Die kwessie van suur mynwater kan nie langer geïgnoreer word nie. Maar kan daar regtig ’n oplossing gekry word?
Op 22 Maart 2012, Wêreldwaterdag, het me. Edna Molewa, die minister van waterwese, nuwe maatreëls aangekondig om die groeiende probleem van suur mynwater te takel. Die grootste probleem is natuurlik dat enige projek wat op lang termyn ’n oplossing moet bied, duur is. Molewa het gesê sowat ’n miljard rand is nodig om die suur mynwater in die Witwatersrand se mynkomme te behandel. R924 miljoen is nodig om ’n korttermynplan in werking te stel, en veel meer is nodig om dit op lang termyn op te los. Maar die Tesourie het net R433 miljoen beskikbaar gestel, die res van die geld sal van elders moet kom. In haar toespraak het die minister ’n beroep gedoen op die “gewete” van alle Suid-Afrikaners, en veral die goudmynhuise wat reeds landuit is, om na oplossings te help soek.
Die krisis waarmee ons nou sit, het natuurlik sy oorsprong in die ontdekking van goud aan die Witwatersrand 120 jaar gelede. Terwyl die aarde onder oopgetonnel is, het niemand hom bekommer oor wat sou gebeur as die goud eendag opraak nie. Terwyl daar aktief gemyn is, is die water onder die grond voortdurend uitgepomp, maar toe die myne sluit, was dit ook die einde daarvan.
In 2002 het almal bewus geword van ’n dreigende omgewingskrisis toe suur mynwater by verlate mynskagte in Krugersdorp begin uitstroom. Al is dit al in 1996 voorspel, het die regering vir die eerste keer taakspanne aangestel om die situasie te ondersoek en met voorstelle te kom. Die grootste beswaar van omgewingsaktiviste is dat daar, ondanks baie planne, nie veel gedóén word om die probleem op te los nie.
Wat is suur mynwater?
Suur mynwater word gevorm wanneer ou mynskagte en -tonnels deur grondwater oorstroom word. Om suur mynwater te vorm is piriet, suurstof, sekere bakterieë en water nodig.
Die water is heeltyd uitgepomp toe daar aktief gemyn is, maar noudat die pomp- prosesse gestaak is, vloei daar baie water in die tonnels in, ondergrondse water sowel as water wat van die oppervlak af kom. Wanneer die water met die ontblote, metaalryke rotswande in aanraking kom, oksideer die piriet en vind ’n chemiese reaksie plaas wat die water suur maak. Sodra die mynwater suur word, los sekere van die toksiese metale wat in die erts is ook in die water op. Hierdie metale sluit mangaan, aluminium, yster, nikkel, sink, kobalt, koper, radium en uraan in.
Die water akkumuleer dan verskillende vlakke van toksisiteit en ook radio-aktiwiteit in die geval waar radium en uraan in die rots teenwoordig is, afhangende van die blootstellingstydperk van die water aan die mynrots. Wanneer die water na buite stroom, soos tans aan die Wes-Rand gebeur, word die natuur aan hierdie vernietigende, giftige water blootgestel.
‘Almal is onkant betrap’
Garfield Krige, ’n waterwetenskaplike en eienaar van die maatskappy African Environ-mental Development was vroeër deel van ’n omgewingspan van die voormalige JCI-goudmyngroep. Die groep het reeds in 1996 besef die goud is byna uitgemyn en ondersoek ingestel om te sien wat gaan gebeur as die water nie meer uitgepomp word nie. Volgens die modelle wat die span gebou het, is daar voorspel dat die suur mynwater in 2002 bo die grond gaan begin uitloop.
Ongelukkig het ’n hele paar dinge in daardie tyd skeefgeloop, onder meer dat die JCI-groep in Brett Kebble se hande beland het. Van al die planne om die kwessie van suur mynwater te takel, het daar toe niks gekom nie.
