Sy sit in Zack se kamerjas en praat. Dis ’n jaar ná Frikkadel se dood. Die baas van Vetkoekpaleis laat ’n groot leemte in die Afrikaner-hart. En vir Zack du Plessis se weduwee, die sangeres, aktrise en draaiboekskrywer, Magda van Biljon, lê die seer nog vlak.
In hul huis in Pretoria-Oos is daar so baie wat haar daagliks aan hom laat dink. Soos sy kamerjas wat haar op ’n koue wintersdag omvou. Soos hy haar in hul huwelik van 38 jaar omvou het. Haar Zackeman, Zakkie, Bekka, My Bek.
“Ek ruik hom aan sy klere. En dan huil ek. Hoe cope ek ná sy dood? Nee, ek doen nie. Ek het geen idee hoe ek deur die jaar gekom het nie. Ek was soos ’n outomaat. Iemand wat ná narkose halfpad bygekom het.”
Naas “Zack se vrou” was Magda die Wielie Walie-tannie waarmee baie kinders grootgeword het.
“Van 1979 ’n volle veertien jaar. Zack het altyd gesê dit moet een of ander rekord wees.”
In haar jaar van rou het ironies ’n vernuwing in haar loopbaan ingetree. Sy het groot projekte aangepak.
“Ek noem dit nie vernuwing nie. Eerder ’n saving grace. Dit hou my kop besig.”
Vanjaar word afrondingswerk gedoen aan haar draaiboek, Redemption, wat moontlik deur draaiboek-ondersteuning van Piet de Jager, vervaardiger van Roepman-faam, in ’n rolprent omskep gaan word. Name soos Charlize Theron en Arnold Vosloo word reeds vir die rolle genoem.
“Zack het nog geleef toe ek daaraan begin werk het. Ons het baie gesels oor die tema: die hartseer en soeke na vergifnis in ons land se geskiedenis.”
Sy werk ook aan ’n nuwe geselsprogram, Kwetter, wat later op kykNET uitgesaai gaan word.
“Dis ’n moderne soort Maak ’n Las en Kwetter sinspeel op die sosiale netwerk, Twitter, waarmee deesdae gekommunikeer word. Dis ’n storievertelprogram. Ons gesels met verskeie mense oor die tale wat Afrikaans aangeraak het. Daar gaan byvoorbeeld ’n episode oor die Duitse invloed wees, maar ook lekker humor. Van die materiaal is uit ou joernale gehaal en daar word gesels oor onder meer plekname, byname en spreekwoorde eie aan ons taal.”
Hulle wag op die oomblik vir borgskappe wat sal bepaal presies wanneer dit uitgesaai gaan word, sê sy. Daarnaas is haar kabaret, Cabernet-Cabaret, ook hopelik later vanjaar op die planke. Daarin gaan sy op ’n musikale reis terug in die geskiedenis van Jean Prieur du Plessis, stamvader van die Du Plessis’s in Suid-Afrika. Hy is in 1700 met Maria Buisset van Sedan getroud en sy is ’n verteller van die stuk.
“Dit begin waar sy ’n brief aan haar ma in Holland skyf oor die De Villiers’s se veertig duisend wynstokke wat hulle na Suid-Afrika saamgebring het en hoe hulle besig is om die Klein-Drakenstein-omgewing in ’n Franse Bordeaux te omskep.”
Magda het die musiek en lirieke geskryf en gaan dit as ’n eenvrou-kabaret aanbied. Haar lirieke weef rondom wynkultivars en oor die wonderlikheid van lekker wyn en watter krag dit in ons land se geskiedenis ingeploeg het.
“Ek begin met ’n ernstige lied, ‘Die wonder van die wynstok’, wat ook Bybelse verwysings in het, maar sing ook vrolike liedjies soos my en Phillip Nel se die ‘Mos in die paraffienblik’.”
Min mense weet dat Magda eintlik ’n loopbaan as sopraan beplan het maar dat die drama toe haar hart gewen het. Sy het deur die jare in die koor van die Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste (TRUK) gesing en in die jare sewentig in vele van hul operettes soos Oklahoma en Wienerblut en operas soos La Traviata opgetree.
Feesgangers het haar die afgelope jare by talle feeste gesien, soos haar solo-musiekteateraanbieding, Ples tot Plessis, wat onder meer by die Inniebos-fees en die US Woordfees te sien was.
“Toe Zack my bel met die slegte nuus dat hy kanker het, was ek juis by die Woordfees by die Oude Libertas-amfiteater in die Kaap besig met ’n bekendstelling van Leon von Moltke se kinderboek Sareltjie soek ’n maat.” Die oproep was ’n skok.
“Jy klou met die vars nuus nog aan hoop, maar met Zack se twee de besoek aan die onkoloog het die woorde ‘fase vier kanker’ my laat besef dis terminaal.”
Sy dink terug aan “sulke lekker tye” in haar sangloopbaan.
“Lekker musiek-en-liriek-aande in die laat sewentigerjare by die Johannesburgse Mark-teater. Daarvoor het ek Kaapse draaie van D.J. Opperman en Naskrif van Van Wyk Louw getoonset en gesing.”
