Gedurende die laaste drie weke waarin ek kan leer tango is ek veronderstel om drie keer per week vir een uur te oefen. Dit werk nie so uit nie. Eers is ek siek en toe is Dante siek. Daardie lesse word uitgestel. Tydens die een oefening is my balans so swak dat ek aanhoudend omval wanneer ek veronderstel is om in die rondte te draai. Dante knip die les kort. Die lesse wat wel kan plaasvind, is net ‘n halfuur lank. Na dertig minute is ek te moeg om by die trappe af na die kar toe te stap. Die aand van die gala geleentheid is so naby dat ek die slapies kan tel en ek ken nog nie eens die hele roetine nie.
Ek is bang. Netnou steek ek vir Dante in die skande by die gala geleentheid. Hy is ‘n perfeksionis, vermoed ek. Netnou steek ek myself in die skande. En vir KANSA. En die dansskool. Wat het my besiel om dié ding aan te pak, vra ek my keer op keer op keer af. Mense wat chemo ondergaan is nie veronderstel om te leer tango nie. Ek was heeltemal te wintie.
Die dag van die gala breek aan na ‘n byna slapelose nag waarin ek die roetine oor en oor in my kop deurgaan. Ek kan nie alles onthou nie. Ek sal styf aan Dante vashou en hoop vir die beste, besluit ek.
Daardie oggend ontmoet ek die ander deelnemers by die Protea-hotel in Roodepoort. Lieflike dames. Kankeroorlewendes en dus sterk, positiewe vroue. Terwyl ons sit en koffie drink, ruil ons kankerstories uit. Die dag en datum van die diagnose, die behandeling en newe-effekte, veral die uitval van die hare. Traumaties, dié ding. Mens is nie veronderstel om fyn detail vir so lank te kan onthou nie, maar kanker is lewensveranderend.
En toe word ons bederf. Een van die borge is ‘n skoonheidsalon. Ons word gegrimeer deur kundiges en die ander dames se hare word mooigemaak. Vir my is dit maklik – ek sit bloot my pruik op my kop en trek dit reg. Ons stap op ‘n rooi tapyt by die hotel uit en word in ‘n wit Limousine na Die Plek vervoer – die plek waar ek arme Dante gaan verneder voor uitgelese gaste in aandklere. Ai.
Die saal is lieflik mooigemaak. Daar is geskenke vir gaste op die tafels. Daar is kelners wat bestellings neem vir iets te drinke, pragtige mense, dansinstrukteurs in tuxedo’s, ‘n vermaaklikheidskunstenaar wat sy tyd gratis afstaan, heerlike kos. Soveel mense en maatskappye wat baie geld bestee het en tyd gegee het om van die aand ‘n sukses te maak.
My kankersusters gee my hoendervleis van lekkerte toe hulle dans. Dis móói, soms windmakerig, plek-plek onnutsig, heerlik om na te kyk. Die gaste klap hande, juig en jil. Almal kry so lekker soos ek. Al het ek hulle pas ontmoet, is ek so trotsop my susters soos wat ‘n ma op haar kinders is.
Die laaste dans behoort aan my en Dante. Ek klou aan die arme man vas van pure vrees en om te keer dat ek te veel bewe. Die vasklouery werk soos ‘n bom. Hier en daar maak ek ‘n foutjie, maar Dante is nie verniet al vir meer as twintig jaar ‘n danser nie – hy maak reg waar ek verbrou. In een stadium, toe Dante my agteroor laat sak, voel ek hoe my pruik begin afglip. Vir die res van die dans is dit al waaraan ek kan dink. Sê nou maar die pruik val op die dansvloer en arme Dante struikel daaroor?
Skielik is die dans verby. Dante glimlag, so dit kon nie te erg gewees het nie. Die verligting is enorm. Dis eers later die aand dat die gevoel van verlies my tref. Dante en die tango was die beste ding wat ooit met my kon gebeur het presies op die regte tyd.
Die Here se planne is altyd perfek, ook in terme van tyd. My seëninge word meer, nie minder nie.