“Harmony Gold wat toe beheer oorgeneem het, het gesê al ons voorspellings dat die water bo gaan begin uitstroom, is verkeerd. Die Departement van Waterwese was te bly oor die ‘goeie’ nuus en het besluit om daarvan te vergeet.
“Dis nou ou nuus dat ons voorspelling toe wel akkuraat was en binne ’n maand van die datum wat ons voorspel het, het die water in die Krugersdorp-omgewing by van die mynskagte begin uitloop. Die meeste mense het geglo dit gaan nooit gebeur nie, en skielik betrap dit almal toe onkant.
“Al was die eerste water wat uitgekom het van ’n goeie gehalte, het ek geweet dis net die voorste water wat so sal wees, en ’n paar maande later, nes ek voorspel het, is die beter gehalte vlak grondwater verplaas deur die dieper suur mynwater en hierdie toksiese water het toe op die oppervlak begin uitstroom,” sê Garfield.
‘Nog nie te laat nie’
Marius Keet is ’n senior bestuurder watergehalte by die Departement van Waterwese. Hy werk nou saam met die span deskun-diges wat ’n oplossing vir die suur myn-waterprobleem moet kry.
Hy verduidelik daar is drie groot komme in die Witwatersrand. Die eerste kom, waar die water reeds sedert 2002 uitloop, is die westelike kom wat onder Krugersdorp en Randfontein lê. Die ander komme is die sentrale kom onder Johannesburg se middestad, en die oostelike kom in die rigting van Nigel. Hierdie drie komme is nie ondergronds met mekaar verbind nie. Die regering het geld bewillig sodat pompe geïnstalleer kan word om die water in die komme uit te pomp. Dis net ’n tydelike maatreël en geen volhoubare oplossing nie. Hierdie pomp- proses gaan baie duur wees en ingrypende stappe is nodig om die water tot ’n aanvaarbare gehalte te kry.
Marius is oortuig daarvan dat dit nog nie te laat is om ’n oplossing te kry nie. “Diegene wat ons kritiseer, besef nie ons moes eers gaan huiswerk doen nie. Daar moes eers verskeie studies gedoen word om te kyk wat die situasie is. In die westelike kom is daar wel te lank gewag. Ons kan nie toelaat dat dit ook in Johannesburg gebeur nie en daar is genoeg tyd in die sentrale en oostelike kom om die situasie te red.
“Ons werk tans teen ’n baie taai tydskedule. Ons het aan die einde van April begin om die suurmynwater in die westelike kom uit te haal en skoon te maak. Dit sal wel nie tot op die vlak van drinkwater wees nie, maar ten minste sal dit geneutraliseer word sodat daar nie meer onverdunde suur mynwater in die Tweelopiespruit afgestuur word nie. In die sentrale kom is ons teiken om Junie volgende jaar te begin pomp sodat ons so kan keer dat die ondergrondse water nie die omgewingskritiese vlak oorskry nie. In die oostelike kom het ons ’n bietjie meer tyd, want Grootvleimyn het eers verlede jaar opgehou om die suur mynwater uit te pomp en teen die einde van volgende jaar behoort daardie pompe ook in werking te wees.”
Die planne van die Departement van Waterwese waarvan Marius praat, is om die watergehaltevlakke terug te kry na vroeëre vlakke. Die sentrale kom se watergehaltevlak tot die vlak van 2008, die westelike kom na die vlak van 2002 en die oostelike kom na wat dit was voordat die Grootvleimyn opgehou pomp het. Die water sal dan uitgepomp word, die hoë vlakke van yster en ander metale uit die water gehaal word deur kalk en suurstof by te voeg, en dan sal dit in die riviere vrygelaat word waar dit verder verdun sal word tot ’n aanvaarbare vlak. Die regering het R433 miljoen geoormerk om pompstasies en suiweringsaanlegte te bou. Maar hoe suksesvol sal hierdie plan wees?
