Na ‘n eier-en-vleis-tajine-ontbyt saam met Abdel vat ons die pad, saam met Aziz en sy “taxi’, na Meknès en die Romeinse ruïne-stad, Volubilis. Met elke verbygaande kilometer skuif die herinneringe aan Fes en sy woelige medina op die agtergrond en begin ‘n nuwe plattelandse bekoring my oorrompel. Die olywe is ryp en ons tref die honderd jaar-oue boorde in oestyd. Terwyl ons langs die pad proe aan gedroogde vye, amandels en groot, rooi granate, begin my gemoed asemhaal.
Volubilis het ‘n ou, romantiese gevoel en wanneer ek tussen die bouvalle vanaf die Triumphal Arch die Decumanus Maximus afstap, kan ek my verbeel ek hoor nog die harde geknars van Romeinse stewels op die leiklippaadjie. Plek-plek, waar van die oorspronklike mosaïek nog sigbaar is in die vloere, sien ek stories van perde en strydwaens, ou marmerbaddens met Venus, Pegasus en nog karakters uit die Griekse mitologie. En terwyl Ben later vir ons die twee duisend jaar-oue geskiedenis uit die Lonely Planet voorlees, speel hierdie ou, ou wêreld hom weer voor my af. Ek verloor myself in die verlede onder die skadu van ‘n ou olyfboom.
Oppad terug stop ons gou in Meknès, die vyfde grootste stad in Marokko, vir ‘n glas vars lemoensap en ‘n vinnige loer in die Mausoleum of Moulay Ismaïl. Aziz gaan wys ons die king’s storks (hordes ooievaars wat op die paleis se dak broei) en spog met die ou stadsmuur se hekke.
Soos wat ons dag langer word saam met Aziz, raak ek weer bewus van hoe hierdie mense se kultuur en geloof, en wie hulle is, ineen verweef is. Dit is byna onmoontlik om hulle geloof los te maak van hul menswees. Hulle eet, aantrek, praat, doen en werksetiek is alles gegrond en gebou rondom geloof. As westerling word ek gekonfronteer met die woorde dat ek tog net nie “te” moet wees nie. Alles moet in balans wees, want te veel van ‘n goeie ding is nie goed nie.
Maar die realiteit wat my hier spottenderwys uitdaag, is dat “te” dalk nooit die probleem was nie. Miskien hoef geloof nie in verhouding tot iets anders gemeet te word nie? Miskien hoef geloof nie noodwendig te kompeteer met werk en kultuur en verhoudings en ‘n sosiale lewe nie? Miskien hoef daar nie ‘n waarde aan geloof gekoppel te word wat dit te swaar, of te veel, of te ekstreem kan maak nie? Miskien kan dit tog maar net die fondasie wees waarop die res gebou word. Miskien mag geloof maar die goue draad wees wat alles aan mekaar bind, waaruit alles anders vloei. Hier in Marokko sien ek dat jy nie geloof uit ‘n Marrokaan kan haal nie, want dan gaan daar baie min van hom oorbly. Miskien het ons westerlinge so hard gekeer dat ons geloof tog net nie “te” moet wees nie, dat ons dit juis te min laat word het.
Terug in Fes vat Aziz ons na die vyfster hotel waar hy vir ‘n paar jaar gewerk het. Hy word verwelkom soos ‘n ou bekende en terwyl ons oor die dik, weelderige matte loop, ontvou ‘n nuwe wêreld van roem en rykdom voor my. Hy wys ons die kamer waar die koning altyd tuisgaan (net so op ‘n afstand van buite af) en toe Ben hom vra of hy die koning al in lewende lywe gesien het, sê hy “of course” en hy wys ons waar hy hom net so in die verte verby die moderne swembad sien stap het.
Ons sluit ‘n dag van uiteenlopende ervarings af met ‘n luukse hammam (Turkse bad) bederf wat Abdel vir ons gereël het teen ‘n spesiale prys. Of ek hieroor wil skryf weet ek nie, want eintlik verdien hierdie storie ‘n persoonlike oorvertel met fyn besonderhede, groot handgebare en baie dramatisering. Tussen my en Ben kon ons nog nie ooreenstemming bereik of hierdie ‘n heerlike of net gewoon vreemde ervaring was nie, want toe ons mekaar na ‘n uur weer in die voorportaal ontmoet, was hy in vervoering oor die lekker ontspan en ek in vertraagde skok oor die ontnugtering.
Dit het net nie vir my natuurlik gekom om langs vyf ander, half-naakte vrouens op ‘n seepgladde marmerblad te lê en soos ‘n ou muur waarvan die verf afgeskilfer word geskuur te word nie. Dit het ook nie gehelp dat die skraps geklede, ek-praat-geen-Engels-tannie se teatrale handgebare onverstaanbaar was en ek nie die vaagste benul gehad het wat om met die pakkie wat sy in my hand geprop het te maak nie. Hoe meer sy arms geswaai het, hoe minder het ek verstaan en hoe meer verboureerd ek geraak het, hoe vinniger het sy geswaai. Later het sy maar moed opgegee en my aan die arm, soos ‘n lam ter slagting, weer tot op die marmerblad getrek. Ek sou die massering dalk meer kon geniet het as dit nie was vir my snaarstywe senuwees en die feit dat die einste tante toe pens en pootjies tot binne-in my persoonlike spasie kom klim het nie. Ontnugter of nie, ten minste het ek vir ‘n lang, lang tyd nie ‘n enkele dooie, droeë velletjie op my lyf oorgehad nie.
Daardie aand het ons rustig saam met Abdel op sy banke ontspan terwyl hy vir ons ‘n fliek vooruit lê en vertel.’n Perfekte einde aan ‘n goeie dag.