Ek word wakker uit die heerlikste droom. Ek droom dat ek net gedroom het dat ek borskanker het en dat ek net een bors oor het. Teen hierdie tyd weet ek nou al dat my onderbewussyn speletjies met my speel om die trauma te probeer verwerk. Net soos die spookpyne wat nog nou en dan lieg oor die feit dat daar nog ‘n regterbors en ‘n gewas is. Die wakker word uit hierdie drome is nie meer so erg nie en ek het geleer om my met wetenskaplike belangstelling te verwonder oor die spookpyne. Die manier waarop die mens se brein werk, is fassinerend.
Voordat ek my oë oopmaak, doen ek bestekopname. Dit is die dag ná my eerste chemo-sessie en ek verwag allerhande newe-effekte. Alles is soos Estelle dit aan my verduidelik het. Ek is naar. My mond is verskriklik droog en proe aaklig. Asof ek die hele nag lank aan ‘n stuk yster gelê en suig het. Dis seer waar die gif by die aar ingeloop het. Alles is egter hanteerbaar. Die ergste is die naarheid en daarmee kan mens plan maak.
My navorsing het my vertel dat gemmer ‘n baie goeie kuur is vir naarheid. Vir daardie doel het ek ‘n hele voorraad gemmerbier wat vir my in die yskas wag. Ek drink gemmerbier vir ontbyt en kort daarna word ek oorval deur ‘n ongekende hongerte. Ek wil slaai en vrugte hê. Nóú. Die gedagte aan ‘n gebraaide of gekookte ontbyt is afstootlik. Die res van die dag wissel die naarheid en rasende hongerte mekaar af. Daar word groot hoeveelhede gemmerbier gedrink. Tussen dit alles deur werk ek soos gewoonlik. Dis nie so vreeslik erg nie. As dit al is wat chemo aan ‘n mens doen, is ek meer as reg vir die geveg. Niemand het my vertel van die kumulatiewe effek van die chemo nie en daarom is ek op daardie dag vreeslik wintie.
Dis seker maar daardie hardekwas streep in my wat maak dat ek twee dae na die chemo my deel gaan doen by die Filmrol en Boekejolfees in Pretoria. Op dié dag het ek en skrywers van regoor die land die geleentheid om by tafels vol kuierkos saam met ons lesers te kuier. Dit beloof om ‘n gesellige affêre te wees. Ek pak vir my ‘n voorraad gemmerbier in die kar en sien in my geestesoog hoe ek my elke nou en dan verskoon en dan kar toe gaan vir ‘n skelm nippie gemmerbier om die naarheid te onderdruk.
Dalk is dit ook daardie rebelse streep wat maak dat ek verkies om op daardie dag een van my gewone bra’s aan te trek. Mens wil mos maar mooi lyk op sulke geleenthede en mooi lyk begin by mooi onderklere, het ek nog altyd geglo. Mastektomie bra’s is baie dinge. Mooi is ongelukkig nie een daarvan nie.
Die saal is propvol mense. Dis ‘n gelag en gesels uit ‘n ander wêreld. Beste van alles – daar is vars vrugte tussen die kuierkos op die tafel. Ek eet en gesels en eet en verlang na gemmerbier en voel skielik te moeg om kar toe te gaan vir ‘n paar slukkies naarheidonderdrukker. Dit is tydens ‘n interessante gesprek oor skryfmetodes dat ek besef alles is nie wel op my bors nie. Fiona the Fake Boob is nie meer waar sy veronderstel is om te wees nie. Sy is heelwat meer noord – op pad na my uitrusting se neklyn. Die mooi bra kon haar nie binnehou nie.
In my geestesoog sien ek hoe sy by die neklyn uit ontsnap en tussen die kuierkos te lande kom. Ek korrel met my een oog. As sy by haar huidige roete hou, behoort sy tussen die vrugtekebabs en die muffins te land. Wat doen mens nou? Ek oorweeg ‘n paar opsies. A) Druk hand by boesem in en korrigeer Fiona se posisie. B) Los Fiona dat sy kom kyk wat aangaan en hou gaste se reaksie dop vir latere teboekstelling. C) Staan versigtig op en gaan so onopmerklik as moontlik badkamer toe sodat daar in privaatheid ‘n streng gesprek met Fiona gevoer kan word oor die voordele van diskresie.
Ek besluit op laasgenoemde. Met my oë op die vloer gevestig stap ek badkamer toe. Fiona sit haar tog noorde toe vlytig voort. Toe ek uiteindelik voor die spieël staan, kan ek nie anders as om te giggel nie. Fiona sit in die middel van my bors – net ‘n paar sentimeter onder my ken. Wat moes die mense dink? Ek sukkel om op te hou giggel terwyl ek my probeer voorstel wat in die arme gaste se koppe moes aangaan terwyl hulle probeer om ‘n rasionele verduideliking vir hierdie gesig te bedink. Vlug! Die aliens is op ons!
Ai, Fiona.
Mastektomie bra’s is heerlik gemaklik.