“Die uitdaging is om die regte oplossing te kry, want daar is soveel uiteenlopende menings. Daar is sommige kundiges wat voorstel dat die water net so gelos word in die westelike kom, maar ons weet die risiko is net te groot om dit so te los,” sê Marius.
Garfield is skepties oor al hierdie planne. “Wat my ongelukkig maak, is dat ons professionele mense gehad het wat reeds in 1996 studies gedoen het. Daar is baie geld bestee aan hierdie studies en ons het presies voorgestel wat gedoen kan word. Ons het ook ’n riglyn gegee wat met die water gedoen kan word. Tussen 1996 en 2002 het ses jaar verloop waarin niks gedoen is nie. Toe die water bo uitkom, het almal geskrik en gesê nou het ons regtig ’n krisis.
“Die regering se planne vir suur mynwater lyk goed op skrif, maar in die proses gaan ’n klomp van die belastingbetaler se geld bestee word aan iets wat nie werklik hul probleem is nie. Die myne, wat die werklike oorsaak van die probleem is, is besig om skotvry van die ding af te kom. In ons nasio nale Waterwet geld die beginsel dat die besoedelaar moet betaal. Maar dit word glad nie hier toegepas nie.
“In die tweede plek is die plan wat hulle voorgestel het, heeltemal ontoereikend en net ’n bietjie meer as oëverblindery. Dis bloot die eerste stap in ’n meer komplekse proses en ek is net bang daar sal in ’n stadium nie meer geld wees om die proses deur te voer nie. Na my mening gaan die proses water wat goed is vir niks, verander in water wat goed is vir niks. Dit gaan bloot mooier lyk en nie meer oranjekleurig wees nie.
Die groot probleem is die baie sulfate in die water. Daar is geen maklike manier om sulfate uit die water te kry nie. Die suiweringsaanleg wat die regering gaan bou, gaan ’n oormaat kalk in die water gooi. Daar-mee sal hulle die sulfate van omtrent 6 000 na 2 500 milligram per liter verminder. Dan is dit nog nie goed genoeg vir menslike gebruik nie. Die nasionale drinkwaterstandaard (SANS 241 van 1011) laat op die oomblik ’n maksimum van 500 milligram sulfate per liter toe.”
Donker nalatenskap
Mariette Liefferink, voorsitter van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing is ’n omgewingsaktivis wat alles in die stryd werp om mense bewus te maak van die omvang van hierdie omgewingsramp. Ironies genoeg kon sy by nie een van die groot bankgroepe en ander reuse-nywerhede befondsing kry om die probleem van suur mynwater te beveg nie.
“Dis belangrik om te onthou dat hierdie ’n nalatenskap is van 120 jaar se ongereguleerde mynbou waar die regering en die mynmaat-skappye die impak van die mynbou geëksternaliseer het op toekomstige geslagte en op die omgewing en die gemeenskap. Nou, 120 jaar nadat sowat 43 000 ton goud en 73 000 ton uraan ontgin is, sit ons met ’n donker nalatenskap wat so groot is dat ek twyfel of dit ooit heeltemal opgelos sal kan word.
“Die brandpunt is nie bloot die opvulling van die mynkomme waar mynbou plaasgevind het en die oorstroming van die suur mynwater op die oppervlak nie. Dis ook die 270 slikdamme, die sogenaamde uitskotfasiliteite wat ses biljoen ton ysterpiriet bevat. Vir die volgende paar honderd, indien nie duisend jaar nie, gaan dit suur mynwater genereer. Dié damme kan jy nie in ’n suurstofryke omgewing bestuur nie. Hierdie suur mynwater mobiliseer die swaar metale, dit sluit radioaktiewe uraan in, dit word vervoer en los uiteindelik in die drinkwater op.”
Wat is die huidige stand van sake?
