Dit klink te goed om waar te wees: ’n Seun van tien wat reeds sy eie vakansiehuis by die see besit; sussies van nege en tien met genoeg geld in die bank om vier jaar se universiteitsgeld te kan betaal. En dit alles het hulle as modelle in die advertensiebedryf verdien.
“Maar een ding is seker,” sê Pat Mac-Ewan, agent van 18 Below-modelagentskap in Kaapstad. “Dis beslis nié maklike geld nie. En ouers moet ’n paar dinge oorweeg voor hulle hul kinders in die kollig plaas.”
Hana en Fransesca Sullivan, twee sussies van nege en tien, het geen rede tot kommer oor hoe, en wie, eendag hul tersiêre opleiding gaan betaal nie. Die twee het elk reeds genoeg geld weggesit om vier jaar se studie aan een van ons duurste universiteite te kan bekostig. En hulle het self vir die geld gewerk. Dié twee sussies is gewild in die advertensiebedryf en word gereeld vir TV-advertensies en advertensiefoto’s gebruik, hoofsaaklik vir kliënte in Duitsland en Engeland. Dit beteken groot geld.
Vir hul ma, Mary-Lou Nash, is dit ’n verligting om te weet haar kinders se opvoeding is betaal. Sy is ’n enkelma, met geen finansiële ondersteuning van haar eksman nie. Hana was nege maande en Fransesca ses weke oud toe hulle hul eerste fotosessies gehad het.
“Ek was aanvanklik huiwerig om hulle deel van die modelwêreld te laat word. Dit het vir my te veel na ’n tiara-besigheid gelyk en ek wou nie klein prinsessies van my kinders maak nie. Maar vriende het my omgepraat en ons het by ’n goeie modelagentskap beland,” sê Mary-Lou. Hulle het gelukkig gou besef dis allesbehalwe ’n skoonheidskompetisie. “Jy het die voorkoms wat die kliënt soek, of nie. Eenvoudig,” sê Mary-Lou.
Fransesca met haar rooiblonde hare en sproete is byvoorbeeld onlangs vir ’n Ierse advertensie gebruik. Nie een van die sussies jaag roem na nie. “Dit bly hul keuse of hulle vir ’n oudisie wil gaan of nie. Hulle sal nie sommer ’n sportbyeenkoms of ’n kuier by maats vir ’n rukkie voor die kameras verruil nie.”
Vra die susters wat hulle eendag wil word, is die antwoord “onderwyser” en “professionele atleet”. “Die meisies kla soms oor die ryery, maar nooit oor die fotosessies nie,” sê Mary-Lou. “Dis alles behalwe ‘maklike’ geld. Jy moet eers ’n oudisie bywoon, waarvoor jy nie betaal word nie. Dan word jy soms teruggeroep voor die kliënt finaal besluit. Betaling wissel van baie min vir ’n plaaslike advertensieveldtog tot fantasties vir wêreldwye veldtogte. Ons het toe die meisies nog klein was soos afkophoenders rondgehardloop, maar het deur die jare geleer om minder te doen, en werk meestal net saam met fotograwe en regisseurs met wie ons al ’n goeie verhouding opgebou het. Die meisies se geld word in hul eie rekeninge inbetaal en word spesifiek vir hul opvoeding gespaar. Natuurlik hou ons ’n bietjie eenkant vir lekker dinge soos pizza-aande.”
Mary-Lou is mede-eienaar van ’n wynplaas in die Paarl. “In die meeste gevalle hoor ons maar 24 uur voor die tyd van ’n oudisie. Jy moet uiters plooibaar wees.” Sy sê haar dogters is gelukkig min gepla as hulle nié vir ’n veldtog gekies word nie.
“Hulle ervaar dit nie as verwerping nie, want dit gaan nie oor die ‘mooiste’ nie, dit gaan bloot daaroor dat kliënte ’n spesifieke voorkoms soek. Die klere moet mooi aan die model lyk, en die model se persoonlikheid speel ook ’n rol,” sê sy.“Ai, ons het al geglimlag oor die mense wat ons by sulke oudisies ontmoet. Sommige kan nie wag om hul kind se prestasies met jou kinders s’n te vergelyk nie. Ek knip sulke geselsies kort.”
