Ons ken talent as ons dit sien, veral op die sportveld. Ons weet net iemand met die talent van ’n Joost van der Westhuizen, Victor Matfield, Schalk Burger, ’n Jean de Villiers kan ’n wêreldster in rugby word. Ons betwyfel dit vir geen oomblik dat Bill Gates ’n geniale man is wat op grond van sy genialiteit roem en rykdom verwerf het nie.
Ons weet die Beatles het hul beroemdheid te danke aan hul fenomenale musiektalent, veral dié van John Lennon en Paul McCartney. Maar is hul sukses net aan individuele talent en genialiteit te danke? Is daar iets soos ’n “selfmade man”, die skatryk sakeman wat uit ’n doodgewone, selfs armoedige huis kom en sy eie sukses skep? In sy prikkelende boek, Outliers, the Story of Success (2008, Little, Brown and Co.) lê Malcolm Gladwell ander minder opsigtelike suksesgeheime bloot.
Talent en begaafheid kan beslis aan die grond lê van die grootste uitblinkers se sukses, maar niemand, sê Gladwell, nie eens ’n genie nie, het nog ooit op sy eie sukses behaal nie. Daar is buitefaktore wat met jou afkoms, jou kultuurgroep, selfs jou geboortedatum te make het, wat ’n ingrypende rol speel.
Sportmanne en ouderdom
Wat het Francois Pienaar, Joost van der Westhuizen, John Smit, Schalk Burger, Bob Skin-stad en James Small gemeen? Hulle verjaar almal in die eerste helfte van die jaar. Kan dit deel wees van hul suksesgeheim? Volgens Gladwell, ja.
’n Kanadese sielkundige, Roger Barnsley, het eerste op dié interessante feit afgekom. Hy het na spanlyste van topmanshokkiespanne in Kanada gekyk toe die waarheid hom voor die oë tref. Die meerderheid van hierdie topspelers is in die eerste helfte van die jaar gebore, en veral in Januarie, Februarie, Maart en April.
Beteken dit nou kinders wat in die tweede helfte van die jaar gebore word, het geen sporttalent nie? Natuurlik nie, maar die eerste-helfte-kind se geboortedatum gee aan hom ’n voorsprong op grond van die kiesstelsel van spelers. In Kanada, net soos in Suid-Afrika, loop die jaar waarvolgens spelers op skool in ouderdomsgroepe verdeel word, van 1 Januarie tot 31 Desember. Dit beteken die outjie wat op 31 Desember gebore is, ding mee met een wat ’n volle twaalf maande vroeër op 1 Januarie van dieselfde jaar gebore is.
’n Jaar ouderdomsverskil is ingrypend by klein kinders, spesifiek wat liggaamsgrootte en -bou, koördinasie en emosionele en verstandelike rypheid betref. Twee kinders met ewe veel potensiaal uit dieselfde jaargroep gaan verskillend presteer bloot omdat die een chronologies ouer is. Die ouer, groter, beter gekoördineerde kind vang die oog, word vir die eerste span gekies en word aan intensiewer en meer professionele afrigting blootgestel. Met verloop van tyd kry hy dubbel soveel wedstrydblootstelling, geleenthede en aanmoediging as die jonger outjie. So word sy natuurlike vermoëns geleidelik uitgebou en uiteindelik, as hy 15, 16 jaar oud is, ís hy vanweë sy toegevoegde vermoëns net eenvoudig ’n beter speler as die een wat kleintyd ewe talentvol maar eintlik te jonk was.
Omdat rugby so ’n groot sport in Suid-Afrika is en dit soveel kannetjies se begeerte is om eendag Springbok te speel, het ek dié teorie gaan toepas op ons Springbokrugby-spelers en wil jy glo, uit dertig huidige en oud-Springbokke wie se geboortedatums ek nageslaan het, kon ek net vier kry wat in die tweede helfte van die jaar gebore is: Bakkies Botha – 22 September; Patrick Lambie – 17 Oktober; Ryan Kankowski – 14 Oktober en Jannie du Plessis – 16 November.
