmaats van my kinders. Ek is nie ’n sielkundige nie en weet glad nie waar en hoe om te begin om troos aan ’n kind te bied wie se lewe deur ’n ouer se selfdood ontspoor word nie.
Wat ek wel vas glo, is dat die reaksie en uitgesproke én nie-uitgesproke oordele van die gemeenskap, ’n baie groot invloed het op hoe die kind probeer sin maak uit die raaisels wat so ’n daad agterlaat en hoe hy die rou seer verwerk.
Ons mág nie oordeel nie. Ons mág dit nie eens uit simpatie doen nie. Want, niks gee ons die reg om die seer paadjie wat die kinders nié gekies het nie, maar nou noodgedwonge moet loop, vol “hoe kon sy dit aan haar kinders doen?”-klippe te strooi nie.
As gemeenskap, as lede van die “it takes a village to raise a child”-dorpie, is dit ons plig om uit te reik en daardie paadjie so gelyk moontlik vir die kinders te help maak. Dit is ons werk om die klippe uit die pad te help rol, want daardie kinders mag struikel en val en dit is ons liefdesplig om die val so sagkens moontlik te probeer maak en hulle weer op te help met ’n onvoorwaardelike liefde wat heeltemal gestroop is van veroordelende “ai, foeitog, hoe kón sy…”-s.
In nog ’n resensie van Els se boek, op haar webwerf “Woorde wat weeg”, maak Joan Hambidge die gevolgtrekking: “Ek het ’n omstrede siening oor hierdie proses, nes oor euthanasia. Miskien moet ons mense die reg gun om hul eie lewens te neem as die lewe ondraaglik geword het. En ons is seker hulle wil vertrek. Dit is immers ’n keuse.”
Dit bring nie troos aan diegene wat agtergelaat word nie. Maar, dalk verlig dit die swaar las effens. Dit is nié hulle skuld nie. Dit is niémand se skuld nie. ’n Keuse, hoe tragies en onverstaanbaar ookal, is uitgeoefen.
Al wat vir ons oorbly, is om daardie mense wat agterbly, daardie kinders, met ’n allesomvattende liefde te onderskraag. Om hulle te help om weer te probeer heel word.