Linde se droom
Linde is ’n senior bestuurder in Randburg. Haar gestroopte klerestyl weerspieël haar persoonlikheid: sonder fieterjasies. Voete op die grond. Nie iemand wat aan Marsmannetjies glo nie. Maar, vertel sy, die afgelope paar jaar het sy ’n terugkerende nagmerrie wat ooreenstem met die vertellings van mense wat abduksies en buiteliggaamlike ervarings het.
“Dit gebeur ’n paar nagte kort ná mekaar en dan vir twee of drie maande glad nie. Ek lê in my bed en dommel in. In daardie fase waar jy wegraak maar nog bewus van jou omgewing is, kry ek opeens die gevoel dat ek geweldig vinnig val.
“Ek hoor dikwels geluide soos ’n klok wat lui of fluitgeluide of harde klapklanke.
“Ek ruik soms reuke, soos ’n ou, muf reuk. En dan kry ek intens hoendervleis oor my hele liggaam.
“Ek voel yskoud, en is heeltemal lam en magteloos om te roer. Die volgende deel is die ergste: ek voel ’n onaangename teenwoordigheid om my.”
Wat is ‘droom’ regtig?
Dr Kevin Rosman: “Baie van wat ons as deel van ’n droom ervaar, is deel van normale slaapargitektuur. Linde se droom weerspieël dit uitstekend. Om haar ervaring te verstaan moet jy eers begryp hoe die brein slaap aanmekaarsit:
“Jou slaap begin met ’n eerste fase van sowat tien minute waarin jy insluimer en nog maklik wakker word. Dan volg fase 2, waarin jy die helfte van jou slaaptyd deurbring. Fase 3 en 4 is die interessante REM en stadige-golf slaapfases waarin jy droom en jou brein op sy aktiefste is terwyl jou liggaam so te sê heeltemal afskakel. Al jou spiere, buiten jou asemhalingspiere en oogspiere, verslap geheel en al. Jou liggaamstemperatuur daal ook.
“Linde se terugkerende ervaring dui nie op kontak met ’n ander dimensie of op ’n buiteliggaamlike ervaring nie: sy is bloot hiperbewus van hoe haar liggaam afskakel in die oorgang van fase 1 na die dieper slaapfases.
“Daardie gevoel dat sy val – verbasend baie mense ervaar dit – ontstaan wanneer die brein die rugmurg ‘afskakel’ en beheer oor die spiere afgee om hulle heeltemal te verslap.
Sy ervaar hierdie verslapping heeltemal korrek as verlamming. Dit is normaal tydens slaap, anders sou jy jou drome uitgeleef het en byvoorbeeld werklik geloop het as jy droom jy stap. Sy voel ook koud omdat haar liggaamstemperatuur daal waneer sy slaap. Die res van haar droom kom uit haar emosionele brein, wat in die twee droomfases geweldig aktief is.
Allerlei fragmente van gebeure, emosies en assosiasies kom dan na vore, dikwels met klanke, kleure en reuke.
“Sulke sintuiglike droomgegewe voel absoluut werklik. Wanneer jy wakker is, is jy geanker in werklikheid en onderskei jy tussen feite en verbeelding. In die twee droomfases het jy nie ’n maatstaf vir werklikheid nie. Daarom is die gedroomde klanke en reuke so eg soos die werklikheid, en is die teenwoordigheid regtig angswekkend. Ons weet deur mense wakker te maak uit hul drome dat jy in jou drome iemand wat jy ken met ’n emosie assosieer.
“As sy dus besig was om onbewustelik te dink aan iemand of ’n stressituasie wat haar bedreig of ongemaklik maak, sal sy ’n onaangename teenwoordigheid beleef. “Dit is hier waar sielkundiges inkom. Hinderlike drome dui op stres, angs of depressie. ’n Sielkundige help jou uitpluis wat presies jou pla en leer jou tegnieke om onaangename situasies te hanteer.
“En ek wil nog iets byvoeg: vergeet van daardie droomensiklopedieë. Elke persoon het sy eie simboliek. Daar is nie iets soos universele simbole wat by almal dieselfde assosiasies ontlok nie.”
Slaappille steel jou geheue
Bo 50 en op slaappille? Dr. Rosman is sterk teen hierdie amper-standaard voorskrif vir ouer mense gekant. Hy sê hulle werk net soos rohipnol, die afspraakverkragtingsdwelm, en kort jou geheue ernstig in. Mense behoort nie slaappille meer as tien dae te gebruik nie. Jy raak dit in elk geval binne ’n week of so gewoond en slaap dus nie beter vanweë die slaappil nie; jy het net ’n nuwe slaapgewoonte aangeleer. Intussen het die slaappil ’n “vergeet”-aksie op jou brein … en skep jy ’n ernstige geheueprobleem wat jou in jou later jare gaan vang.
Navorsing onder 155 877 Amerikaanse vyftigplussers wys in elk geval dat hoe ouer ons word, hoe beter slaap ons. Dit is net in die menopouse dat vroue effens slegter slaap. Daarna, soos ons hormone nuwe balans vind, slaap ons beter as tevore. En as jy sleg slaap?
Probeer die volgende
• Laat jy te veel ure vir slaap toe? Ouer mense het minder slaap nodig.
• Dut jy bedags? Dit tel ook as slaapure.
• Is jou kamer stil en donker? Skyn straatligte in jou kamer in?
• Hou medikasie jou wakker? Lees op die pamflet of slaaploosheid as newe-effek gelys word. Hoor by jou dokter of jy jou medikasie vroeër saans kan neem.
• As jy sukkel om te slaap gaan na ’n slaap- kliniek en kyk waar jou probleem lê.