Kyk net hoe lyk van die ander uitblinkers se geboortedatums: Naas Botha – 27 Februarie; Francois Pienaar – 2 Januarie; John Smit – 3 April; Joost van der Westhuizen – 20 Februarie; Percy Montgomery – 15 Maart; Victor Matfield – 11 Mei; Fourie du Preez – 24 Maart; Jaque Fourie – 4 Maart.
Talent het hierdie spelers almal, maar dis nie al wat hulle sukses verseker het nie. Hulle het eintlik ’n groot voorsprong gehad, ’n geleentheid gekry wat hulle nie self verdien het nie en waaroor hulle geen beheer gehad het nie, sê Gladwell. En soveel sporttalent gaan verlore weens die jaar lange kies-stelsel. As kinders sou kon meeding binne, sê, ’n ouderdomsgroep wat oor ses maande bereken word, sou soveel meer talentvolle kinders uiteindelik die boonste sport bereik het en sou die talentpoel waaruit nasionale spanne gekies kan word, soveel groter wees.
Hoe hard is jy bereid om te werk?
Bill Gates van Microsoft-faam word wêreldwyd vir sy sukses bewonder. Gladwell beskryf Gates se tradisionele storie: die briljante jong Wiskunde-student aan die Universiteit van Harvard wat rekenaarprogrammering ontdek, opskop en saam met vriende ’n klein rekenaarfirma Microsoft begin. Deur suiwer briljantheid, ambisie en dryfkrag bou hy dit uit tot ’n reusemaatskappy.
Maar, sê Gladwell, dis net ’n halwe waarheid. Dit is dit nie net Gates se briljantheid wat hom so goed maak nie. Die dobbelstene van tyd, geleentheid, ouerhuis en universiteit, waaroor hyself geen beheer gehad het nie, het almal vir hom presies net reg geval. As skoolkind was die kleine Bill ’n bietjie voor op die wa. Skoolwerk het hom gou verveel en aan die begin van graad sewe stuur sy ouers hom na die Lakeside-skool vir elite-kinders in Seattle. In sy tweede jaar aan Lakeside is daar danksy die opbrengs van ’n rommelverkoping ’n rekenaarterminaal by die skool ingerig en ’n rekenaarklub gestig. Onthou, dit was die jaar 1968. Rekenaars was byna ongehoord, selfs in kolleges.
Dit was ook nie ’n hierjy-rekenaar wat met behulp van ponskaarte geprogrammeer is nie. Nee, dit was ’n tyddeelrekenaar gekoppel aan ’n hoofraamrekenaar in Seattle en so kon Gates reeds as graad 8-leerling in 1968 regte programmering aanleer.
Hy het in die rekenaarkamer geleef, soms selfs daar geslaap. Nagte deur het hy programmering gedoen. Toe tref nog ’n gelukkie die klub. ’n Maatskappy sou hul rekenaarsagteware deur Gates se klub laat toets in ruil vir gratis programmeertyd.
Ná skool het Bill Gates dus na die maatskappykantore toe gegaan en daar tot laat in die aand programmering gedoen.
Ook die maatskappy ISI het aan die leerlinge gratis programmeertyd gegee in ruil vir hul hulp met die ontwikkeling van sekere sagteware. In ’n tydperk van sewe maande, volgens Gladwell, het Gates en sy vriende 1 575 uur rekenaartyd op die ISI-hoofraam benut. Dit werk uit op agt uur per dag, sewe dae per week.
Dit het vir hom ’n obsessie geword, het Gates later vertel. Hy het sport laat vaar en nagte en naweke by die rekenaars deurgebring. Dit sou uitsonderlik wees as hy in ’n week nie dertig of veertig uur se programmering doen nie. En dit bring Gladwell by sy volgende insig: as jy die getal ure bereken wat Bill Gates aan programmering bestee het voordat hy die briljante meester geword het, kom jy by tienduisend uit. Dit is die magiese getal wat jy moet insit as jy die voortou wil neem.