Sy sê een van die voordele van die bedryf is dat sy en die kinders gereeld nuwe vriende maak en nuwe kulture leer ken. Hulle leer ook onderskei tussen ware vriende en dié wat jou maklik in die rug sal steek. Die grootste lesse wat Hana en Fransesca volgens hul ma kan leer, is die waarde van geld – dat dit nie uit die lug val nie; die waarde van spaar; hoe om hul tyd te benut en te beplan, want hulle neem aan ander aktiwiteite ook deel; en die belangrikheid van ’n gebalanseerde lewe, dat een ding nie jou lewe moet oorheers nie, maar dat jy perspektief moet behou en weet wie jy is en waarheen jy op pad is.
“Ouers en kinders moet baie opofferinge maak en net as julle die wilskrag en dissipline het, sal die kinders suksesvol wees,” sê Pat. Kinders het sekere vaardighede nodig. Dramaklasse, gimnastiek, redenaarskompetisies en sport kan hulle ’n voorsprong gee. “As ’n tiener vir ’n onderhoud kom en sê hy neem aan geen buitemuurse aktiwiteite deel nie, is die kans dat hy vir ’n veldtog gekies gaan word maar skraal,” sê Pat.
“Daar is baie ups as jy die werk losslaan, maar baie downs as jy dit nie kry nie. Kinders moet veral besef dit is ’n werk, nie speletjies nie, hoewel dit pret ook kan wees. Dit bly die ouer se verantwoordelikheid om te sorg dat ’n kind realistiese verwagtinge het.” ’n Kliënt moet heeltemal seker wees hy kan met die kind werk en dat die kind wel opdragte kan uitvoer. In die nuwe Woolworths-advertensie is net agt kinders uit ses honderd hoopvolles gekies.
“Almal wil in ’n Woolies-advertensie wees, want jy word in Suid-Afrika gesien en dit het ’n soort glansreputasie,” sê Pat.
“Op die oomblik hou ons baie oudisies vir kliënte wat op soek is na rooi hare en sproete, of groot ore en draadjies op die tande.”
Gekonfyt
Die De Villiers-gesin weet al: as Danielle (11) vir ’n oudisie genooi word, moet alle ander dinge maar eers wag. Sy het op drie reeds voor die kameras geblom en ernstig modelwerk begin doen toe sy ses was. Haar gesig het al in talle internasionale veldtogte verskyn, onder meer in Italië, Engeland, Holland, Duitsland en Frankryk.
“Dis soms moeilik om die modelwerk met die res van die gesin se skedules te versoen. Maar ons het ooreengekom dat Danielle se werk eerste gestel word. Toewyding is noodsaaklik in die bedryf,” sê Helene de Villiers, wat Danielle op elke oudisie en fotosessie vergesel. Die bedryf is nie vir die gesin ’n nuutjie nie, want Danielle se ouer suster, Tarryn (22), is ook ’n model.
Op ’n weeksdag is Danielle dikwels reeds halfses die oggend voor die kameras en gaan dié dag nie skool toe nie, maar sy haal die huiswerk pligsgetrou in, sê haar ma. Sy blink uit in moderne danse en ritmiese gimnastiek en dit tel in haar guns, want veelsydige modelle is in aanvraag.
“Soms sal sy ná ’n lang dag op stel, of as ons ver moes ry, vir my sê sy’s moeg, maar sy weet dis deel van die uitdaging. Sy hou daarvan. Danielle het ook haar eie bankrekening en spaar die meeste van haar inkomste.”
Helene wil nie verklap hoeveel Danielle al so bymekaargemaak het nie. Nie alle ouers is ewe gretig om hul kinders te help om hul inkomste te spaar nie. “Glo dit of nie, maar daar is ouers wat die geld vir hulself gebruik. Anders as in Europese lande waar regerings streng toesig hou dat kindersalarisse in ’n trust inbetaal word, en slegs uitbetaal wanneer die kind 16 is, het ons nie sulke beheer nie,” sê Pat.
Ons wet bepaal wel dat kinders slegs drie uur per dag mag werk; nie meer as agt uur op ’n stel mag deurbring nie; ná elke negentig minute ’n halfuur moet rus; hul eie aantrekkamers apart van die volwassenes s’n moet hê en voldoende speel- en rusplekke moet hê. Voor ’n rolprent- of fotosessie moet die kliënt eers by die Departement van Arbeid aansoek doen om ’n permit vir elke kind wat op stel gaan wees.
Pat verafsku opdringerige ouers. Dis nou dié ouers wat namens hul kinders praat, inmeng in fotosessies en druk op die kind plaas om soveel moontlik rolle te kry. Daar is ook dié ouers wat hul kinders aantrek asof hulle na ’n modeparade gaan – grimering en al!
“Dis juis wat ons nié wil hê nie. Jou kind moet natuurlik wees, dis wat die kliënte soek,” sê Pat.
