Die trok het oor die middelmannetjie tussen die twee snelweë op die N1 in Johannesburg gebars en Reuben van Niekerk op sy motorfiets getref.
As motorjoernalis het hy motorfietse en voertuie getoets en was juis op pad om die motorfiets terug te besorg.
Hy het die fratsongeluk in 2008 wonderbaarlik oorleef, maar sy regterbeen is net onder die knie geamputeer. Die ongeluk het Reuben se lewe onherroeplik verander, maar hy sou dit nie vandag anders wou hê nie, want dis juis sy amputasie wat sy uitkyk op die lewe verander het.
“Ek het daaroor begin lees; geglo daar moet maniere wees om dit te oorkom. My vriende en familie het gehelp om my op te beur tot ek besef het: dis hoe dit is. Ek moes planne maak, harder werk om daarmee saam te leef.”
Dit was sy ysere wil en deursettingsvermoë wat hom gestaal het om in 2014 en 2015 die eerste laer geamputeerde te word wat die moordende Absa Cape Epic-bergfietsren van 700 km oor agt dae in die Wes-Kaap kon voltooi. Maar dit was ’n lang pad voor hy hierdie droom kon verwesenlik.
“Ek het ’n jaar lank met krukke geloop voor ek my eerste prostese gekry het. Ek is baie openlik oor my geamputeerde been.
“Ek loop wel effens mank omdat ek baie min been onder die knie het. Dis ook moeiliker om ’n prostese glad te laat werk vir iemand wat so lank soos ek is. Tog is dit nie ongemaklik nie.
“Ek het nog altyd fietsgery – dit was die een ding wat my weer normaal laat voel het. Die Epic was op my bucket list. Ek was boonop gelukkig om ’n borgskap by Toyota te kry.
“Die heuwels en sagte sand was my grootste uitdaging. Ek kan nie in die saal staan om heuwels te klim nie en omdat my wedren-prostese vir fietsry ontwerp is, is dit nie gemaklik om daarmee te loop nie. Op die eerste dag van my eerste Epic moes ons ons fietse vir ’n volle 10 km deur baie sagte sand stoot. Ek was net te stadig en het die afsnypunt gemis.”
‘Ek het geglo daar moet maniere wees om dit te oorkom. Ek moes planne maak om daarmee saam te leef’
Modder was net so ’n groot probleem, want dit beland op die silikoonvoering tussen die stompie en prostese en begin skaaf. Reuben moes by elke waterpunt stop om die modder uit te spoel. Op die vierde dag het hy die afsny met drie minute gemis en toe is hy uit. Die Epic berus op spanwerk en as een lid nie klaarmaak nie, kry die ander ook nie ’n medalje nie, al is hy suksesvol. “Ek was bitter teleurgesteld en het gevoel ek het my spanmaat, Dane Wilson, in die steek gelaat.”
In 2014 het hy saam met ’n vroulike deelnemer, Dagmar Muhlbauer van Ballito, weer die Epic die stryd aangesê en dié keer was hy die eerste laer geamputeerde wat die Absa Cape Epic kon voltooi.
“Dit was ’n onbeskryflike gevoel, en die prestasie was nog groter omdat ek dit as ’n geamputeerde kon doen.”
Reuben het die wedren vanjaar vir ’n tweede keer saam met Dagmar voltooi en nou is daar die groot uitdaging om die epiese derde een te voltooi om lid te wees van die gesogte Amabubesi-klub.
“My raad aan geamputeerdes: Moenie jouself bejammer nie. Mense vermy jou dan. My vriende hou daarvan dat ek dinge doen en positief is. Dis ook belangrik dat jou familie en vriende kan sien dat jy gelukkig is.”