Dit geld eintlik alle terreine. Wêreldberoemde musici styg nie moeiteloos op grond van talent alleen bo die res uit nie. Drie uur per dag, later vyf uur, nog later sewe uur per dag oefen hulle. Teen die tyd dat hierdie musici twintig is, het hulle tienduisend uur se oefening agter die rug. Dit is die towergetal, volgens Gladwell. In watter rigting jy ook al aangelê is, musiek, sport, rekenaars, wat ook al, eers as jy tienduisend uur se “oefening” agter die rug het, is jy ’n meester.
Dis die verskil tussen die jong genie wat ’n uitblinker word en die een wat op raaisel-agtige wyse in middelmatigheid gevange bly: kry jou tienduisend uur in. ’n Mens dink onwillekeurig aan Gary Player. Toe hy op ’n dag gevra is of pure geluk nie ook ’n rol in sy sukses speel nie, het hy geantwoord: “Ja, hoe meer ek oefen, hoe meer is die geluk aan my kant.” Hy het sy tienduisend uur ingesit en die vrugte gepluk.
Ironies genoeg bewys Gladwell deur die toevallighede van tyd, plek en geleenthede wat Bill Gates en ander sterre soos die Beatles en selfs iemand soos Mozart te beurt geval het, juis dat “geluk” tog ook ’n rol speel. Watter beheer het jy oor die ouerhuis waarin jy grootword, of die jaar waarin jy gebore word? As Gates nie in 1955 gebore is nie, sou hy nie in 1968 by die skool met sy nuwe rekenaargeleenthede gewees het nie. Maar ondanks dié gelukskote moet jy bereid wees om baie hard te werk. Mik vir die tienduisend uur.
’n Hoë IK en sukses
Intellektueel geniale kinders het die beste kans om uitblinkers te word. So dink baie mense, en om dié rede kan ouers soms obsessief daaroor wees om hul kind as “begaafd” te laat toets. Wat kan ’n genie terughou?
Tog dui Gladwell se navorsing daarop dat intellek glad nie ’n voorspeller vir latere sukses is nie. Sy verhale van mense wat die basiese toerusting vir sukses het en nog tans nie bo uitkom nie, is juis van die aangrypendste in sy boek.
Hy vergelyk byvoorbeeld twee intellektuele genieë – die bekende Robert Oppenheimer, die vader van die atoombom, en ene Christopher Langan, ewe geniaal maar sonder noemenswaardige prestasies.
Die belangrikste verskil tussen die twee is hul huislike omstandighede. Robert Oppen-heimer het in een van die mees welaf gebiede in Manhattan grootgeword. Sy pa was ’n suksesvolle sakeman en Oppenheimer het die beste skool- en algemene ontwikkelingsgeleenthede gehad. In hierdie opvoedingsproses het hy vaardighede aangeleer, soos om homself uit moeilike situasies te praat, of sy oorredingsvermoë en interpersoonlike vaardighede in te span om hom in geleenthede in te praat. Hy het tuis die “praktiese intelligensie” aangeleer wat nodig is vir ’n suksesvolle loopbaan.
Chris Langan is nie ’n beroemde natuurwetenskaplike nie. Hy tree gereeld in vasvra-programme in Amerika op waar hy mense verstom met sy intellektuele vermoëns. Die aankondiger van so ’n program sal Chris aan die gehoor voorstel deur te sê: “Die gemiddelde mens se IK is 100, Einstein s’n 150. Ontmoet Chris met sy IK van 195.”
’n Nuusprogram het eenmaal ’n neurosielkundige gekry om Langan se IK te toets, en sy telling was letterlik bo die vermoëns van die toets. Hy het op ses maande al gepraat en op drie jaar homself leer lees. Toe hy vyf was, het hy sy oupa lastig geval met vrae oor die bestaan van God, en hy onthou dat hy teleurgesteld was oor party van die antwoorde wat hy gekry het.