“Maar moenie dink jy kan die kind douvoordag uit die bed pluk en haar met kaalvoete, pajamas en deurmekaar hare na ’n oudisie neem nie. Dit bly ’n professionele beroep. Ons soek die kinders mooi skoon en netjies. Hare gekam, tande geborsel en met skoene aan die voete. Ouers moet onthou die kliënt neem die kind in diens, nie die ouer nie. ’n Ouer mag nie inmeng in ’n fotosessie nie en moet terugstaan terwyl hulle binne hoor- en sienafstand is,” sê sy.
Daar is uitsonderings, soos wanneer babas gebruik word. Dan is dit beter as die ouer naby is om die baba gerus te stel, te laat lag, of selfs ’n doek te ruil of aan te trek.
Geldsake
TV-advertensies word afgebreek in daggeld van sowat R1 500. Die tantieme of gebruiksgeld word onder meer gegrond op die media waarin die advertensie gebruik word, soos vir televisie, ’n fliek, die Internet, digitale media of tydskrifte, asook die persentasie vir die land of streek waar die advertensie gebruik word, soos Suid-Afrika, lande suid van die Sahara, Duitsland, Engeland, of die hele Europa.
Tantieme hang ook af hoeveel kykers daar in die streek is. Dus verskil betalings vir verskillende advertensies en veldtogte. Pat sê Kaapstad is een van die drie gewildste internasionale bestemmings vir veldtogte en honderde internasionale kliënte kom skiet jaarliks hul materiaal hier. So ’n “wêreldwye veldtog” kan ’n model R40 000 tot R50 000 in die sak bring. “Tydskrifadvertensies betaal nie so goed nie, en ’n model sal sowat R800 vir ’n halwe dag verdien,” sê Pat.
Ouers se verantwoordelikheid
“Ek meen die beste ouderdom vir ’n kind om met modelwerk te begin, is op agtien. Hulle het ’n meer gevestigde idee van wie hulle is, en is reeds deur daardie deurmekaar tiener-stadium,” sê Cathi Trevor, wie se modelwerk haar al na Parys, New York en Londen geneem het. Sy is nou ’n vryskut-stilis en word soms nog in advertensieveldtogte gebruik. Sy voel dis onnodig om kinders op ’n jong ouderdom aan die stres van verwerping bloot te stel. En die lang ure se wag op stel, wanneer hulle eintlik moet speel, is ook nie vir haar die moeite werd nie.
“As dit die ouer se droom is, en nie die kind s’n nie, verloor so ’n kind veel meer as wat hy finansieel kan verdien,” sê Cathi. “’n Mens kan gou agterkom as ouers agter die roem aan is, en dit nie werklik die kind se passie is nie.”
Cristine Scolari, kindersielkundige van Sandton, sê ouers moet goed nadink oor die redes waarom hulle hul kinders na oudisies wil neem.
“Sodra ’n ouer eintlik haar eie droom deur die kind wil leef, sal die kind maklik belang verloor en nie gemotiveerd wees nie. Sulke ouers beroof hul kinders van ’n eie identiteit, want nou doen die kind net iets om die ouer tevrede te stel. Hulle verloor hul eie drome en doelwitte. Onthou, dis die ouer se verantwoordelikheid om die kind te help om soveel moontlik vaardighede en morele waardes te ontwikkel,” sê sy. Sy meen die voordele van die soort werk is dat kinders se selfvertroue groei. “Hulle voel belangrik en spesiaal en dat hulle goed is in ’n aktiwiteit.” Daarby leer hulle die waarde van harde werk, met waardering vir wat die ouers doen.
Daar is ook nadele. “Kinders is nie vir ewig ‘kind’ nie, en moet soveel moontlik tyd gegun word om ook hul kindertyd te geniet. Hulle moet speel, want dit ontwikkel verbeelding, kognitiewe denke en sosiale vaardighede. ’n Mens moet ook daarteen waak dat te veel klem op die uiterlike geplaas word, en dat innerlike waardes, hul ander vaardighede en menseverhoudings opsy-geskuif word. Sodra kinders in die openbaar herken word, kan dit hul persoonlike ruimte knou, en hul enigste identiteit word dié wat met die advertensie- en modelwese geassosieer word. Hulle kan dalk ook ’n bietjie grootkop kry, en dink dat hulle beter as ander is, of arrogant en vermetel word.”
“Behou altyd gesonde balans en gun jou kinders die geleentheid om self te besluit wat vir hulle lekker is, of nie,” sê Pat.