Dit is nou al weke so. Ek sit nie lekker in my eie vel nie. Ja, dis einde Oktober en my heupe voel breër as in Januarie. Ek’s onfikser as wat ek gedink het ek sal wees. Niks pas nie en ek wil nie my bo-arms vir die somer wys nie.
Ek’s kort van draad. Ek kan nie onthou wanneer laas my vriendinne gepoog het om my te nooi vir koffie of kuier nie (want, duh, ek kan dan nooit saam nie). Ek het nog nooit hierdie jaar by my ma se huis gaan kuier nie (ankerloos dryf ek, ek-mis-my-ma-en-pa). Ek is gefrustreerd as my huis- en werksmense nie byhou soos ek glo hul moet nie.
Ek kruip weg. Dieper in my dop. Sonder dat hulle sien. Wonder, ween, wroeg: hoekom is ek al een wat moet onthou wat die beskuitbestelling kos, wie op watter dag watter klere of instrumente moet pak vir skool, wie wanneer watter vak skryf, wie wanneer verjaar, watter speserye op is, watter kliënt wanneer wat wil hê, hoe elke uur, nee, elke halfuur, van die volgende drie, vier, vyf plus weke voor Kersfees lyk. . .
My skouers hang. Alles hang.
Ergste: ek skryf nie. Weke al nie. Want ek’t niks goeds om te sê nie.
Skaam jou. Sies. Ga! Ek raps myself oor die vingers. Skrams. Gewete gesus. Ek huil in die stort, of in die kar. Die hooikoors hierdie jaar erger as ooit, skerm ek. Swets stilweg oor elkeen wat hul perfekte lewens op Facebook vier.
Skaam jou. Sies. Ga!
Dit kom in drieë. Altyd in drieë.
Hy tik my op die skouer in die vliegtuig op nog ‘n donker Dinsdagoggend. ‘n Voormalige kliënt, vier jaar laas gesien. “Ons praat as ons land,” sê hy. Whatever, dink ek. Ek’s voor hom by die vliegtuig uit, skouer ‘n plekkie oop tussen siellose sakemanne in ‘n propvol bus. Ek sê mos, whatever. Dan skouer hy die spulletjie sywaarts, staan styf en vertel ‘n vier-jaar-storie in drie sinne. Was in ‘n ongeluk. Is vasgevang onder ‘n boot en kry diesel in longe. Kyk nou anders na die wêreld.
My sesjarige word sewe. Teen skemeraand kom dit: “Mamma, kan dogtertjies huil vir nonsens?” “Huil as jy wil huil, Liefkind,” troos ek. Sy huil dat die trane loop. Op haar verjaarsdag. “Mamma, dis amazing,” snik sy. “Ek dink Mammas moet ook huil oor nonsens. Dis amazing.”
Ons huil, saam-saam terwyl Simon Cowell nog ‘n X-Factor-kandidaat se lof besing. Huil sommer daaroor ook.
Dan gebeur dit. Die derde ding. Ek kry die pause-knoppie. Die donderwolke lig. Ek bel my ma, skuif my breë heupe gemaklik terug in die stoel, stoot my skouers terug en maak die week se lysie.
En ek skryf. Ek’t weer ‘n slag iets om te sê.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za