En tog is dit al wat Langan bereik het – om as kuriositeit op TV-programme te ver-skyn. Hoekom? Volgens Gladwell het buitengewone prestasie minder met talent te doen as met geleenthede.
Langan het in die uiterste armoede in ’n klein dorpie in Montana grootgeword. Sy ma het vier seuns gehad, elk met ’n ander pa. Chris was die oudste en sy pa het voor sy geboorte weggeloop. Sy ma se tweede man is vermoor, die derde het selfmoord gepleeg. Die vierde man, Jack Langan, het die kinders se stiefpa geword. Hy was chronies dronk en het vir lang tye net verdwyn. Wanneer hy wel by die huis was, het hy die kinders mishandel.
Ook op skool is die seuns afgeknou. Langan se broer, Jeff, sê: “Ek dink nie die skool het ooit verstaan presies hoe begaafd Chris werklik was nie … Hulle het net besluit ons gesin is ’n klomp agterlikes.”
Langan het ná skool kollege en universiteit toe probeer gaan, maar moes elke keer ná persoonlike konflik met ’n sleutelfiguur tou opgooi. Hy kon glad nie sy behoeftes verwoord nie en ook nie moeilike situasies ontlont nie. Onthou, hy het nooit in sy huis geleer hoe om dit te doen nie. Daar is alles deur aggressie besleg.
Sonder ’n universiteitsgraad het Langan rondgeval tussen fabrieks- en uitsmyterwerk en ander soortgelyke posisies. Maar steeds bestudeer hy filosofie, wiskunde en fisika in diepte en hy werk aan ’n uitgebreide verhandeling getiteld “’n Kognitiewe teoretiese model van die heelal.” Erkenning vir dié werk sal hy sekerlik nooit kry nie, want hy het nie die tersiêre kwalifikasies om geloofwaardigheid aan sy werk te gee nie.
Dis ’n hartseerstorie. Hy is ’n eensame mens met ’n onversadigbare aptyt na kennis, maar het nie die vermoë om iets beters met sy lewe te doen nie. Sy ouerhuis het hom gekniehalter. Dit het hom nie lewensvaardighede geleer nie.
’n IK-toets meet jou analitiese vermoëns en al is dit hemelhoog, het jy ook “praktiese intelligensie” nodig om sukses te behaal, sê Gladwell. Dis iets wat Langan nie het nie. Dit behels onder meer dat jy weet wat om vir wie te sê, wanneer om dit te sê en hoe om dit vir die maksimum impak te sê. Dis die intelligensie wat jou leer om situasies op te som en te kry wat jy wil hê. ’n Hoë IK waarborg nie dat jy hierdie soort intelligensie het nie. Genialiteit is tot in ’n sekere stadium belangrik, maar daarna speel ander faktore ’n groter rol.
Is daar ’n suksesgeheim?
Outliers is nie ’n selfhelpboek nie. Jy gaan nie daarin ’n resep vir sukses kry wat jy kan toepas nie. Alles wat hy nagevors het, sê Gladwell, wys hoe belangrik geleenthede is. Dit is die enigste voorspelbare roete wat jy vir sukses kan aandui. Dis nie net die slimstes en talentvolstes wat bo uitkom nie. As dit was, sou Chris Langan dieselfde aansien as Einstein gehad het. Sukses is ook nie net die som van ons eie besluite en pogings nie. Die sogenaamde “selfgemaakte man” bestaan nie. Sukses is eerder ’n geskenk. Outliers of uitblinkers is mense wat geleenthede gekry het en dit aangegryp het.
Dit kan ons met nuwe oë laat kyk na ge-leenthede wat ons vir ons kinders skep om van hulle volronde mense te maak. Dit kan ons ook opnuut laat besef ons moet ons oë oophou vir geleenthede wat hulle voordoen en bewustelik kies om hulle aan te gryp. Op die ou end het die uitblinker egter ook soms ’n stewige skoot geluk aan sy kant, regverdig of te nie. En dit laat al ons gewones ’n rapsie beter voel.