Ek word wakker met ‘n gevoel van onaardse verligting. Ek het so pas gedroom dat ek borskanker het en dat ek ‘n mastektomie gehad het. Terwyl ek die verligting so lê en indrink, word ek behoorlik wakker.
Dit was nie ‘n droom nie, besef ek met ‘n sinkende gevoel. Dit is regtig so. Gelukkig is dit darem wel Vrydag – dít het ek nie gedroom nie. Goed, nou dat ons dit vasgestel het, kan die dag behoorlik begin. In my etensuur het ek ‘n afspraak by die mense waar ek my pruike gaan koop. Al is dit nog lank voordat my hare sal begin uitval, wil ek voorbereid wees. Môre gaan ek en Jaun na ‘n Reik na Herstel-geleentheid toe. Daar sal ek sien wie die mense is wat ons saak ondersteun en ook wie my medestryders is.
Dit is met ‘n gevoel van opgewondenheid dat ek die middag by die pruikverskaffers instap. Hierdie is ‘n heel nuwe avontuur. Ek word welkom geheet deur ‘n jong man met ‘n mooi glimlag en wyse oë. Hy neem my na ‘n klein vertrekkie met baie spieëls en ‘n hele spul pruike wat in rakke teen die mure uitgestal is. Daar is net een stoel. Die enigste mense wat hier toegelaat word, is die klant en die konsultant. Meeste mense is maar ongemaklik daarmee om pruike voor ander mense aan te pas. Ek vertel vir hom wat ek in gedagte het en ek kan sommer sien hoe die ratte in sy kop draai. Hy ken sy pruike en hy weet wat sal inpas by my versoek.
‘n Uur later stap ek by die winkel uit met ‘n pragtige bos dik, blink blonde hare (Zara) en ‘n lieflike bos dik, blink rooibruin hare (Lola), elkeen in haar eie boks. Dit is sintetiese hare. Egte hare is net te duur. Die voordeel van sintetiese hare is dat mens dit nooit hoef te stileer nie en mens hoef dit net elke ses weke of so te was. Heerlik! By die huis sit ek vir Zara en Lola op mannekynkoppe en maak hulle toe in die kas. Nog ‘n voorbereidsel afgehandel. Volgende sal ek moet dink aan die wenkbrousituasie. Mens se wenkbroue en wimpers val ook uit van chemo en ek is nie van plan om soos ‘n ruimtewese te lyk nie. Ek sal moet begin navorsing doen oor salonne wat permanente grimering doen. Mens kan glo vir jou wenkbroue laat tatoëer.
Daardie middag word ek verlos van Gawie. Dit is niks seer toe die dokter die pypie uittrek nie. Onder my arm is daar nog steeds geen gevoel nie. Ek gaan hom nie mis nie, maar ek is ietwat bekommerd daaroor of my lyf oor die weg sal kan kom so sonder Gawie. Die tyd sal wel leer.
Saterdagoggend vroeg kies ek en Jaun koers Krugersdorp se kant toe waar die Reik na Herstel-geleentheid aangebied word. Daar is ‘n enorme hoeveelheid gaste – my eerste voorsmakie van die hoeveelheid steun wat borskankerlyers kry. Daar is ‘n area in die oopte waar vingerhappies en sap aangebied word. Dis heerlikste somerkos, delikaat voorgesit. Ek hou die ander gaste dop en ek probeer vasstel wie is kankerstryder, wie is oorlewende en wie is ondersteuner. Dit is moeilik. Almal lag en gesels en lyk vrolik. Hier en daar sien ek ‘n vrou met hare wat so verdun het dat mens kopvel kan sien en daar is een jong meisie wat geen hare, wenkbroue of wimpers het nie. Daar is vroue van elke ouderdom, elke sosio-ekonomiese vlak en elke ras. Borskanker is ‘n groot gelykmaker. Daar buite by die kuierkos nooi Esther van KANSA my en ‘n paar ander dames uit om deel te neem aan die Fred Astaire / KANSA-fondsinsamelingsgeleentheid. Al wat dit behels, is dat een van Fred Astaire se instrukteurs ons onderrig in baldans of Latyns-Amerikaanse dans en dat ons by ‘n formele geleentheid ons passies uithaal voor die gaste. Sal ek dit kan regkry, vra ek. Dis terwyl my chemo aan die gang is. Moenie so daaraan dink nie, maan Ina. Doen dit net. Wen die siekte, wen die chemo. Ek stem in sonder verdere huiwering.
Dit is ‘n oggend van pret en toesprake, maar vir my veral een van insig. Ek bevind my in die geselskap van sterk vroue. Vroue wat soos Amazones die oorlog voer teen ‘n geslepe vyand. Ons mag borskanker hê, maar ons raak ontslae van die siek bors(te), durf die behandeling aan en gaan aan met ons dagtake deur dit alles. The show must (and will) go on. Ek ontmoet lieflike mense soos Janita. ‘n Mooi, mooier, mooiste vrou wat vir my die borskanker-Amazone vergestalt. Daar is sagtheid en wysheid met ‘n kern van onbuigbare staal. Ek bevind my in uitstekende geselskap.