In die Genadehuis het die Groot Aftel aangebreek. Eintlik het dit al maande gelede afgeskop, maar vandeesweek is ons nou in die pylvak van Die Groot Sewende Verjaardag.
My meisiekind tel sedert laas Vrydag verwoed slapies af tot eerskomende Vrydag wanneer sy uit-ein-de-lik verjaar.
Haar Ouboet hou die aftellery geamuseerd dop en brom net onderlangs omdat hy kort-kort deur die klein snip herinner word dat hy vir ’n volle vyf weke “net een jaar ouer” as sy gaan wees. Hy is darem gelukkig al minder omgeëllie as vorige jare oor die “onregverdigheid” dat Sussie voor hom verjaar al was hy “eerste daar”.
Ja-nee. Kinderverjaardae kom met tonne opgehoopte opwinding, maar vereis ook heelwat diplomasie.
Vanjaar het dit dan ook meer as ‘n knerts diplomasie geverg aan my kant om die ondenkbare aanvaarbaar te laat klink vir die ore van ‘n amper sewejarige: “Sussie, Mamma dink nie ons gaan dié jaar ‘n partytjie hou nie…”
Die dramakwien het haar neus op ’n plooi getrek en sowat ’n uur lank gekibbel en probeer beding: “Maar, wat as ons nét ses of sewe maatjies nooi …?”
Tjaag. Fymis laaste woorde. Nadat ek my al ’n somtotaal van agt en ses kere só laat vang het, het ek darem ook al so ’n bietjie slimmer geword wat die politiek van partytjie-uitnodigings betref.
Ek het voet by stuk gehou dat daar vanjaar níé ’n partytjie sal wees nie. Ter versagting, nooi ek julle graag saam met my op ’n terugblik na die laaste week van Oktober, twee jaar gelede …
Oktober 2013
Van my goeie voornemens vanjaar om ’n 5de verjaardagpartytjie vir slegs vyf of ses prinsessies te hou, het daar danksy die sosiale vlinder aan’t huis, dadels van gekom. Of dalk eerder Hilda van 7deLaan-faam se dadelvingers – ’n effense soet-suur kombinasie van opwinding oor 31 kleuters vir ’n aansit-teepartytjie in my voorkamer, sowel as loutere hare-uit-die-kop-trek paniek.
Jy kan as’t ware sê dat ek effe teësinnig is oor die gedoente.
Maar, hoe gebeur dit dat ’n beoogde teepartytjie vir so vyf of ses maatjies skielik só uit sy nate bars? Vra ek myself ook ongeveer elke drie minute af sedert die getal genooide gaste wat bevestig het, op 29 te staan gekom het. Saam met die Genade-kroos sal daar dus einde van die week ’n somtotaal van 31 kinders – en so twintigstuks mammas – in my sitkamer kom saam jollifikasie hou.
Soos dit ’n volbloed vierjarige betaam, hou my dogtertjie al sedert haar vorige partytjie, behoorlik boek van die kwaad. Elke liewe idee en tema waaraan sy kon dink sedert haar vierde partytjie, is sorgvuldig in haar klein koppie geliasseer en is die afgelope jaar kort-kort afgestof en entoesiasties aan geskaaf. Hoe meer eklekties, hoe beter – dit was so hittete of vanjaar se vyfjarige gasvrou was ’n ballerina-Barbie met haasore.
Maar, einde ten laaste is op ’n teepartytjie besluit. ’n Koninklike aansit-affêre met fyn kolwyntjies en gepêrelde prinsesse en al.
Soos dit dan seker ook nou op speelgronde wêreldwyd gaan, is een van die hoofgeselsonderwerpe wie genooi word na wie se partytjie. En, het ons klein juffer nie behoorlik geselsies aangeknoop in dié verband nie!
Ek het al so twee maande gelede begin koppietjies en dingetjies aanskaf vir so ’n maksimum van tien maatjies.
Maar, watwou, toe ons die Groot Gastelys Gesprek so ’n maand gelede aanknoop, kom ek met ’n skok agter dat juffrou Genade aan elke liewe siel in haar kleuterskool se twee-, drie- en vyfdaggroepies ’n uitnodiging belowe het. “Want ek speel so lekker saam met hulle ALMAL, Mamma!”
Die kleuterskooljuffrou se hulp is ingeroep en sy kon so ’n handjievol maatjies identifiseer wat in die jonger groepie is en met wie ons sosiale wesentjie regtig die minimum kontak het. Wat die totaal uitnodigings steeds op 36 te staan gebring het.
Ek het dus drie weke gelede vlytig 36 teepotuitnodigings geknip… en geknip… en geplak. En nog geplak. En tussendeur die Pritt-dampe asem opgehou tot die RSVP-datum aanbreek. Sowat van ’n vrolike foongepiep het ek lanklaas beleef! Die meeste maatjies se mammas het laat weet dat hulle graag sal kom…
Ek het dus maar Kaap toe gery en nog 21 teekoppietjies en pierinkies aangeskaf, ’n springkasteel gehuur en rond en bont tafeltjies en stoeltjies geleen. Vir ’n bobaas-beheervraat is die omvang van hierdie reëlings gans oorweldigend, want ’n uur of twee voor die partytjie begin, sal daar nog geskarrel word om stoeltjies by die skool op te laai en eetgoedjies reg aan die anderkant van die dorp te gaan haal.
My ambisieuse plan om vanjaar “sommer self” die koek te bak en versier, het gelukkig so ’n week gelede gesneuwel toe die proeflopiekoek nie veel hoër as ’n pienk pannekoek gerys het nie.
Hoekom as mens ’n haarkapper vra om “net een sentimeter” af te sny, lê daar 3 tot 5 cm lokke op die vloer, maar as die kitskoekpakkie sê dit sal 3 tot 5 cm rys, is die eindproduk skaars dikker as die bakplaat se bodem?
Ek het toe maar gehou by partytjiepakkies opmaak en planne beraam om 31 kindertjies vir twee ure besig te hou sonder dat hulle die huis afbreek. My man is van mening dat dit indruis teen kinderregte om ’n kleuter aan ’n plastiekstoeltjie vas teduct tape – al voer jy hom of haar ook hoeveel kolwyntjies en stokkielekkers vir daardie uur.
As jy voor Vrydag ’n bleek-om-die-kiewe mamma iewers heen sien jaag, wuif asseblief maar net simpatiek. Sy moet nog vyftig kolwyntjies versier, glase en drinkgoed koop en die huis se vensters gaan was. Vir oulaas. Nooit, ooit, óóit weer nie.
Die jaar na die Groot Teepartytjie, het ek gedink ek is ’n bietjie slimmer en het ‘n gesamentlike partytjie vir haar en Ouboet by ’n restaurant met ’n buitespeelplek gehou. Die uiteinde daarvan was dat daar in die hooglente die aand voor die tyd sneeu op die berge geval het en die oggend van die Frozen/Lego-partytjie het 35 kinders en sowat 20 ouers druipnat opgedaag.
Terug na die hede hoop ek dus dat daar effense begrip is vir dié wrede moeder se ondenkbare voetneersitbesluit dat daar nie vanjaar vragte Fizzers in vrolike pakkies én ’n springkasteel én hordes suikerstout kinders op my jaart gaan wees nie.
Daar is darem wél drie dosyn konyntjie-kolwyntjies op bestelling vir Vrydag se klaspartytjie.
En, ons gesin sal, soos elke jaar, dapper die rooihuide aandurf. Met die verjaardagnooi se gratis Spur-bewys. Al sê sy sy “hou nie van gratis nie, want dit kan in mens se keel vassit!”