Sy proe ook nog getoonsette gedigte soos George Weideman se “Vir my klein kandas, wat ver is” op haar tong: “Die wind wat waai op Naroegas; is ’n suidewind, my klein kandas; en die dassiekaros is dun … ”
Sy sal haar kleinkinders ure lank kan vermaak met aanhalings uit toneelstukke en gedigte. Sy onthul dat min mense geweet het Zack het ’n pragtige baritonstem gehad en onder meer in Melville in kerkkore by Paas- en Kersfeesdienste gesing.
“Hy was baie nootvas en ek onthou hoe ’n omie in die koor hom gefrustreer het as hy die noot effe misvat.”
Magda is ’n goeie pianis en orrelis en beken sy het dié twee instrumente lank afgeskeep maar nou weer afgestof.
“Met die jare het my sopraan in ’n alt verander,” maar dis vir haar lekker om letterlik en figuurlik nuwe note te sing. Sy weet Zack sou trots gewees het op wat sy die afgelope jaar bereik het. Zack se loopbaan was ’n kollig-loopbaan, hare meer op die agtergrond. Dit het haar nooit gepla nie.
“My loopbaan het vir my genoeg bevrediging gegee.”
Sy is vir verskeie pryse benoem vir veral haar aanbieding van Wielie Walie en regie van Nuustak. ’n Hoogtepunt was die Artes-toekenning in 1992 as beste aanbieder vir Wielie Walie. Dit was vir haar ’n verrassing en eer toe Solidariteit haar verlede jaar op Vrouedag vereer het “vir haar uitmuntende bydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf as aktrise, regisseur en aanbieder”.
“Pryse en benoemings is ’n bonus, maar jy doen dinge vir die lekkerte,” sê sy.
Zack was deel van die vreugde van haar loopbaan.
“Ons kon op mekaar se loopbane kommentaar lewer en raad gee. As een ’n nuwe kans gekry het, kon die ander een sê: Jy kan as mens en kunstenaar hierdeur groei.”
Hulle was vir mekaar opbouende kritici.
“Ons het gevoel ons wys mekaar liefs op iets wat nie lekker is nie voor die pers jou beetkry. Resensente was nie altyd so genadig nie. Dit was ook nie altyd vir my lekker as Zack my reghelp nie. Maar ek het geweet ek kan maar na hom luister. Hy weet beter. As hy my eers as ‘Magdalena’ aangepreek het, het ek geweet, hier kom dit nou … ”
Sy het graag na Zack se repetisies gaan kyk.
“Ek kon soms sien as iets nie lekker is nie. As ek ná die tyd gevra het, was ek in die kol. Soms was dit woorde wat hy nie geken het nie, of iets waarmee hy nie gemaklik was nie. Maar as die stuk geopen het, was hy weer in beheer. Altyd goed voorbereid. Ja, ek het hom soms kwetsbaar op die verhoog gesien. Dan wou ek hom met ’n beskermende kombers toevou.”
Vandag is sy dankbaar sy en Zack kon in 2009 nog saam toer met Zack ’n Pack. Dit was ’n terugblik op hul veertig jaar in die vermaak-bedryf, insluitend rolprent, drama, TV, radio en die verhoog. Dit was ’n nostalgiese terugblik na die beginjare van televisie met Dusty Dixon wat liedjies uit die jare sewentig, tagtig en negentig gesing het.
“Voor dié toer het ons maklik 18 jaar laas saam in die TV-reeks Hoekie vir Eensames opgetree. Dit was lekker om teenoor hom op tetree. Hy was hardwerkend en het altyd spanning op stel ontlont.”
Met hul laaste toer kon hulle mekaar op die lang pad vir oulaas op ’n vreemde manier beter leer ken.
“Ons het baie gesels, saam geskaaf en gewerk aan ons produksie. Zack het altyd gesê ek is ’n goeie komediant, maar ek besef dit nie. Ek het volgens hom die regte tydsberekening gehad.”
Sy mis hul saamwees op daardie vlak.
“Ek het die afgelope jaar hard gewerk en is dankbaar dat ek nog kan werk. Maar ek gaan nie maak of ek oukei is nie. Ek is nie.”
Sy het onlangs die kamer reggepak waarin Zack verlede jaar op 16 Junie gesterf het.
“Ek het afgekom op kaartjies wat die kinders vir hom geskryf het. Waarin hulle dankie sê dat hy altyd sulke wyse raad gegee het. Dis vertroostend dat hy vir hulle ’n goeie pa was. Ook ’n steun vir ander. In baie briefies word hy bedank vir goed wat hy vir ander gedoen het, maar waaroor hy nie gepraat het nie. Mense keer my nou voor en vertel daarvan. In sy groot lyf was ’n sagte hart. Mense onthou hom vir komediereekse soos Orkney snork nie en Vetkoekpaleis, maar hy was ’n ernstige, wyse man.”
Veral oudkollegas het dié kant van Zack geken.
