Mamre
Morawiese sendingkerk
Mamre laat ’n mens aan ’n outydse plaaswerf dink. In die koelte van ’n groot akkerboom lê ’n grys hond en swaai sy stert lui-lui. Die gekalkte geboue is verblindend wit in die skerp son.
In die kerk is dit koel. En gestroop en eenvoudig. Al wat na “swier” lyk, is die Marcusson-orrel. Dis asof die aardse hier reeds afgelê is. Maar die skoonheid ontbreek nie.
Die kerkklok wat in ’n wit nis op die plein hang, is ’n kunswerk uit eie reg. Die klok weeg ‘n volle 250 kilogram en is geil met engele versier.
Die sendingstasie is in 1808 gevestig toe die gebied nog as Groenekloof bekend gestaan het. Die naam van die vettige groen vallei is later verander na Mamre – daar waar Abraham sy tente opgeslaan en vir die Here ’n altaar gebou het.
Dié Morawiese nedersetting is een van tien sendingdorpies wat versprei deur die Weskus lê en strek sover as die bekende Wuppertal. Groot getalle slawe het destyds op plase in die Swartland en aan die Weskus gewerk en die baie sendingstasies getuig van die sendingwerk wat onder die Khoekhoens en die slawe gedoen is.
Die sendingstasie op Mamre was destyds ook ’n toevlugsoord vir vrygestelde slawe. Meer as twee honderd jaar later is daar steeds hier in die groen kloof ’n wit kerk en strome van seën vir diegene wat ’n toevlugsoord nodig het.
Malmesbury
Nederduits Gereformeerde kerk
Op pad Malmesbury toe lê die stoppellande wit gebleik in die skroeiende Swart-landse son – met bale goudgeel strooi wat oral soos boublokkies daarop gestapel is.
Dis jakarandatyd op die dorp en die Moederkerk is getooi in purper toe ons daar aankom. Die toring dui die vier windrigtings aan, maar as ons kop agteroor na die mooi bouwerk kyk, is dit die blou hemel wat ons die eerste raaksien.
Met die instap spoel die skemer koelte soos balsem oor ons son-suwwe lywe. Die Gotiese interieur is pragtig, byna teatraal. Statig soos hy is, rep die gebou g’n woord van die kere dat hy die wind van voor gekry het nie. Die oorspronklike kerk is in 1751 gebou en in 1860 herbou. Twee jaar later het die kerk ineengestort. Die kerk is herbou – die keer met ’n indrukwekkende toring. Maar daardie toring het, vreemd genoeg, ook ingetuimel.
Aan hierdie kerk kleef geskiedenis soos mos. Tuine met groot bome en om-muurde begraafplasies maak ’n kring om die gebou. Vyf van die predikante het hier hul laaste rusplek so naby die preekstoel gekry. Ek dwaal deur die begraafplasies en my oog val op die grafsteen van ’n meisietjie wat in 1842 oorlede is: ”Ach treurt en weent niet om mijn lijk – Ik ben een Engeltje van’t Hemelrijk.”
Darling
Presbiteriaanse kerk
Darling is soos ’n kleurryke lekkergoedpakkie vol verrassings. Omsoom met die mooiste blomme in die Weskus, word die prentjie verder ingekleur met laslappies kultuur en geskiedenis.
In die holte van die blommedorp is die Presbiteriaanse kerk. ’n Unieke juweel, dié klein aanbiddingsplek met sy pragtige gebrandskilderde vensters.
Die oorspronklike vensters is in 1915 ingesit, maar moes in 1995 vervang word. Sommige lidmate het geld hiervoor aan die kerk nagelaat en by elke venster is ’n bordjie met die naam van sy weldoener aangebring.
Die drie vensters agter die tafel laat die sonlig net kol-kol deur en ’n kaleidoskoop van kleur speel teen die wit mure. Suid-Afrikaners reis ver om katedrale in die vreemde te gaan bekyk – kom word ook stil voor die kleindorpse katedraalvensters op Darling waar die Afrikason sy speletjies speel.
Hopefield
Nederduits Gereformeerde kerk
Op die oewer van die Soutrivier en teen die voet van die Piketberg lê die klein dorpie Hopefield. Dis fynbos- en fossielwêreld dié, maar dis die kerkorrel wat ons hierheen gelok het.
Dié orrel is in 1911 deur ’n Engelse firma Forster en Andrews gebou, maar toe dit op Hopefield aankom, was die instrument hopeloos te groot. Noodgedwonge moes die preekstoel hoek toe sodat die orrel in die middel van die kerk opgerig kon word. Van die kerkvaders se wenkbroue het seker gelig, maar wat, die orrel het pragtig gelyk en die klank is onverbeterlik.
Die smeeyster-wenteltrap na die kerkklok se binnewerke is so delikaat soos die sierryke werk op ’n troukoek. Toe ek my versigtig op die boonste smal trappie staan maak, lyk die ryk tapyte wat na die voete van die groot, goue orrelpype lei, soos dié in die kroonkamer van ’n paleis – inderdaad geskik vir ’n Koning.
Aanstaande jaar is Hopefield se orrel ’n eeu oud en ’n groot fees van musiekuitvoerings word vir die geleentheid beplan.
Aurora
Nederduits Gereformeerde kerk
Op die pad tussen Piketberg en Redelinghuys lê die piepklein nedersetting, Aurora.
Toe ons die dorpie knap ná middagete binnery, is daar nie ’n mens in sig nie. Dit is sleepvoetwêreld dié – hier loop lê die mense ná middagete eers ’n bietjie skuins.
Ons hou by ’n klein kafeetjie stil. Binne skommel twee toonbankwaaiers die lou lug stadig rond. Maar ons vat darem die pad pastorie toe met twee ysstokkies wat skeeftrek van die hitte.
Taai, maar tog effe verfris, ontmoet ons ds. Adam Jacobs. Hy groet met ’n handdruk soos ’n volbloed plattelander dit doen. Geslagte families, waarvan baie nasate nou op die familieplase boer, het hier kerk gegaan, vertel hy entoesiasties vir ons die geskiedenis van die kerk. Hoewel die dorpie grootliks ontvolk het, bly die moederkerk ’n baken waar Sondae saam aanbid en gekuier word.
Die pragtige kerkgebou is deur die toentertydse bekende argitek W.H. Ford ontwerp en gemeentelede het ingespring om met die messelwerk te help. Toe hulle sukkel om die swierige pleisterwerk aan die dak te laat kleef, het hulle skaapwol by die sement gemeng. En dié vreemde pleisterwerk sit meer as honderd jaar later nog teen die dak van Aurora se NG-kerk! ’n Boer maak ’n plan …