Mariette Liefferink meen alles is nie onder beheer nie, al sê die regering dit is. Sy besoek die probleemgebiede byna daagliks, en sien nog geen poging om die probleem op te los nie. Sy gee die volgende kommerwekkende statistiek:
Aan die begin van September 2011 het reeds 20 miljoen liter water per dag by van die skagte in Krugersdorp uitgeloop.
Baie van die water wat hier uitloop, beland in die Swartkrans- dolomitiese grondwaterkomponent en duisende mense in die gebied is afhanklik van hierdie water vir drinkwater en besproeiingswater. Die mynwater wat nie in die grondwater instroom nie, loop verder met die Bloubankspruit tot in die Krokodilrivier en uiteindelik na die Hartbeespoortdam toe.
Die impak hiervan is vernietigend en het ’n onherstelbare invloed op die ekosisteme in die gebied.
Die Tweelopiespruit is ’n klas vyf rivier, met ander woorde ’n hoogs toksiese rivier. Garfield Krige sê die Tweelopiespruit is ’n dooie rivier met nie ’n enkele makrolewende wese daarin nie. Damme soos die Robinsondam het uraanvlakke wat 40 000 keer hoër is as wat normale uraanvlakke in water is. Damme soos die Hippo- en Aviary-dam in die Tweelopiespruit opvangsgebied, en die Lancaster- en Tudor-dam in die Wonderfon-teinspruit-opvangsgebied is verklaarde radioaktiewe gevaargebiede.
Teen 2014 gaan die land se watervoorraad van so ’n aard wees dat daar nie meer genoeg water van die Lesotho-hooglandskema af kan kom om die soutladings in die suurmynwater, wat na die Vaalrivier afloop, te verdun nie.
Nie net is watersekuriteit in gevaar nie, maar ook voedselsekuriteit. Vanweë die hoë soutvlakke in riviere soos die Krokodilrivier wat in ’n groot mate vir besproeiing gebruik word, word die grond al meer steriel en al minder geskik vir die aanplant van gewasse.
Garfield Krige is ook bekommerd oor die feit dat waar suur mynwater in ’n dolomitiese omgewing ingaan, los dit die klipmassa op. Ruweg geskat word ’n 300 liter-gat gevorm vir elke megaliter suur water wat in ’n dolomitiese gebied inloop. In 2006 reeds het daar 15 tot 20 megaliter mynwater per dag uitgestroom. Hy vrees die dag wanneer ’n sinkgat reg onder die N14 gaan vorm, want die Tweelopiespruit loop tussen Tarlton en Oaktree onder die N14 deur. Al het hulle die Departement van Waterwese verskeie kere hieroor gewaarsku, word steeds niks daaraan gedoen nie.
’n Dreigende wateroorlog
Met die ter perse gaan, is daar in die media ’n oorlog gevoer tussen verskillende rolspelers wat meen dat hulle die oplossing vir die suurmynwaterprobleem het.
Aan die een kant is daar Western Utilities Corporation (WUC), wat drinkwater uit die suur mynwater wil produseer. Die ander proses is dié van ioonruiling en Trailblazer Technologies wil daarmee suur mynwater verwerk tot water wat landbouproduksie bevorder. Dit sal nie vir menslike gebruik herwin kan word nie. Die grootste probleem met hierdie proses is tyd. Dit sal minstens vyf tot ses jaar duur voordat ’n ioon-ruilingsaanleg gebou en in ge-bruik geneem kan word.
Met die suur mynwater wat tans reeds op plekke bo die grond uitloop, is daar bloot net nie soveel tyd oor nie.
Patentreg vir hul weergawe van die ioonruilingsproses is verlede jaar aan mnr. Alistair Forsyth van Trailblazer Technologies toegeken. Hy is ’n jare lange vriend van prof. Anthony Turton. Prof. Turton, ’n voormalige waternavorser, het die regering in ’n verslag aanbeveel om WUC se planne om suur mynwater tot drinkwater te suiwer, te verwerp.
Die laaste veldslag in die wateroorlog is nog lank nie gevoer nie.