“Van ons was onlangs saam by ’n huldiging van die operaregisseur Neels Hansen en het baie oor die ou dae gepraat. André Laubser, een van Zack se studentemaats, het Zack so raak opgesom: “Hy sou jou gekritiseer het as jy droogmaak en hy sou jou deur diep waters gedra het … maar hy sou jou nooit gedrop het nie.”
Sy en die kinders en mense wat lief was vir Zack, praat dikwels oor hom. Soos haar halfbroer, Pieter de Kock.
“Hy en Zack was soos broers. Hy mis sy beste vriend.”
Zack en oud-Springbok Frik du Preez het op dieselfde dag, 28 November, verjaar. Dit het tradisie geword dat die twee gesinne oor en weer saam verjaardag vier.
“Ons het besluit om met die verjaardagtradisie voort te gaan al is Zack nie meer daar nie. Daar is sulke goeie herinneringe wat ons saam koester.”
Frik het altyd gesê Zack “speel homself”, hy speel nie toneel nie. Maar regisseur en skrywer van Orkney snork nie en Vetkoekpaleis, Willie Esterhuizen, verskil van hom.
“Hy meen Zack was ’n ernstiger man as sy karakters, maar hy het so goed komedie gespeel dat hy dit maklik laat lyk het.”
Daar sal altyd ’n gemis by haar en die kinders wees.
“Ek huil steeds elke dag oor hom. En ek weet nie hoe lank ek nog sal huil nie.”
Zack het die geboorte van sy eerste kleinkind misgeloop. Ook Wénèf se onlangse troue.
“Ons eerste kleinkind, klein Johannes Jacobus Gustav du Toit, Bernice en Roux se seuntjie, het my iets gegee om aan vas te hou. Nuwe lewe. Ek is jammer Zack kon hom nie beleef nie, maar hy het darem die eerste sonar gesien. Hy kon nie vir Marieta van Staden, Wénèf se vrou leer ken nie. Maar al die nuwe gebeure het ons wat agtergebly het op ons voete gehou.”
Die leë huis is nie vir haar maklik nie. Nou is dit net sy en hul Chinese keeshondjie Nula wat daar bly.
“Ek sien nie kans vir oppak en afskaal nie. Nie nou al nie. Al die dinge wat ons bymekaargemaak het, die houtwerk wat hy gedoen het en sentimentele goed is hier.”
Sy sal nooit weer ’n maat soos Zack kry nie. Hy het nooit opgehou om haar knieë lam te maak nie.
“Ek wens soms ek kon weer hoor hoe hy met sy diep stem sag oor die foon ‘haloooe’ sê.”
Sy kon nie die moed bymekaarskraap om na die heruitsending van Vetkoekpaleis op SABC2 te kyk nie. Daarvoor is sy nog nie gereed nie.Die onuitwisbare band sal altyd daar wees. Ek het by sy gedenkdiens gesê ek was bevoorreg om alles wat ek nodig gehad het in een dierbare pakket te kry. Zack was ’n maklike mens om mee saam te bly. Hy het dit vir ’n mens so maklik gemaak.”
Hul verhouding het daardie ongeskrewe iets gehad wat twee mense bind.
Lank ná die gesprek onthou jy nog hoe sy George Weideman se Vir my klein kandas, wat ver is voorgedra het:
“Ek soek na jou sagte hande
om die winter in my weg te vryf,
die liemaak-son van jou lippe
om die ys te smelt wat ónder dryf
Maar die dassiekaros is dun
en die wind wat waai op Naroegas
is ’n sékelwind, my klein kandas.”
Dis ’n dapper vrou wat skuil agter groot nuwe wendinge in haar loopbaan …
die wind wat ná Zack se dood om haar waai, is nog ’n sékelwind.
Die akteur agter Frikkadel
“Dis jammer baie mense het net die komediant op TV geken en nie die Zack du Plessis van die verhoog nie. Toe die streeksrade ná 1994 toemaak, het baie van ons beste akteurs hulle na televisie gewend en dit het Zack mettertyd in die kassie as ‘komediant’ gedruk. Vervaardigers en regisseurs weet iemand werk lekker in ’n sekere genre en gebruik hom weer daarin.
“Vir my was een van sy beste vertolkings Weerskant die Nag waarvoor hy in die laat sewentigerjare ’n Rapport Oscar gewen het.
Franz Marx het ’n ernstige rolprent oor ’n gedoemde verhouding van ’n PG du Plessis-draaiboek gemaak. Ek dink van Zack se beste werk was ook die televisierolprent Die Hartseerwals waarin hy ’n oujongkêrel gespeel het. Sy vernuf as akteur was ook te sien in stukke soos Adam Small se Kanna Hy Kô Hystoe waarin hy teenoor Wilna Snyman gespeel het as Pang, Makiet se man.
“Ek onthou hom as die ou siener Paidagogos in die vertaling van die Griekse tragedie, Electra. Vir my was dit ’n tour de force.
“As dramastudent aan die Universiteit van Pretoria was hy uitstekend as die dandy in die vertaling van Federico García Lorca se Donna Rosita. Dit was nogal snaaks om Zack so met handskoentjies en pluiskeil te sien. Vir iemand wat ver van ’n dandy af was, was hy baie oortuigend!”